BOEREGEÏNTERNEERDES IN PORTUGAL TYDENS DIE ANGLO-BOEREOORLOG (1899-1902)

AFRIKANERS SE GODSDIENSBELEWING TYDENS DIE ANGLO-BOEREOORLOG: AANTEKENINGE OOR J.D. KESTELL EN A.P. KRIEL
February 27, 2017
CHIRURGIESE BEHANDELING VAN GEWONDES TYDENS DIE ANGLO-BOEREOORLOG
February 27, 2017

’n Unieke herdenkingsgeleentheid met as tema “Afrikanerperspektiewe op die Anglo-Boereoorlog” is op 29 en 30 Mei 1998 deur die FAK in samewerking met die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, in Bloemfontein aangebied. Hierdie is een van die referate wat gelewer is.

 

deur O.J.O. Ferreira

Inleiding

Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) is die eerste vyf maande deur ’n konvensionele stellingkryg gekenmerk, waartydens die Boeremagte groot oorwinnings behaal het, maar teen Maart 1900 het ’n wending met die gelyktydige verbrokkeling van al die Boerefronte gekom. Die inname van die Republikeinse hoofstede, Bloemfontein (13 Maart 1900) en Pretoria (5 Junie 1900), deur die Britse magte het nie die einde van die georganiseerde weerstand deur die Boere beteken nie, sodat lord Roberts verplig was om die stryd voort te sit om ook die res van Transvaal te verower. Die Britse oormag het gaandeweg die Boere verplig om hulle posisies te ontruim en langs die spoorweg na Delagoabaai verder ooswaarts terug te val. Hierdie aftog van die Boere het uiteindelik tot die uitwyking van verskillende groepe oor die Mosambiekse grens gelei.[1]

 

Uitwyking na Mosambiek

Diegene wat uiteindelik na Mosambiek uitgewyk het, kan in vyf groepe verdeel word:

Eerstens was daar die Kolonialers in die noordoostelike gedeelte van die Kaapkolonie en Noord-Natal wat met hulle volksgenote in die Boererepublieke gesimpatiseer het, gevolglik Britse weerwraak gevrees het en dus noordwaarts gevlug het.[2] Aan die begin van Junie 1900 het baie Kolonialers besluit om per trein of wa verder ooswaarts in die rigting van Barberton of Lydenburg te beweeg. Baie van hierdie Kolonialers het teen die einde van Julie 1900 saam met Boerekommando’s na Komatipoort getrek.[3] Dáár  het genl. J Coetzer op 1 September 1900 aan Kolonialers toestemming gegee om die Mosambiekse grens oor te steek.[4] 

Tweedens was daar die Boerevroue en -kinders wat van die platteland na Pretoria en die Witwatersrand gevlug het, maar in Julie 1900 in opdrag van lord Roberts na die vegtende Boerekommando’s vir onderhoud gestuur is. Omdat die kommando’s nie ingerig was om die vroue en kinders te versorg nie en omdat hulle die Boeremagte se krygsplanne belemmer het, het die Transvaalse regering besluit om hulle op Barberton te huisves.[5] Kort voor die Britse inname van Barberton op 13 September 1900 het ’n aantal vroue en kinders die dorp verlaat en na Mosambiek uitgewyk om gevangeneming deur die Britse magte te voorkom.[6] 

Derdens was daar die Vrystaatse en Transvaalse gesinne van burgers wat opsetlik van hulle kommando’s afgedwaal, hulle families en vee op hulle plase gaan haal en voor die Britse troepe uitgetrek het om uit die vyand se hande te bly. Teen 13 Julie 1900 het reeds meer as honderd sodanige burgers na Mosambiek uitgewyk.[7]

Vierdens was daar die Vreemdelingvrywilligers wat aan Boerekant geveg het, maar tydens die bewegingsfase van die oorlog deur die Boereoffisiere aangeraai is om oor die Mosambiekse grens uit te wyk om te verhoed dat hulle in die hande van die Britse magte sou val.[8]

Vyfdens was daar die burgers van die kommando’s wat in Oos-Transvaal geopereer het nadat Pretoria deur lord Roberts se troepe ingeneem is. Met die aanvang van die bewegingsfase van die oorlog is die Boerekommando’s in Oos-Transvaal gereorganiseer en is ongeveer 3 000 voetgangers, burgers met swak perde en burgers wat om ander redes nie kans gesien het om die oorlog voort te sit nie, na Komatipoort gestuur om hulle daar by genl. J Coetzer aan te sluit of na Mosambiek uit te wyk.[9]

Na onderhandelinge met die Mosambiekse owerheid, het die Boere-offisiere besluit dat die Boerestrydmag wat deur die Britse troepe by Komatipoort teen die Mosambiekse grens vasgekeer is, die grens moes oorsteek om gevangeneming deur die Britte te voorkom, maar met die veronderstelling dat hulle so spoedig moontlik na die Transvaal sou terugkeer.[10] Onder bevel van genl. FJ Pienaar het die Boere in die nag van 22 op 23 September 1900 die Mosambiekse grens oorgesteek.[11] Volgens internasionale gebruik is die Boere wat die Mosambiekse grens oorgesteek het, met die goedkeuring van genl. Pienaar, deur die Portugese owerheid geïnterneer en moes die burgers hulle wapens aan die Portugese afgee.[12]

 

Verblyf in Mosambiek

Die Portugese van Mosambiek was simpatiek jeens die Boere en het hulle vriendelik ontvang, maar in 1900 was huisvesting in Lourenço Marques bra skaars. Kolonialers en Boerevroue en -kinders uit Transvaal wat reeds vroeg in Lourenço Marques aangekom het, moes aanvanklik hulle intrek in spoorwaens neem.[13] Teen die einde van November 1900 is ’n tentkamp by Rubens Point vir die geïnterneerdes opgerig,[14] terwyl ander in die ou Polisiekaserne, die tronkbarakke en ’n kaserne by die see gehuisves is.[15] Boeregeïnterneerdes wat dit kon bekostig, is toegelaat om huise of kamers te huur.[16]

