Skoonheid om ’n stadsplein
July 17, 2018
Die slagveld wat toegewaai het
July 17, 2018

In Nederland en België dui ’n aantal straatname op die bewondering wat tydgenote van die Tweede Vryheidsoorlog vir die Boereleiers uit die worsteljare om die vryheid gekoester het. In Deventer staan die standbeeld van president M.T. Steyn. Daar is plekke wat die verblyf van president Kruger in Nederland in herinnering roep. En in die Nationale Park de Hoge Veluwe in die omgewing van Arnhem word twee boereleiers vereer, die twee Vrystaters, generaal Christiaan de Wet en president M.T. Steyn.

Die standbeeld ter ere van die gevierde Boeregeneraal deur Mendes da Costa staan in die eensaamheid van ’n uitgestrekte parklandskap en in dieselfde natuurreservaat is die President Steyn-bank te sien, vervaardig deur die bekende Vlaamse argitek en sierkunstenaar, prof. Henri van de Velde. Die bank nooi die besoeker om ’n oomblik te sit en rus.

Wie het die beeldhouer Mendes da Costa en die Vlaamse argitek opdrag gegee om hierdie monumente te vervaardig? vra ’n mens jouself af. Die antwoord op dié vraag voer ’n mens tot die geskiedenis van die totstandkoming van die Nationale Park de Hoge Veluwe en die Rijksmuseum Kröller-Müller. En dan verneem ’n mens van die lewenstaak van ’n merkwaardige vrou.

 

MEV. KRÖLLER-MÜLLER

Helena Emma Laura Juliane Müller is in 1869 te Horst, naby Essen, in die Duitse Ruhrgebied gebore.

Haar vader het na ’n verblyf van agt jaar in Amerika omstreeks 1864 na sy geboorteland teruggekeer en hom as koopman en handelaar in Düsseldorf gevestig waar hy die grondslag van die bekende firma W.H. Müller en Kie gelê het. Met verloop van tyd het dit gegroei tot ’n toonaangewende skeepvaart- en handelsonderneming in Wes-Europa, met o.m. ’n takkantoor in Rotterdam.

Foto: Dr. A.G. Kröller (1863-1941) kort voor sy dood afgeneem. (Rijksmuseum Kröller-Müller)

Anthony George Kröller se grootvader het in die omgewing van die Duitse Rynland opgegroei en na Rotterdam getrek. Sy vader, in Nederland gebore, was selfstandig in die boubedryf werksaam en sy seun Anthony George is in 1862 in die steeds uitbreidende hawe- en handelstad Rotterdam gebore.

Hy het, net soos sy broer Willem, in diens van die firma Müller getree. Nadat hy ’n tyd lank in die hoofkantoor in Düsseldorf werksaam was, is hy, as gevolg van die swak gesondheid van sy broer, met die leiding van die bedryf in Rotterdam belas.

Foto: Mev. Helena Kröller-Müller (1869-1939), ’n portretstudie van dié merkwaardige vrou deur Floris Verster (1881-1927). Dis ongeveer 1910 geskilder. (Rijksmuseum Kröller-Müller)

In 1888 het hy met sy werkgewer se dogter, Helena Müller, in die huwelik getree. Toe sy  skoonvader ’n jaar later te sterwe gekom het, het hy skielik hoof van die firma geword. Hy was 27 jaar oud. Die hoofkantoor is na Rotterdam oorgeplaas waar dit een van die staatmakers van dié moderne hawe- en handelstad geword het. In 1900 is die setel van die firma na Den Haag verplaas, waar die Kröller-egpaar hul intrek in “Huize ten Vijver” geneem het.

Tydens hul na-oorlogse besoek aan Europa is die Boereleiers in dié huis ontvang. Die Kröllers het ’n sterk sin vir regverdigheid gehad en het reeds gedurende die gerugmakende Dreyfuss-affêre in opstand gekom teen die skending van die beginsels van reg en regverdigheid.

Dit was dieselfde gevoel wat hul belangstelling laat uitgaan het na die twee Boererepublieke wat vir hul vryheid geveg het. Veral vir mev. Kröller was generaal De Wet die verpersoonliking van die onwrikbare vertroue en geloof in die goeie saak. President Steyn het sy gesien as die verpersoonliking van die wysheid.

Hierdie gesindheid verklaar dan ook hoe dit gekom het dat die skip Batavier VI van die firma Wm. H. Müller deur bemiddeling van dr. W.J. Leyds in 1904 aan die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Vereeniging afgestaan is om die stoflike oorskot van president S.J.P. Kruger na Suid-Afrika te vervoer, waar dit Tafelbaai op 1 Desember 1904 bereik het.

