Die rol wat die Afrikaanse vrou en moeder in Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het in die vorming en bestendiging van ’n eie kultuur
April 15, 2017
Oorlog en die Oorlogsmonument
April 15, 2017

(Geskryf deur JJ van Tonder, soos verskyn in Historia Junior, Mei 1961)

Daar is in elke dorp of stad een of meer poskantore. Gewoonlik is dit baie mooi geboue. Waar daar op die platteland baie mense naby mekaar woon, is daar ook ’n poskantoor. Die posdiens is ’n belangrike instelling in die moderne samelewing. Mense wil met mekaar in verbinding tree en almal wil graag een van die ander hoor hoe dit gaan of ’n boodskap oordra. Hierdie noodsaaklike verbinding tussen mense het al vanaf die vroegste rye bestaan. Dit is interessant om te lees hoe die posdiens ontstaan het en die mense boodskappe en briewe oorgedra het.

Toe die mense nog nie kon lees of skryf nie, het hulle mondelinge boodskappe van een plek na die ander met slawe, huurlinge of bediendes gestuur. Dit was veral die konings en regeerders wat dit noodsaaklik gevind het om met ander dele van hulle land in verbinding te tree. Hierdie mondelinge boodskappe is selfs so vroeg as 500 jaar voor die geboorte van Christus, in die destydse Persiese Ryk van die een plek na die ander oorgedra. Die Romeinse Keisers moes ook omstreeks 50 jaar v.C. mondelinge inligting na die verskillende dele van die groot ryk stuur en ontvang.

Die uitvinding van papier omstreeks 89 jaar na die geboorte van Christus het dit ook moontlik gemaak dat die mense kon leer skrywe. Die skryfwyse was baie eenvoudig en dit het in die begin net te doen gehad met geheime tekens en besondere soort letters. Dit het tog moontlik geword om ’n boodskap op ’n besondere skryfwyse van een plek na die ander te stuur. Dit was in daardie vroeë jare nog ’n probleem om die geheime boodskap van die een plek na ’n ander te kry. Dit word vertel dat ’n koning of ’n hoofman die kop van ’n slaaf gebruik het om ’n boodskap na ’n ander plek te stuur. Hulle het die slaaf se kop kaal en glad geskeer en toe die boodskap in geheime skrif daarop geskrywe. Toe het hulle die hare raat groei. Daarna het die slaaf na die ander persoon gegaan. Hy het die hare afgeskeer en die boodskap gelees. Die kop is weer skoon gemaak en ’n tweede boodskap is daarop geskrywe wat die draer dan na die eerste skrywer oorgebring het. Hulle het soms ’n haas ook vir die doel gebruik.

Hierdie draers van die boodskappe het nie altyd te voet hulle werk verrig nie. Hulle het ook van rydiere gebruik gemaak en moes ook soms in groepe saam ry om te verhoed dat hulle oorweldig of vermoor word. Marco Polo, die groot reisiger, vertel dat daar omstreeks die jaar 1400 na Christus in Sjina ongeveer 10 000 posstasies was waar hulle 200 000 perde vir die vervoer van posstukke gebruik het.

In daardie dae het die regeerders baie moeite gedoen om die posdraers goed af te rig om hulle werk op ’n goeie en veilige manier te verrig. So ’n hardloper moes sterk en in goeie oefening wees. Hulle het klein sakkies aan sy bene, arms, hande, skouers en sye vasgemaak. Daar is in elke sakkie ’n bietjie meel gegooi en dan moes die persoon ’n sekere afstand daarmee hardloop. Daar word dan nog meer meel ingegooi en dan moes hy die bepaalde afstand weer heen en weer draf. So hou dit aan totdat hy met die vol sakkies die afstand in dieselfde tyd Afdraf. Hy is dan sterk en neem sy plek tussen die geharde boodskapdraers.

Dit is dus duidelik dat die poswese en die manier om boodskappe en berigte van die een plek na die ander te stuur, uit die Ooste in veral Sjina afkomstig is. ’n Oosterse regeerder het een keer gesê dat sy land op vier persone staatmaak wat soos vier pilare staan, nl. ’n goeie regter, ’n bekwame polisiehoof, ’n eerlike minister van geldsake en ’n getroue posmeester.