Die Goewerneur-generaal van Mosambiek, kol. Joaquim José Machado, en die Goewerneur van die distrik Lourenço Marques was die geïnterneerdes goedgesind en die Portugese was gasvry en welwillend, maar die Portugese owerheid was, met beperkte middele tot hulle beskikking, voor ’n moeilike taak gestel om so ’n groot groep geïnterneerdes van huisvesting, kleding, voedsel en geneeskundige versorging te voorsien. Om die Portugese owerheid hiermee behulpsaam te wees, het die Regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek ’n Commissie voor de Refugiés saamgestel. In Lourenço Marques was genl. FJ Pienaar en kmdte. HP Mostert en NJ Grobler die belangrikste Boere-offisiere, maar die verhouding tussen genl. Pienaar en die Commissie was gespanne omdat die Commissie en baie geïnterneerdes van mening was dat Pienaar nie behoorlik as ’n veggeneraal aangestel was nie.[17]

Die lewensomstandighede in Lourenço Marques was vir die geïnterneerdes vreemd en in skrille kontras met hulle eie lewenspatroon.[18] Tydens hulle verblyf in Mosambiek was die meeste Boeregeïnterneerdes betreklik passief. Hulle onsekerheid oor wat die toekoms vir hulle ingehou het, het die geïnterneerdes daarvan weerhou om in alle erns met een of ander klein bedryf te begin. Enkele vroue het wel dasse, serpe en sokkies gebrei waarin hulle graag die kleure van die Transvaalse Vierkleur ingewerk het. Om hulle op te beur het die geïnterneerdes dikwels volksliedere, psalms en gesange gesing.[19]

Na diplomatieke onderhandelinge tussen die Britse en Portugese regerings, is besluit om die geïnterneerdes op koste van die Portugese regering na Portugal te stuur. Die belangrikste rede vir hierdie besluit was omdat Lourenço Marques aan die begin van die eeu maar ’n klein hawestadjie was en nie werklik oor die nodige infrastruktuur beskik het om die geïnterneerde Boere te huisves nie. Bowendien het die Britse regering, Portugal se “oudste bondgenoot”, druk op die Portugese regering uitgeoefen om die Boeregeïnterneerdes elders heen te stuur sodat hulle nie na die kommando’s kon terugkeer nie. Daarbenewens het ’n strawwe koorsepidemie uitgebreek wat die oorplasing van die geïnterneerdes na ’n gesonder oord gebiedend noodsaaklik gemaak het. Hoofsaaklik om hierdie redes is die geïnterneerdes aan boord van die drie Portugese skepe, die Benguella, die Zaire en die Affonso de Albuquerque, na Portugal verskeep.[20] Hierdie skepe het onderskeidelik op 28 Maart, 2 April en 12 Junie 1901 in die hawe van Lissabon vasgemeer en die geïnterneerdes is met eerbetoon en uitroepe van “Viva os Boers!” (Lank lewe die Boere!) deur die Portugese in hulle midde verwelkom.[21]

 

Verblyf in Portugal

Die 1 019 Boeregeïnterneerdes in Portugal het uit 865 volwassenes en 154 kinders onder sestien bestaan. Altesaam 387 geïnterneerdes was getroud, terwyl vyf pare in Portugal in die huwelik bevestig is. Nie minder nie as 22 kinders is in Portugal gebore. Onder die geïnterneerdes was daar 127 persone van ander nasionaliteite.[22]

Die geïnterneerdes was voor die oorlog nie gewoond aan maatskaplike samedrommings nie en een van die ergste dinge tydens hulle internering in Portugal was waarskynlik die gedwonge en druk sosiale verkeer met mense van soveel uiteenlopende geaardhede en karakters. Die kenmerkende individualisme van die Boere het hierteen in opstand gekom en dikwels tot onmin in eie geledere gelei. Benewens die verskillende nasionaliteite waartoe die geïnterneerdes behoort het, was hulle ’n groep bestaande uit rykes en armes, geleerdes en ongeleerdes, godsdiensdwepers en vry denkers, ernstiges en vrolikes, kuises en onkuises, dapperes en lafaards; kortom ’n deursnit van die Boere rondom die eeuwending. Onder hierdie omstandighede was totale harmonie en onderlinge begrip onder die geïnterneerdes feitlik onmoontlik en het agterklappery dikwels voorgekom.

Die Boere is ongeveer sestien maande lank in ses plekke in die sentrale gedeelte van Portugal geïnterneer. Genl. FJ Pienaar en sy geselskap is gehuisves in die Klooster van die Orde van Christus, een van die indrukwekkendste bouwerke in Portugal waarin uitmuntende voorbeelde van die Manuelynse styl voorkom. Kmdt. HP Mostert en ’n twaalftal geïnterneerdes is in die Casa da Esperança, aanvanklik ’n monnikeklooster, maar in daardie stadium onder beheer van die Portugese militêre owerheid, in Abrantes gehuisves. Later is Mostert en sy gesin toegelaat om in ’n huis in Abrantes te woon. In Caldas da Rainha is ongeveer 350 Boeregeïinterneerdes, onder wie sestig gesinne, in die warmbronhospitaal, die Hospital Termal Rainha Dona Leonor, en die imposante militêre barakke en hospitaal, die Pavilhoes do Parque of Hospital Dom Carlos I, daarnaas gehuisves, terwyl Boeregesinne wat dit kon bekostig, toegelaat is om in die dorp huise te huur en die lede van die Commissie voor de Refugiés op eie koste in ’n plaaslike hotel, die Grande Hotel Lisbonense, tuisgegaan het. In die agterste gedeelte van die klooster van die Koninklike Abdy van Santa Maria in Alcobaça is nagenoeg 275 Boere gehuisves, terwyl ongeveer 340 geïnterneerdes in die indrukwekkende Fortaleza of Fort, die Sã Marcos-kerk en die Misericórdia-barak in Peniche onderdak gevind het. Die geïnterneerdes wat wederstrewig was of hulle aan wangedrag skuldig gemaak het, is in die Forte de São Julião da Barra buite Oeiras aangehou.[23]

Die meerderheid geïnterneerdes het ’n landelike agtergrond gehad en was gewoond aan die wydheid van die Suid-Afrikaanse veld en die isolasie wat daarmee gepaard gegaan het. Dat die Boere dus nie in Lissabon nie, maar in betreklik klein plattelandse oorde soos Abrantes, Alcobaça, Caldas da Rainha, Tomar en die vissershawe Peniche geïnterneer is, het hulle aanpassing in Portugal aansienlik vergemaklik.