Mev. Kröller was ’n kunsliefhebber. Sy het begin deur Delftse erdewerk te versamel. In 1907 het sy lesse in kuns en kunsgeskiedenis by die bekende Nederlandse kunskritikus en pedagoog H.P. Bremmer begin loop. Onder sy invloed en leiding het sy kunswerke begin aankoop. Sy het veral belang gestel in eietydse kuns en in 1909 het sy haar eerste drie werke van Vincent van Gogh aangeskaf, t.w. Die sterwende sonneblom, Die saaier en die Stillewe met suurlemoene.

Die gesin het na ’n groter huis getrek in die nuwe voorstad Wassenaar, maar steeds was daar skaars ruimte vir die groeiende kunsversameling. Geleidelik het by haar die gedagte ontstaan om die versameling skilderye, beeldhouwerke, tekeninge e.d.m. in ’n groot gebou te huisves wat êrens in die ongerepte natuur die eenheid tussen die natuur, die argitektuur en die kuns sou versinnebeeld. Hierdie gedagte het sy in 1911 as volg uitgespreek: “lk bouw mijn nieuwe huis en het word een museum en zal later behoren aan het algemeen.”

Ter verwesenliking van die eerste gedeelte van hierdie gedagte, het sy argitekte gevra om planne voor te lê. Die planne wat die Duitse argitekte Peter Behrens en Ludwig Mies van der Rohe voorgelê het, het haar nie bevredig nie. Sy het daarop die bekende Nederlandse argitek H.P. Berlage (1856—1934) in diens geneem. Oor ’n tydperk van ses jaar het hy vir die Kröllers gewerk en o.m. Holland House vir die firma in Londen ontwerp en die modelboerdery De Schipborg naby Zuidlaren, Nederland. Sy eerste ontwerp vir ’n “museumhuis” dateer uit 1915.

Die resultaat was die Sint Hubertus-gebou wat vandag nog op die Kröller-landgoed “De Hoge Veluwe” te sien is— ’n yslike woning met sale om die kunsversameling te bevat.

Foto: Die oorspronklike tekening deur die argitek dr. HP Berlage van die jagkasteel Sint Hubertus op die Hoge Veluwe. Die Kröllers het dit as ’n woonhuis laat bou met genoeg ruimte om hul kosbaarhede en skilderye te huisves, maar terselfdertyd is planne beraam om ’n kunsgalery te bou. (Rijksmuseum Kröller-Müller)

Aan geld was daar geen gebrek nie, want die firma Wm. H. Müller en Kie. het aanhoudend meer sakebelange bekom. Dit het oor sy eie skeepvaartlyne beskik en ander skeepvaartondernemings verteenwoordig. Belangrike ysterertsbelange in Spanje en Swede, maar veral in Noord-Afrika is verwerf en die graanhandel met Buenos-Aires het ook gefloreer.

Die Sint Hubertus-jagslot, soos dit bekend staan, is gewy aan die legendariese beskermer van die jag en die natuur. Dis tussen 1915 en 1920 in baksteen gebou. Teen die tyd dat die jagslot te midde van die natuurskoon van die Veluwe met sy houtbosse, sandvlaktes en wildlewe verrys het, het die egpaar reeds ongeveer 13,000 morg grond besit. Aanvanklik het dit as die “Landgoed Hoenderloo” bekend gestaan. Hier het die Kröllers hulle terdeë tuis gevoel.

Maar reeds in 1916 het mev. Kröller-Müller besef dat daar nog nie genoeg ruimte vir al die kunswerke sou wees nie. Sy het in die omgewing van Sint Hubertus na ’n geskikte bouterrein vir ’n aparte museumgebou begin soek.

Sy het die bekende Vlaamse argitek, prof. Van de Velde wat van 1921 tot 1926 in haar diens was, versoek om ontwerpe voor te lê. Daar is aan die enorme gebou begin, maar die ekonomiese krisis van die na-oorlogse jare het meegebring dat die bouery in 1922 gestaak moes word. Die fondament en 1500 boutekeninge herinner vandag nog aan dié bedrywighede wat laat vaar is toe prof. Van de Velde in 1926 tot direkteur van die Brusselse “lnstitut Supérieur des Arts Décoratifs” benoem is.

Prof. Van de Velde het wel in dié jare die landhuis De Witte Raaf, die modelboerdery Harscamp en ’n pakhuis vir die firma in Rotterdam gebou, maar die uiteindelike museum, bekend as die Rijksmuseum Kroller-Müller, is eers op 13 Julie 1938 ingewy.

