Boerekos en smulpape

Slawewette en die koms van die Islam
January 31, 2015
Skipbreuke en die held Woltemade
February 2, 2015

Die nedersetting aan die Kaap is begin as verversingspos, en dit het in die agtiende eeu dikwels gebeur dat besoekers uit Europa in die hospitaal beland het omdat hulle hulle aan die lekker Kaapse kos ooreet het. Sewentiende- en agtiende-eeuse reisigers deel mee dat die gegoede Afrikaners meestal smulpape was. Dit blyk uit HW Claassens se boek Die geskiedenis van Boerekos 1652-1806, wat baie misvattings oor dié kos uit die weg ruim.

Dit is ’n fabel dat dit eintlik die Oosterse slawe was wat die Kapenaars geleer het om kos met speserye voor te berei. Dit was immers deels die speseryhandel wat die Europese nasies na die Ooste laat vaar het. En dis terloops verkeerd om te meen dat die Europeërs die speserye gebruik het om die smaak van bedorwe kos te verdoesel. Die mense wat die duur speserye soos peper kon bekostig, was ryk genoeg om vars produkte te koop.

Die skrywer sê: “As ’n mens ’n geslagsregister van Boerekos sou opstel, kan die Persiese kookkultuur as die aartsvader, die Romeinse as die aartsmoeder en die Arabiese as die oudste seun aangedui word.” Dié kulture het die Hollandse, Duitse en Franse koskulture beïnvloed wat aan die Kaap gevestig is.

Die slawe was nie ’n homogene groep nie. Hulle het uit armoedige streke gekom en vir baie was kook met speserye onbekend. Van die geregte wat aan die slawe toegedig is, soos bobotie, was nie ’n Oosterse dis nie.

Wat wel by die slawe ontstaan het, is die Oosterse name soos kerrie, blatjang, sambal en sosaties. Dié woorde is egter gebruik vir ander kosse as dié uit die slawe se lande van herkoms. Hulle het Afrikaans volgens Claassens waarskynlik binnegedring uit die taal wat huishulpe dikwels gepraat het met die kinders wat hulle moes oppas.

Die slawe het ook op ander wyse ’n belangrike rol gespeel. Omdat hulle mettertyd ’n homogene groep geword het, het hulle ná die tweede Britse besetting in 1806 as bewaarders opgetree van die koskultuur wat hulle van die Hollanders geërf het.

Deur die Britse invloed het die speserye uit die Kaapse Afrikaners se kookkuns verdwyn. Die slawe en hul nasate het egter wel die ou geregte met speserye behou. Ook die Afrikaners in die noorde het ná die Groot Trek weer kruie en speserye gebruik. Maar ná die geweldige verwoesting deur die Anglo-Boereoorlog en die armoede daarna was speserye ’n luukse.

Selfs tydens die hoogbloei van Afrikanernasionalisme in die twintigste eeu, skryf Claassens, het “kokke voortgegaan om hulle kos soos dié van die Britte sonder wyn en die groot verskeidenheid kruie en speserye van hulle voorvaders te berei.” Eers in die laaste 30, 35 jaar het Afrikaners deur blootstelling aan internasionale kookkuns deur televisie en kosrubrieke kruie en speserye herontdek.

Ook ’n ou dis van die trekkers, potjiekos, het herleef. Dit was onnodig om biltong te herontdek. Hierdie kos van die armoedige veeboere is deur die hoër sosiale laag aanvaar omdat dit waarskynlik reeds in dele van die Duitssprekende gebied bekend was voor 1652. Dit was dus deel van die Europese koskultuur.

En “Boeretroos”? Koffie was teen die helfte van die agtiende eeu voor ontbyt al op die tafel van gegoede Kapenaars. Niemand het glo van die ontbyttafel af opgestaan voordat ’n stuk of ses koppies flou tee of koffie gedrink is nie!