Die Boeregeïnterneerdes was self vir die sindelikheid van hulle woonkwartiere en klere verantwoordelik, terwyl spesiale komitees in Nederland, Frankryk en Portugal tot stand gekom het om in hulle behoeftes aan klere te voorsien. Die Portugese manier van voedselvoorbereiding, veral die oordadige gebruik van olyfolie, het die Boeresmake en -mae nie aangestaan nie, sodat hulle spoedig die Portugese owerheid versoek het om hulle eie kos voor te berei. Die geneeskundige versorging van die Boere is deur die Portugese militêre owerheid aan voltydse mediese offisiere toevertrou en op elke plek is spesiale lokale vir siekes afgesonder. Pasiënte wat baie ernstig siek was, is na die Hospital Militar in Lissabon vir mediese behandeling oorgeplaas. Godsdiensoefeninge is met die vergunning van die Portugese owerheid gehou en di. GJ Hugo, PBJ Stofberg en AG du Toit, predikante van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, en ds. J Beijer, predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk, het die geïnterneerdes geestelik bearbei. Wat die onderwys betref, is daar in Caldas da Rainha ’n skool gestig waarin meesters J de Bruyn, RA den Ouden en C Plokhooy 171 leerlinge onderrig het, terwyl volwasse geïnterneerdes ook in die Boereskole in Alcobaça en Peniche onderrig ontvang het.[24]

Hoewel die Boeregeïnterneerdes in Portugal se fisiese omstandighede grootliks van hulle landgenote, die Boerekrygsgevangenes op die Bermuda-eilande, Ceylon, St. Helena en in Indië, verskil het, het die sielkundige en sosiale aspekte van hierdie twee groepe se lot groot ooreenkomste getoon.[25] Trouens, verwydering uit die bekende omgewing, die gedwonge versameling van ’n groot groep mense met verskillende lewens- en wêreldbeskouings, die onderwerping aan vasgestelde reëls en regulasies en die beperking van hulle bewegingsvryheid ontlok universeel ongeveer dieselfde reaksie by alle mense.[26]

Weggeruk uit die bekende milieu het hulle nietemin as vreemdelinge onder vreemde omstandighede geleef. Portugal was vir hulle ’n heeltemal vreemde land; die omgewing, die mense, die taal en kultuur was vreemd en hierdie andersheid het die aanpassing by die nuwe omstandighede aansienlik bemoeilik. Hulle aanpassingsvermoë was dus van beslissende belang tydens hulle internering, want dit het bepaal hoe hulle die nuwe omstandighede sou ervaar en verwerk. Vir party was die aanpassingsproses betreklik maklik, vir ander was dit moeilik, terwyl enkeles dit byna ondraaglik gevind het. Gelukkig was hulle as groep betreklik jeugdig. Die jongelinge en kinders het min aanpassingsprobleme ondervind, maar die ouer garde het soms in briewe en geskrifte hulle misnoeë met die vreemdheid van alles te kenne gegee.

 

Tydverdrywe van die Boeregeïnterneerdes in Portugal

Een van die grootste probleme van die Boeregeïnterneerdes in Portugal was verveling. Kmdt. NJ Grobler het dit so opgesom: “Ledigheid lyd de mens tot veele dingen wat hy niet sou doen als hy werk heb.”[27]

Min faktore het hulle meer ontwrig as die gebrek aan dinge wat hulle geestelik en fisies besig kon hou. Tog was hulle in dié opsig in ’n bevoorregte posisie in vergelyking met die krygsgevangenes elders, want hulle groter bewegingsvryheid het hulle toegelaat om aan plaaslike aktiwiteite in die Portugese dorpies deel te neem. Eintlik is dit daarom vreemd dat hulle hoegenaamd onledig en verveeld was, want die moontlikhede tot fisiese en geestelike aktiwiteit was legio. Gelukkig was daar onder die geïnterneerdes ook diegene wat geweet het hoe om hulle deur die beoefening van verskillende aktiwiteite besig te hou.

Die Portugese owerheid het die geïnterneerdes in Portugal groot vryheid van beweging toegelaat. Hulle kon vry in die dorpe en die onmiddellike omgewing rondloop, sodat die geleentheid tot aangename wandelinge volop was. Tydens hierdie wandelinge het die Boeregeïnterneerdes van Alcobaça vrugte teen lae pryse gekoop.[28] Tydens so ’n besoek van ’n paar Boere aan ’n Portugese boer het hy die “Transvaalse Volkslied” op ’n polifoon (musiekdoos) gespeel. Onmiddellik het die burgers op aandag gestaan te bewoë om saam te sing, maar met trane in hulle oë.[29] Na hulle wandelinge het hulle graag in die koelte van die bome voor die klooster van Alcobaça gesit en gesels[30] en in die nabygeleë kroegie ’n drankie gedrink. Wanneer Chris de Wet op 25 Junie 1901 in Peniche in sy dagboekie skryf “Mijn hart is verguisd in mijn binneste van wege mijn volksweën en van sterk verlangen” verwoord hy waarskynlik die gevoelens van baie van sy medegeïnterneerdes. Wanneer die verlange te sterk geword het, het die Boere die eensaamheid van die natuur opgesoek.[31] Wandelinge in die park van Caldas da Rainha was ’n gewilde vorm van tydverdryf. Verliefde paartjies het graag op parkbankies onder palmbome na murmelende waterstroompies en kunstig nagemaakte waterdiertjies van die plaaslike keramiekfabrieke sit en kyk. Soms was die wandelinge vol pret en opgeruimdheid, maar dikwels was dit ook die tyd wanneer heimweë en verlange na die vaderland en geliefdes die geïnterneerdes oorval het.[32] ’n Ander gewilde besoekpunt in Caldas da Rainha was een van die keramiekfabrieke,[33] waarin daar ’n lewensgrootte voorstelling van die “Lydensweg van Jesus” was. Dit is te begrype met watter eerbied en respek die Boere, met hulle diepgewortelde godsdienssin, hierdie beeldegroepe aanskou het.[34] Nadat die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 in Pretoria onderteken is, is die geïnterneerdes in Portugal wat dit kon bekostig toegelaat om op kort ekskursies te gaan. So het ’n paar burgers van Alcobaça byvoorbeeld nabygeleë vakansieoorde besoek.[35] Enkele Boere in Caldas da Rainha het verlof gekry om historiese plekke, soos die kloosterkerk van Batalha, te besoek.[36] Ander het donkies gehuur om medegeïnterneerdes in ander oorde te besoek.[37] Party van die Boereleiers in Caldas da Rainha het van die Portugese owerheid verlof ontvang om ander dorpe en stede soos Alcobaça, Peniche, Oporto en Lissabon te besoek.[38] By geleentheid van pres. SJP Kruger se verjaardagviering op 10 Oktober 1901 is al die skoolkinders van die Boereskool in Caldas da Rainha onder toesig van die onderwysers met vier tremwaens op ’n ekskursie na die strand geneem.[39] Wanneer geïnterneerdes oor die beperking op hulle bewegingsvryheid gekla het, was dit eintlik ’n ongegronde klagte, want in vergelyking met die krygsgevangenes was hulle besonder vry.[40] Die betreklik groot getal geïnterneerdes wat ontsnap het of pogings (sestig) aangewend het om te ontsnap, hou verband met die Boere se bewegingsvryheid.

