Bosman di Ravelli (1882-1967)

Jacques Loots (1925-1991)
November 26, 2020
Die Groot Trek: Hoofstuk 6 Deel 4
December 4, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Bosman di Ravelli was ’n bekende Suid-Afrikaanse pianis, komponis en skrywer.

Hy is op 24 Februarie 1882 as Jan Gysbert Hugo Bosman op die Noord-Kaapse dorp Piketberg gebore en het uit ’n musikale familie gekom. Sy broer wat tien jaar ouer as hy was, het klavier gespeel en sy suster was ’n student van die bekende musikus FW Jannasch. Hy het sy eerste musieklesse van haar af ontvang. Nadat hy die destydse matriekeksamen afgelê het, het hy ingeskryf vir ’n kursus in moderne en klassieke tale aan die Victoria-kollege op Stellenbosch, maar hy het nie die kursus voltooi nie. Die klavierspel van die Kaapse klavierspeler Appoline Niay en die Duitse komponis en klavierspeler Albert Friedenthal, wat Suid-Afrika in 1898 besoek het, het hom laat besluit om ’n musiekloopbaan te volg, hoewel sy ouers dit teengestaan het.

Op 1 Oktober 1899 het hy met die Briton na Engeland vertrek om as konsertpianis aan die konserwatorium van musiek in Leipzig opgelei te word. Hy is, ondanks sy gebrekkige musiekagtergrond as student aanvaar en hy het sy musiekopleiding onder prof. Alexander Winterberger, ’n leerling van die komponis Franz Lizst, ondergaan. Later het Bosman ook kennis gemaak met die bekende Chopin-vertolker Vladimir von Pachmann, wie se konserte hy op aandrang van sy leermeesters gereeld bygewoon het en by wie hy baie geleer het. Bosman het gou vriende in die buiteland gemaak en invloedryke mense het hom bygestaan en ondersteun. Met sy eerste optrede in Leipzig in 1902 het hy die verhoognaam Vere Bosman di Ravelli aangeneem.

In September 1905 het hy na Suid-Afrika teruggekeer om homself as konsertpianis in Suid-Afrika te vestig. In dieselfde maand het hy sy eerste klavieruitvoering in die CJV-saal op Stellenbosch, waar Friedenthal sewe jaar tevore ook opgetree het, gegee. Daarna het hy konsertreise deur die land onderneem. Hy het voorkeur aan Chopin gegee, maar ook werke van Rimsky-Korsakov, Rachmaninov, Lizst en Grieg ingesluit. Dit was, vanuit ’n finansiële oogpunt, nie ’n sukses nie. Verder het Bosman hom vir die bevordering van musiek in Suid-Afrika beywer en die oprigting van akademie vir musiek bepleit, maar dit het nie plaasgevind nie weens die gebrek aan die nodige ondersteuning.

As komponis het Bosman daarna gestrewe om musiek in ’n tipiese Suid-Afrikaanse idioom te skryf. Hy het die gedigte van drie Afrikaanse digters, naamlik Totius (“Die hoewenier”), Eugène Marais (“Winternag”) en Jan FE Celliers (“Die veldwindjie”) getoonset en só die weg vir die Afrikaanse kunslied gebaan. Hierdie drie liedere het in 1908 in die bundel Drie liederen verskyn. Hy was ook ’n teenstander van die sentimentele Sankey- en Moody-liedere as kerkmusiek in die plek van oorspronklike Psalms en Gesange. Nadat Bosman in Zoeloeland besoek afgelê het, het hy ’n studie van Zoeloe-musiek gemaak, en veral van die meer subtiele ritme van hierdie musiek gehou. Hy het in twee komposisies, “Zulu wedding chant” en “Zulu funeral chant”, daarvan gebruik gemaak. Toe Die Brandwag in 1910 die eerste keer verskyn het, het hy die musiekrubriek behartig, maar in dieselfde jaar het hy na Europa teruggekeer en tot 1955 hoofsaaklik in Engeland, Frankryk, Duitsland en Italië welslae as konsertpianis behaal.

In 1955 is sy regterarm tot so ’n mate beseer dat dit nie meer vir hom moontlik was om klavier te speel nie; daarby het hy al hoe meer doof geword. In Februarie 1956 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en hom in die Strand gevestig. Drie jaar later het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom ’n erelid gemaak vir sy bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek.

Bosman was die eerste konsertpianis wat in Suid-Afrika gebore is en internasionale erkenning behaal het. Hy was ’n baanbreker van die Afrikaanse kunslied en sy tydskrifartikels oor musiek was die eerste wat in Afrikaans verskyn het.

Bosman, wat nooit getroud was nie, is op 20 Mei 1967 in die ouderdom van 85 jaar oorlede.