Foto 4: ’n Detail van die beeld afgedruk wat op ’n sonskyndag geneem is. (Rijksmuseum Kröller-Müller)

In 1915 het mev. Kröller-Müller die beeldhouer Mendes da Costa opdrag gegee om ’n standbeeld van generaal De Wet te maak. ’n Opdrag aan prof. Van de Velde om die President Steyn-bank te maak, het in 1939 gevolg.

Ten einde die egpaar se kunsskatte vir die nageslag te bewaar, is die “Kröller-MülIerstichting” in 1928 in die lewe geroep. Die doel was om ’n monument te skep en in stand te hou wat ’n beeld sou gee van die geestesstrominge van daardie tyd. “De Hoge Verluwe” met sy geboue en al is aangekoop en mev. KröIIer-Müller se kunsversameling het deel van die Stigting se besit geword. In 1935 is die landgoed teen R 160,000 aan die stigting Het Nationale Park de Hoge Veluwe verkoop en die kunsversameling aan die Nederlandse staat oorgedra.

Die egpaar het nog in Sint Hubertus aangebly en aan hulle was dit nog ’n paar jaar beskore om die verwesenliking van hul doelstellings en ideale te aanskou. Mev. Kröller-Müller is op 14 Desember 1939 oorlede, en haar eggenoot op 5 Desember 1941. Albei is op die landgoed begrawe en hul gees lewe in hul skeppings—die park, die museum en St. Hubertus—voort.

Die huidige museum wat in 1938 geopen is, was ook ’n skepping van prof. Van de Velde. In 1953 is ’n nuwe vleuel aangebou met ’n beeldesaal en ’n aula. Dit is heel gepas op die honderdste geboortedag van Vincent van Gogh ingewy. In 1956 is die Rietveld-paviljoen in die park voltooi en teen 1961 was die eerste deel van die beeldpark “Otterloo” gereed wat deur prof. dr. J.T.P. Bijhouwer ontwerp is. Die tweede deel is in 1966 geopen.

 

DIE SKILDERYVERSAMELING

Die Kröller-Müller-museum bevat ’n skilderyversameling van byna onskatbare waarde,  byeengebring deur een toegewyde en doelgerigte vrou. Vincent van Gogh se kuns word deur 91 skilderye en meer as 1 70 tekeninge verteenwoordig. Tussen 1909 en 1921 het mev. Kröller- Müller dié werke aangekoop in Den Haag (5), Brabant (29), Parys (12), Arles (23), St. Remy (20) en Auverssur-Oise (2). Van die tekeninge van hierdie groot meester is 60 tussen 1908 en 1913 aangeskaf, terwyl 112 daarna vir ’n totale bedrag van R20,000 uit die Hidde-Nylandversameling aangekoop is.

Foto: ’n Portret van dr. HP Bremmer, mev. Kröller-Müller se kunsraadgewer, deur John Rädecker, 1943. (Rijksmuseum Kröller-Müller)

Op hierdie wyse het nie slegs Nederland nie, maar die wêreld in besit gebly van ’n ongeëwenaarde versameling van meesterwerke van ’n kunstenaar wie se broer aan die kant van die Boere geveg het. Dié broer het homself in 1900 op of naby Brandfort tydens ’n aanval van koors om die lewe gebring. ’n Treffende ooreenkoms? Vincent van Gogh het op 29 Julie 1890 op tragiese wyse ’n einde aan sy lewe gemaak. Dit laat ’n mens dink aan die betekenisvolle woorde van Julius Meier-Graefe in sy Boek Vincent van Gogh (München, 1922): “Hy het heengegaan omdat hy nie verder kon voortgaan nie!”

Mev. Kröller-Müller se doel was om die oorgang van die Franse realisme na die impressionisme, die neo-impressionisme en die abstrakte kuns in haar versameling vas te lê. Vandaar die werke van Franse kunstenaars soos J.B.C. Corot, J.F. Millet, A. Renoir, P. Picasso, J. Gris, G Braque en F. Léger wat sy aangeskaf het. Uit Nederland het sy werke van J. Weissenbruch, J.B. Jongkind, Jacob Maris, Anton Mauve, F. Verster, P. Mondriaan, W. van Konijnenburg, Jan Sluyters en Charley Toorop by die versameling gevoeg. Sy het egter ook meesterwerke van alleenlopers soos James Ensor, H. van de Velde en Odilion Redon gekoop.

Haar belangstelling het terselfdertyd ook uitgegaan na die ouer meesters soos Tintoretto, El Greco, Lucas Cranash, Jan Steen…

Die versameling tekeninge behels stukke wat tot meer as 400 jaar oud is. Voorbeelde van die beeldhoukuns, Chinese erdewerk, porselein en jade, Egiptiese en Griekse kunsvoorwerpe tel ongeveer 275 stukke. Daar is meer as 1,100 litografieë en etse, waaronder werke van Daumier, Franceso de Goya, E. Manet e.s.m.