Die Boere het dikwels voetbal (rugby) gespeel, ’n spel wat in daardie dae totaal onbekend in Portugal was en hoewel die Portugese die reëls van die spel nie verstaan het nie, het hulle die Boere met groot belangstelling dopgehou.[41] Nie lank na hulle aankoms in Caldas da Rainha nie, het die Boere in die openbare park voetbal gespeel. Die spel het spoedig baie toeskouers na die park gelok.[42] Die jong geïnterneerdes in Alcobaça het die Commissie voor de Refugié’s versoek om aan hulle ’n voetbal beskikbaar te stel, maar die Commissie wou nie aan die versoek voldoen nie en het hulle besluit so gemotiveer: “Wij zagen liever dat de jongens voor de noodige lichaamsoefening een ander spel kozen waarbij minder gevaar bestaat voor vernieling van kleeren het geen onder onzen omstandigheden een bedenklijk iets is.”[43] Krieket was ’n gewilde sportsoort onder die geïnterneerdes in Caldas da Rainha. So het die Kolonialers ’n krieketwedstryd teen die Transvalers gespeel – en verloor! Krieket het so ’n gewilde spel onder die geïnterneerdes geword dat die Commissie ’n nuwe krieketstel aan die Boerekinders in Caldas da Rainha geskenk het.[44] Ook skyfskiet was ’n gewilde tydverdryf. Die Portugese en Boere het in Alcobaça teen mekaar meegeding. Die Boere het dikwels gewen.[45] In die Forte de São Julião da Barra in Oeiras het die bevelvoerder blykbaar aan die Boere gewere en patrone verskaf om na seevoëls te skiet om aan sy seesoldate te wys hoe ’n vuurwapen eintlik gehanteer word. Volgens oorlewering het die Boere nie die bevelvoerder teleurgestel nie.[46] Op Nuwejaarsdag 1901 is ’n groot sportbyeenkoms vir die jongmense buitekant Alcobaça gereël “die zeer ten genoegen van alle deelnemers en bywoners afliepen”[47] en in Mei 1901 het die geïnterneerdes in Peniche ’n Boeresportbyeenkoms gehou, waartydens in “hartloopen” [wedloop], “gewegwerpen” [gewigstoot], “ardtapelen oprapen” [aartappelresies), hoogspring en “twee benen nael” [driebeenwedloop] meegeding is.[48] By geleentheid het van die Boeregeïnterneerdes in Caldas da Rainha donkies gehuur om strand toe te gaan.[49] Destyds was stiergevegte die nasionale sport van Portugal – dit is voordat die sokkerkoors hulle beetgepak het! Vir die Boere was stiergevegte iets nuuts. Dit was vir hulle huiweringwekkend om te sien hoedat die bulle mishandel word.[50] Op ’n vergadering in Junie 1901 het die Boere in Caldas da Rainha selfs ’n formele besluit geneem dat hulle nie die stiergevegte sou bywoon nie.[51] Dit het moontlik daarmee verband gehou dat baie van die stiergevegte op Sondae gehou is. Nietemin, baie Boere het hulle nie aan hierdie besluit gesteur nie en selfs offisiere het die stiergevegte graag bygewoon.[52]

Op Oujaar 1901 het die geïnterneerdes in Tomar in die Klooster van Christus ’n “Gezellige Avond” gehou. Volgens die kunstig versierde program is die verrigtinge met die speel van die “Transvaalse Volkslied” en die “Portugese Volkslied” deur ’n Portugese orkes begin en afgesluit. Die orkes het tydens die program ook Portugese walse, polkas en ’n masurka gespeel, wat met ’n klaviersolo en -duette en koor-, solo- en tweesang deur lede van die families Pienaar en Naudé en JF Eksteen afgewissel is. Die soort liedere wat gesing is, was byvoorbeeld “The song that reaches my heart” en “Goodbye, sweetheart, goodbye”.[53] Die jong Boere het ook ’n paar konserte in die klooster van Alcobaça aangebied, maar as gevolg van die taalverskil het hulle min ondersteuning van die Portugese gekry.[54] Orkesuitvoerings is dikwels op die markplein in Caldas da Rainha gehou, waartydens die orkes soms vir die Boere die “Transvaalse Volkslied” en die “Vrystaatse Volkslied” gespeel het – wat natuurlik emosionele reaksies tot gevolg gehad het.[55] RA den Ouden het ’n “Zangvereeniging” en koor in Caldas da Rainha gestig. Vierstemmig het hulle Kinderharpliedere, Psalms en Gesange en ook Nederlandse koorstukke gesing. Die koor was so gewild dat die Portugese later verlof gevra het om die kooroefeninge by te woon. Op 24 Desember 1901 het die koor ’n openbare sanguitvoering gelewer.[56] Veral die jong mense en kinders het Portugese liedjies baie vinnig aangeleer en kon tot in hulle gryse ouderdom die woorde en wysies onthou en het dit aan hulle kinders en kleinkinders oorgedra.[57]

President SJP Kruger se verjaardag is die aand van 10 Oktober 1901 op die markplein van Caldas da Rainha met ’n vuurwerkvertoning gevier, maar die Portugese owerheid het dit stopgesit,[58] waarskynlik omdat dit die Britse gesantskap in Lissabon aanstoot sou gee. Kersfees 1901 in Caldas da Rainha was aangenaam, danksy die klere en voedsel wat die Nederlanders vir hierdie geleentheid aan die Boeregeïnterneerdes gestuur het. Portugese dames van Caldas da Rainha het vir die Boerekinders ’n Kersparty gereël. Van Portugese kant is aan elke geïnterneerde ’n medalje van terracotta met ’n afbeelding van pres. Kruger daarop as aandenking gegee.[59]