In Europa het Frankryk die voortou geneem om ’n goeie stelsel van posverbinding in die lewe te roep. Spanne het mekaar in die dorpe afgelos om die boodskappe van een plek na die ander oor te dra. In die beginjare van die posstelsel het net konings en regeerders van die rapportryers en draers, gebruik gemaak. Later het die burgers en burgeresse van die verskillende lande ook daarvan gebruik gemaak.

Om die boodskappe nog veiliger te maak, moes die paaie ook beter en veiliger gemaak word. Dit het ook die vooruitgang van die verskillende lande aangehelp.

Die betaling en invordering van die posgeld het in die beginjare ook baie moeilikhede veroorsaak. Die posgeld was volgens die afstand wat die brief vervoer moes word en die getal bladsye bereken. Die draers was soms oneerlik met die geld. Partykeer het die persoon aan wie die brief afgelewer moes word, geweier om die posgeld te betaal. Dan was al die moeite en tyd om die brief oor te dra, nutteloos.

Daar word ’n verhaal vertel van ’n vrou wat geweier het om die posgeld vir ’n brief aan ’n rapportryer te betaal. Toe sien ’n man die moeilikheid. Hy haal toe sy enigste sjieling uit sy sak en betaal dit aan die posdraer. Die brief gee hy toe aan die vrou. Sy het nie eers vir die man dankie gesê nie, want daar was niks in die koevert nie. Dit het van haar seun gekom en hulle het gereël dat hy elke maand so ’n leë koevert aan haar moes stuur. Sy sou dan nie daarvoor betaal nie, maar dan het sy geweet dat haar seun nog lewe en dat dit met hom goed gaan.

’n Skoen en ’n klip is aan die suidpunt van Afrika gebruik om briewe in te bewaar. Daar is aanduidings dat ’n skoen met ’n brief daarin ongeveer in die jaar 1500 n.C. aan ’n boom in die teenswoordige Mosselbaai gehang het. Die bemanning van ’n skip wat daar verbygegaan het, het dan die brief gevat en gekyk watter boodskap daarin staan. Aan die voet van Tafelberg is briewe onder ’n bepaalde klip bewaar. Briewe is in ’n loodbuis of in ’n seildoek droog gehou.

Jan van Riebeeck het nie meer die posklippe gebruik nie. Die bemanning van die skepe het die briewe op die regte plekke besorg.

Vaste reëlings in verband met die posdiens is in ongeveer 1790 getref toe daar drie persone aangestel is om die possake in orde te hou. Die eerste kommissaris van die poskantoor was Van Reede van Oudtshoorn. Die naam van die posmeester in Kaapstad was Adriaan Vincent Bergh en die briewebesteller Aegidius Benedictus Zuurvogel. Die publiek moes die briewe self gaan afhaal en 5c posgeld betaal. Zuurvogel moes die briewe wat nie by die poskantoor afgehaal is nie, by die adresse aflewer en nog 2c invorder. In 1792 het die poskantoor in een maand met ongeveer 1000 briewe te doen gehad. Die regering het ’n gereelde boodskappersdiens na die verskillende dorpe ingestel. In 1803 kon die publiek ook briewe na die verskillende dorpe stuur. Die posgeld het nog altyd maar ’n probleem gebly.

In 1816 het goewerneur lord Charles Somerset posmeesters op die verskillende dorpe soos Paarl, Tulbagh, Caledon, George, Graaff-Reinet en Stellenbosch aangestel. Op die buiteplekke moes die posmeesters ook nog ander werk by die tronk of by die skool of elders verrig.

Die werk en diens wat die poskantoor in ons land lewer, het baie uitgebrei soos dit in die jaarverslag van 1958 aangedui word. Toe was daar 45 000 manne en vroue in diens van die Poskantoor. Die totale inkomste van die pos-, telefoon- en telegraafdiens het R61 miljoen (dertig en ’n halfmiljoen pond) bedra.