En al hierdie kunsskatte is versamel nie vir eie gewin nie, maar om die kunsliefhebber ’n kosbare dis voor te sit!

Twee van hierdie werke, ’n eensame standbeeld en ’n rusbank, huldig twee van die Republikeinse helde uit die Afrikaner se worstelstryd om voortbestaan.

 

DIE DE WET-BEELD

Joseph Mendes da Costa ( 1863—1939) was ’n bekende Nederlandse beeldhouer wat sy land met ’n aantal gedenktekens en grafmonumente verryk het. Hy het die monumentale nagestreef en was ’n vernuwer op die gebied van die Nederlandse beeldhoukuns. Da Costa het hoofsaaklik in Laren en Amsterdam gewerk.

Die opdrag om ’n standbeeld van die Boeregeneraal te midde van die ongerepte natuur te plaas, het hy meesterlik uitgevoer. Mev. Kröller-Müller het die werk in 1915 van hom bestel en die standbeeld is in 1917 voltooi en geplaas in ’n omgewing wat so ver as moontlik aan die gevierde generaal se eie land herinner.

Foto: ’n Selfportret in erdewerk deur die beeldhouer Mendes da Costa. (Rijksmuseum Kröller-Müller)

In sy studie oor Mendes da Costa het die Nederlandse skrywer A.M. Hammacher verklaar dat dit ’n beeld geword het van ’n mens wat, soos die Bybelse siener, die stem van die engele gehoor het wat hom opgeroep het om ’n volk in verdrukking aan te voer. En terwyl hy dié stem gehoor het, het hy die hand op sy hart gelê om—sonder wapens—eerbiedig maar onversaagd sy taak te aanvaar.

Eensaam staan hierdie mens teenoor die oneindigheid, maar hierdie oneindigheid ken geen swakheid nie.

Só het Hammacher dié standbeeld van die generaal en die uiteenlopende Boerekarakters aan sy voete gesien. Dit is hulle wat, as medestryders, die strydveld verken en bespied het. Hulle is oud en jonk. Bokant hulle staan die held, maar almal is verenig in dieselfde stryd, in dieselfde indrukwekkende monument met sy diepgaande simboliek. Dieper gesien, staan die held van alle tye voor ons.

Mendes da Costa het sy vertolking van generaal De Wet as sy beste werk beskou.

Foto: Mendes da Costa se standbeeld van generaal De Wet in die verlatenheid van ’n winterlandskap op de Hoge Veluwe. Let op die boerekoppe wat aan die voetstuk gebring is. (Rijksmuseum Kröller-Müller)

Hammacher het o.m. geskryf: “Historische en levende grootheid wist de beeldhouwer in zijn figuur te vereenigen. De heilige ernst en eenvoud van deze aanvaarding van een taak, plastisch uitgedrukt in stand en houding, heffen de gebeeldhouwde figuur ver uit boven de politieke en staatkundige beteekenis van den Boerenoorlog. De beeldhouwer heeft de algemeene zedelijke grootheid gezien en zoo is het beeld innerlijk en uiterlijk monumentaal-religieus kunnen worden.”

Wolke drywe oor die golwende landskap van die Veluwe. Dan breek die strale van die son deur en hul die eensame standbeeld en die monumentale rusbank in ’n sagte, verwarmende gloed. Dan kom die najaar met sy verruklike herfskleure, gevolg deur tierende stormwinde—die winter, met sy ys en sneeu.

So volg die een jaargety die ander, dié waarin die mens van die Veluwe sy skrale grond bewerk, dan dié van die golwende koringlande: die vakansietye wanneer honderde kuns- en natuurliefhebbers in die uitgestrekte nasionale park ronddwaal om die natuurskoon te bewonder, die kunswerke te aanskou…

In hierdie omgewing staan daar, soos ’n rots van alle tye, die beeld van ’n Boeregeneraal, ’n leier, die mens en Christen, Christiaan Rudolph de Wet.

En dan die bank, ’n simbool van die wysheid van ’n Marthinus Theunis Steyn, die onvermoeide stryder, denker en vader van sy volk…

Foto: Die president Steyn-bank in die Nasionale Park de Hoge Veluwe. Dis in opdrag van mev. Kröller-Müller deur prof. Henry van de Velde ontwerp. (Rijksmuseum Kröller-Müller)

Bron: Ploeger, Jan. 1969. Lantern, September: 82-87.