Tot groot ontsteltenis van kmdt. NJ Grobler het die Boere in Alcobaça graag danspartye bygewoon, waar hulle met die Portugese meisies kennis kon maak.[60] Op 11 Februarie 1902 het ’n karnaval in Alcobaça begin wat drie dae geduur het en wat Asdag voorafgegaan het. Die plaaslike Portugese het almal daaraan deelgeneem. Saans is gedans en die Boere het lustig daaraan deelgeneem. Twee veldkornette is erg deur hulle mede-offisiere verkwalik omdat hulle aan die dansery deelgeneem het.[61]

Een van die grootste wynboere in die omgewing van Alcobaça het ’n wynproe op sy plaas gereël en ook van die Boeregeïnterneerdes daarheen genooi.[62] Omdat die omgewing van Alcobaça wyn geproduseer het, was wyn in die area besonder goedkoop. Somtyds het die Portugese dit selfs gratis aan die Boere beskikbaar gestel. Die gevolg was “dat velen zich op den weg der verzoeking bevinden”.[63] Baie wyn is ook in die omstreke van Caldas da Rainha geproduseer, drank was goedkoop en gevolglik is ook baie gedrink. Drinkplekke was volop. ’n Takkie wat bo die voordeur van ’n huis aan ’n spyker gehang het, het aangedui dat dit ’n drinkplek was. PC Jooste skryf dat hy nooit ’n dronk Portugees in Caldas da Rainha gesien het nie, maar dat Boere dikwels te veel gedrink het.[64] ’n Klompie geïnterneerdes in Peniche het, tot groot ontsteltenis van die besoekende predikante, van drinkpartye gehou en hulle “spaarpenningen” te dikwels aan “Bom Vinho” bestee, aangesien wyn so goedkoop in hierdie streek was.[65] ’n Twintigtal geïnterneerdes het die meeste van hulle tyd in die drinkplekke van Peniche deurgebring en veel moeite en onaangenaamheid veroorsaak.[66] Die Portugese militêre owerheid was verplig om hulle deur afsonderlike opsluiting te straf en enkeles is na herhaaldelike dronkenskap selfs na die Fort de São Julião da Barra by Oeiras oorgeplaas.[67]

Die internering van die Boere, eers in Mosambiek en later in Portugal, het bepaalde emosies by hulle gewek, reaksies ontlok en ongetwyfeld ’n onuitwisbare indruk op hulle gemaak. Die korrespondensie, herinneringskrifte en dagboeke van enkele geïnterneerdes wat behoue gebly het, getuig daarvan. Korrespondensie met geliefdes in Suid-Afrika, maar ook aan familielede en vriende elders in Portugal of in een van die krygsgevangenekampe in Indië, op Ceylon, St. Helena of die Bermuda-eilande het baie tyd van die Boeregeïnterneerdes in beslag geneem. Die ontvangs van ’n brief was ’n besondere gebeurtenis en so ’n brief is telkens herlees totdat elke woord as’t ware in die brein gegraveer was.[68] Terwyl PF (Filip) Pienaar in Tomar geïnterneer was, het hy sy oorlogsherinneringe opgeteken. Dit is later onder die titel Met Steyn en De Wet: belangnjke mededeelingen en persoonlijke ervaringen (Middelburg, 1902) in boekvorm gepubliseer en het gesogte Africana geword.[69] Van die Boeregeïnterneerdes was daar slegs enkeles wat hulle aan die skryf- en digkuns gewaag het. Onder laasgenoemdes was PF Pienaar, wat sy emosies in digvorm uitgestort het.[70]

Die Nederlandsch-Zuidafrikaansche Vereeniging (Afdeling Nijmegen en Omstreken) het vir die geïnterneerdes Nederlandse tydskrifte gestuur om te lees. Hierdie tydskrifte is met graagte in Alcobaça gelees.[71] Die boeke en tydskrifte wat van Nederland aan die geïnterneerdes in Caldas da Rainha gestuur is, is deur skoolhoof RA den Ouden in ’n “biblioteek” geplaas wat onder sy persoonlike toesig was en waar al die geïnterneerdes die leesstof kon benut. Volgens Den Ouden het baie Boere in die “aangename lectuur” ontvlugting uit hulle ballingskap gevind.[72] Onder die boeke wat uit Nederland na Caldas da Rainha gestuur is, was ’n volledige versameling van al die werke van dr. Abraham Kuyper wat hy persoonlik aan die Boere geskenk het.[73] Om die geïnterneerdes op die hoogte van wêreldgebeure te hou, is leeskringe gevorm. Die Nederlandse Perskantoor het onderneem om gereeld ’n pak koerante vir die geïnterneerdes te stuur.[74]

W v.d. M Nel het die leiding geneem om ’n debatsvereniging in Alcobaça te stig deur ’n vergadering van die geïnterneerdes met die doel voor oë byeen te roep. Tydens die vergadering het Nel se planne die wind van voor gekry. E Norval wou weet of die debatsvereniging “een geestelijk karakter zou dragen”. Die antwoord hierop was “Nee”, waarop Norval geantwoord het dat hulle in ’n kritieke tyd geleef het en dat dit nie nou die tyd vir wêreldse genietinge was nie. Kmdt. NJ Grobler het Norval gesteun en gesê dat ter wille van goeie debatvoering te veel leuens by byeenkomste van debatsverenigings vertel word en dat dit ’n sonde is. PMA Kruger het hom by hulle aangesluit en het beweer dat sodanige “neuwigheden” een van die oorsake van hulle ballingskap was. In sy repliek het Nel gesê dat die leuens wat in debatvoering ter wille van argumentvoering gebruik word, tog nie as sonde gereken kan word nie, terwyl kpl. WS Hayes daaraan toegevoeg het dat sodanige leuens met ’n wit kwas opgeskryf is en maklik uitgewis kan word. Uiteindelik is met ’n meerderheid van stemme besluit om met die stigting van ’n debatsvereniging voort te gaan.[75] In Peniche het die geïnterneerdes twee debatsverenigings gestig. Elkeen van hierdie verenigings het ’n eie weeklikse lyfblad uitgegee waarvan die name onderskeidelik Worstelaar en De Macaroni was.[76]

Hofmakery het nie agterweë gebly nie. Dat daar met die Boere se manlikheid niks verkeerd was nie, blyk uit die feit dat PF Pienaar en W Romberg van Tomar onderskeidelik na Caldas da Rainha en Alcobaça oorgeplaas is omdat hulle, volgens genl. Pienaar, “zich beide met meisjes vergrijpt” het.[77] ’n Rare affêre vir die Boerekêrels was die Portugese vryery – wat hulle glad nie aangestaan het nie! Dit het daarop neergekom dat verliefdes nooit privaat kon gesels nie; ’n gebruik wat direk in stryd met die goeie ou Boere-opsit was.[78]

Die geïnterneerdes in Peniche het verskillende dinge gedoen en bedrywe beoefen om die oorvloed tyd te verwyl. Daar was skoenmakers, kleremakers, meubelmakers, fotograwe en makers van visnette, viole, kitare en dasse. Ander weer het vir Portugese messelwerk gedoen of in hulle tuine gewerk, maar omdat die Portugese self arm was, kon hulle die Boere nie veel betaal nie.[79] Sommige van die Boeregeïnterneerdes in Caldas da Rainha het vir hulle tydkorting verskillende handwerkies gesoek. Ander het allerlei artikels uit been, hout of sigaardosies vervaardig, byvoorbeeld portretrame, stoele, werkdosies, ensovoorts. Gereedskap was maar skaars en die kuipmes was die belangrikste werktuig.[80] Die Boerevroue en -dogters het by die Portugese vroue geleer om kantwerk, die sogenaamde Peniche-kant en ook Valenciences-kant, ’n soort kloskant, te maak.[81] Dit is vreemd dat die Boeregeïnterneerdes  byvoorbeeld veel minder aandenkings as die Boerekrygsgevangenes gemaak het, terwyl die geleentheid vir handwerkies in Portugal veel gunstiger as in die krygsgevangenekampe was. Moontlik was hulle omstandighede juis te aangenaam en het dit tot geestelike en fisiese onaktiwiteit bygedra.[82] Omdat elke geïnterneerde in Portugal ’n geringe daggeld van die Portugese owerheid ontvang het, was hierdie drang om ’n bietjie ekstra geld te verdien waarskynlik baie flouer en het slegs enkeles een of ander werkie verrig om hulle daggelde aan te vul.

 

Repatriasie

Kort na die vredesluiting op 31 Mei 1902 het die Portugese regering die geïnterneerdes aan die Britse regering oorhandig sodat repatriasiereëlings getref kon word. Vreemdelinge onder die geïnterneerdes is nie toegelaat om na Suid-Afrika terug te keer nie en is na hulle onderskeie konsulêre verteenwoordigers in Portugal verwys. Nadat die aflegging van die eed van getrouheid aan die Britse Kroon op 10 Julie 1902 afgehandel is, het die geïnterneerdes aan boord van die Bavarian na Suid-Afrika vertrek. Teen die einde van September 1902 was alle Boeregeïnterneerdes reeds met hulle naasbestaandes verenig.[83]

 

Nagedagtenis en ’n nagedagte

Danksy die goeie behandeling wat die Boeregeïnterneerdes in Portugal ontvang het, het slegs sestien sterfgevalle (1,6%) voorgekom. In 1913 het die regering van die Unie van Suid-Afrika ’n sentrale monument in die Britse begraafplaas in Lissabon vir hierdie gestorwenes laat oprig. ’n Portugese klipkapper, H Miguel Prazeres, het die opdrag gekry om die monument op te rig. Die monument is uit Portugese rooimarmer vervaardig en die vorm daarvan is ’n gedenknaald of obelisk van ongeveer vyf meter hoog wat met ’n kruis bekroon is.[84] Hierdie monument in die Cemitério Ingles in Lissabon is vandag veel meer as ’n monument vir die dooies; dié gedenkteken roep gewis ’n betreklik onbekende en vergete brok kultuurgeskiedenis in herinnering. In verband met die behandeling wat die Boeregeïnterneerdes in Mosambiek en Portugal geniet het, moet daar toegegee word dat die Portugese owerhede hulleself in ’n moeilike posisie bevind het, want plotseling moes hulle volgens die bepalings van die Eerste Haagse Konvensie vir ’n groot groep mense sorg en dit terwyl hulle slegs oor uiters beperkte middele beskik het. Hoewel die Portugese Koning en regering uitgesproke pro-Brits was, het die Portugese amptenary, en veral die militêre bevelvoerders wat direk vir die beheer van die geïnterneerdes verantwoordelik was, die Boere hoflik en goed behandel en het hulle pro-Boer gesindheid telkens deurgeskemer. Die wyse waarop die Boere by hulle aankoms in Portugal deur die Portugese volk met uitroepe van “Viva Os Boers!” verwelkom is, het geen twyfel gelaat oor die pro-Boer gevoelens en simpatie wat daar onder die gewone Portugese jeens die Boere bestaan het nie.

Met die herdenking van die Anglo-Boereoorlog van 1999 tot 2002 mag ons die rol wat die Portugese, die destydse nabure van die Zuid-Afrikaansche Republiek, in dié oorlog gespeel het, nie vergeet nie.

[1] F. Pretorius, Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902 (Kaapstad, 1991), pp. 13-14.

[2] Oorlogsmuseum van die Boererepublieke (hierna O.M.B.), Bloemfontein: A. 4508 ’n Kykie in die lewe van ons moeder en ouma Catharina Magdalena de Beer (geb. Vorster), p. 3.

[3] Instituut vir Geskiedenisnavorsing (hierna I.G.N.), R.G.N., Pretoria: Dagboek van O.R. Belling, 1.6.1900, 3.6.1900 & 27.7.1900, H.P. van Straten, Saam verban: herinneringe uit die Tweede Vryheidsoorlog (Stellenbosch, 1940), pp. 29 & 40-41; O.M.B.: A. 4508 ’n Kykie in die lewe van …C.M. de Beer, p. 405.

[4] J. Ploeger, Die lotgevalle van die burgerlike bevolking gedurende die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902, III (Pretoria, 1990), hfst. 21, p. 14.

 

[5] J. Ploeger, Die lotgevalle van die burgerlike bevolking, III, hfst. 20, pp. 17-18 & 23; J.C. Otto, Die Konsentrasiekampe (Kaapstad, 1954), pp. 36-37; E. Bizzari & E. Cope, Die Italiaanse Legioen, Die Huisgenoot 21 (764), 13.11.1936, p. 81.

[6] L. Penning, De Oorlog in Zuid-Afrika III (Rotterdam, s.j.), p. 1121.

[7] B.J. Viljoen, Mijne herinneringe uit den Anglo-Boeren-Oorlog (Amsterdam, 1902), pp. 125-126; A.M. Grundlingh, Die “Hendsoppers” en die “Joiners”: die rasionaal en verskynsel van verraad. (Pretoria/Kaapstad, 1979), p. 49.

[8] I.G.N.: Verklaring van T. Keuzenkamp, Brussel, 24.5.1962, pp.  1-2.

[9] B.J. Viljoen, Mijne herinneringen uit den Anglo-Boeren-Oorlog, p. 129; R. Kruger, Good-bye Dolly Gray; a history of the Boer War (London, 1967), p. 357; J.W. Meijer, Generaal Ben Viljoen, 1868-1917 (DPhil-proefskrif, Universiteit van Pretoria, 1993), pp. 152-153.

[10] L. Penning, De Oorlog in Zuid-Afrika III, pp. 1123-1124; W. Schiele, Mit den Deutchen im Buren-Kriege (Berlin, 1901), p. 229; A.M. Grundlingh, Die “Hendsoppers” en die “Joiners”, p. 50.

[11] Vrystaatse Argiefbewaarplek (hierna V.A.B.), Bloemfontein: A. 155/68/2 Depósito os Boers, pp. 1-2; C.R.M. de F.E. Maie, Nostalgia Africana (Lisboa, 1936), pp. 25-26.

[12] R. MacNab, Journey into yesterday; South African milestones in Europe (Cape Town, 1962), p. 23; H.P. van Straten, Saam verban, p.43.

[13] H.P, van Straten, Saam verban, p. 32.

[14] H.P. van Straten, Saam verban, p. 33-36; I.G.N.: Dagboek van O.R. Belling, 30.11.1900.

[15] I.G.N.: Dagboek van O.R. Belling, 23.9.1900; W. Schiele, Mit den Deutchen im Buren-Kriege, p. 229; P.C. Jooste, Boere-krygsgevangenes in Portugal, Die Huisgenoot 26(973), 15.11.1930, p.23; V.A.B.: A.155/68/2 Depósito os Boers, p. 7.

[16] H.P. van Straaten, Saam verban, pp. 36 & 43.

[17] W.J. Leyds, Vierde verzameling (Correspondentie 1900-1902) I, I (s’-Gravenhage, 1934), pp. xxv, 27.

[18] H.P. van Straten, Saam verban, p. 45.

[19] H.P. van Straten, Saam verban, p. 33, 37-38 en 46-47; Transvaalse Argiefbewaarplek (hierna T.A.B.), Pretoria: A 1187 A.H.C. van Engelen, Lourenço Marques — Voorsitter, Nederlandse Rooikruis, Den Haag, 29.11.1900 en 30.11.1900; F.J.G. van der Merwe, Sport en spel in die Boerekrygsgevangenekampe tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 (Stellenbosch, 1992), p. 129.

[20] O.J.O. Ferreira, Boerebannelinge in Portugal, Die Taalgenoot 59 (6), Junie 1990, p. 11.

[21] D. de Klerk, The Boers in Portugal (Lisbon, 1985), pp. 64-66, 72-73 & 84.

[22] Vgl. O.J.O. Ferreira, Viva os Boersl Boeregeïnterneerdes in Portugal tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 (Pretoria, 1994), pp. 63-64.

[23] Vgl. Ferreira, Verblyfplekke van die Boeregeïnterneerdes in Portugal, 1901-1902, Restorica 17,

April 1985, pp. 33-40.

[24] Vgl. O.J.O. Ferreira, Depósito os Boers, Alcobaça, Portugal, in A. Wessels, A.W.G. Raath & F.J. Jacobs (reds.), Egodokumente: persoonlike ervaringe uit die Anglo-Boereoorlog 1899-1902 (Bloemfontein, 1993), pp. 97-98.

[25] Vgl. S.P.R. Oosthuizen, Die beheer, behandeling en lewe van die krygsgevangenes gedurende die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 (DPhil-proefskrif, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, 1975), pp. 191-232.

[26] Vgl. in hierdie verband: E. A. Cohen. Human behaviour in the concentration camps (Londen, 1953), pp. 115, 117, 125-126, 128, 130-132, 148-149, 181, 194, 208; I.J. Arntzen, Psychological observations of prisonors of war, American Journal of Psychiatry 104(7), 1948; B. Bettelheim, Individual and mass behaviour in extreme situations, Journal ofAbno rmal and Social Psychology 38(4), Oct. 1943.

[27] Nederlandsch-Zuidarrikaansche Vereniging (hierna N.Z.A.V.), Amsterdam: VIII. 28/12 N.J. Grobler, Alcobaça – J.A. van Otterloo, Nijmegen, 30.5.1902.

[28] De Kerkhode 18(28), 18.7.1901, p. 415.

[29] D. de Klerk, The Boers in Portugal, pp. 36-37.

[30] Diario de Noticias, 9.4.1902.

[31] H.P. van Straten, Saam verban, pp. 73-74 & 76-77.

[32] H.P. van Straten, Saam verban, pp. 123-124.

[33] T.A.B.: A.185 Dagboek van M. Noome, 9.4.1901.

[34] H.P. van Straten, Saam verban, pp. 85-86.

[35] Natalse Argiefbewaarplek (hierna N.A.B.), Pietermaritzburg: A. 743 Herinneringe van J.J. Maré, p. 7.

[36] H.P. van Straten, Saam verban, pp. 132-134.

[37] T.A.B.: A. 185 Dagboek van M. Noome, 6.7.1901.

[38] Arquivo Hostórico Militar (hierna A.H.M.), Lissabon: 3/17/18 Nr. 2083 P.W. Kruger, Caldas da Rainha –  Commandant, Caldas da Rainha, 3.5.1901; 3/17/18 Nr. 4012 Commandante do Depósito, Caldas da Rainha –Secretaria da Guerra, Lisboa, 8.9.1901.

[39] I.G.N.: Dagboek van O.R. Belling, 10.10.1901; O.M.B.: A.4508 ’n Kykie in die lewe van…C.M. de Beer, p. 9.

[40] Vgl. S.P.R. Oosthuizen, Die beheer, behandeling en lewe van die krygsgevangenes gedurende die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902, pp. 384-425.

[41] Vgl. S.P.R. Oosthuizen, Die beheer, behandeling en lewe van die krygsgevangenes gedurende die Anglo-Boereoor1og, 1899-1902, pp. 384-425.

[42] D. de Klerk, The Boers in Portugal, p. 41.

[43] V.A.B.: a.155/68/I W.J. Geerling, Caldas da Rainha – N.J. Grobler, Alcobaça, 20.8.1901.

[44] I.G.N.: Dagboek van O.R. Belling, 20.9.1901 en 18.1.1902.

[45] D. de Klerk, The Boers Portugal, pp. 37-38.

[46] D. de Klerk, The Boers in Portugal, p.52.

[47] V.A.B.: A.155/68/2 Depósito os Boers, p.34.

[48] J.J. Roodt-versameling, Posbus 263088, Drie Riviere, 1935: Dagboek van H.J. Roodt, Peniche, pp. 50-51

[49] H.P. van Straten, Saam verban, pp. 131-132; T.A.B.: A.185 Dagboek van M. Noome, 3.8.1901 en 27.9.1901.

[50] H.P. van Straten, Saam verban, pp. 91-92; O.M.B.: A. 4508 ’n Kykie in die lewe van…C.M. de Beer, 149.

[51] I.G.N.: Dagboek van O.R. Belling, 10.6.1901.

[52] T.A.B.: A. 185 Dagboek van M. Noome, 24.6.1901, 29.6.1901 en 15.8.1901.

[53] A. van der Hoven-versameling. Eerstelaan 58, Lambton, Germiston, 1401: Programma van Gezellige Avond, Convento d’Chri sto, 31.12.1901.

[54] K. Roodt. Boerekrygsgevangenekampe (in die Ooste en in Portugal), Die Huisgenoot 25(960), 16.8.1940, p.23.

[55] H.P. van Straten, Saam verban, p. 94.

[56] N.Z.A.V.: Argief H.J. Emous 1/A.8 J. Beijer, Caldas da Rainha – H.J. Emous, Amsterdam, 17.12.1901: P.C. Jooste. Bocre-krygsgevangenes in Portugal, Die Huisgenoot, 20(973), 15.11.1940, p.25; H.P. van Straten, Saam verban, pp. 120-121; Rudolf Opperman-versameling, Darrenwood Village 103, Privaatsak X5, Linden, 2104: R. A. den Ouden, Caldas da Rainha – P.J. Shutte, (Onbekend), 10.8.1901.

[57] Skriftelike mededeling: Mnr. Tom Webster, Posbus 1146, Bedfordview, 2008, 4.11,1991; Mondelinge mededeling: Dr. J.D. Kriel, Departement Antropologie en Argeologie. Universiteit van Pretoria, Pretoria, 0002, 11.3.1994.

[58] I.G.N., R.G.N., Pretoria: Dagboek van O.R. Belling, 10.10.1901.

[59] O.M.B.: A.4508 ’n Kykie in die lewe van… C.M. de Beer, p. 9; J. Ploeger, Die lotgevalle van die burgerlike hevolking III, hfst. 22, p. 13.

[60] I.G.N.: G/BP. 10 N.J. Grobler-versameling: N.J. Grobler, Alcobaça – Mev. S.H.F. Grobler, Johannesburg, 18.1.1902.

[61] V.A.B.: A. 155/68/2 Depósito os Boers, pp. 49-50.

[62] D. de Klerk, The Boers in Portugal, p. 39.

[63] De Kerkbode 18(28), 18.7.1901, p. 415.

[64] P.C. Jooste, Boere-krygsgevangenes in Portugal, Die Huisgenoot 20(973), 15.11.1940, p. 25; T.A.B.: A. 185. Dagboek van M. Noome, 5.8.1901.

[65] De Kerkbode 18(25), 27.6.1901, p. 376.

[66] De Kerkbode 19(16), 24.4.1902, p. 184.

[67] A.H.M.: 3/17/18F Depósito d’Emigrados Boers: Registo Disciplinar, Peniche, 1901.

[68] H.P. van Stratcn, Saam verban, p. 75.

[69] V.C. Wood, Ons en Portugal, Lantern 14(3), Maart 1965, p. 102.

[70] Dr. en mev. Jan Picard-versameling, Thomaslaan 820, Arcadia, Pretoria, 0083: Gedigte van P.F. Pienaar, Portugal, 1901-1902.

[71] N.Z.A.V.: VIII. 28/12 N.J. Grobler, Alcobaça – J.A. van Otterloo, Nijmegen, 28.3.1902 en 30.5.1902.

[72] N.Z.A.V.: VIII. 28/12 R.A. den Ouden, Caldas da Rainha – J.A. van Otterloo, Nijmegen, 6.6.1902.

[73] Ploeger, Die lotgevalle van die burgerlike bevolking III, hfst. 22, p. 46.

[74] N.Z.A.V.: Argief H.J. Emous I/A. 8 J. Beijer, Caldas da Rainha – H. J. Emous, Amsterdam, 17.12.1901.

[75] V.A.B.: A. 155/68/2 Depósito os Boers, pp. 31-32.

[76] De Kerkbode 19(16), 24.4.1902, p. 184.

[77] V.A.B.: A. 155/68/1 F.J. Pienaar, Tomar – N.J. Grobler, Alcobaça, 1.2.1902.

[78] H.P. van Straten, Saam verban, pp. 95-96.

[79] Die Kerkbode 19(16), 24.4.1902, p. 184.

[80] H.P. van Straten, Saam verban, p. 131; I.G.N.: Dagboek van O.R. Belling, 30.10.1901; Skriftelike mededeling: Mnr. G. Roux, Privaatsak X 530, Letsitele, 0885, 30.5.1989.

[81] K. Roodt, Boerekrygsgevangenekampe (in die ooste en in Portugal), Die Huisgenoot 25(960), 16.8.1940, p. 23; H. P van Straten, Saam verban, pp. 87-88.

[82] D.J. du Toit, Vindingrykheid om geld te verdien, Die Huisgenoot 19.4.1946, pp. 31 en 35.

[83] J. Ploeger, Die lotgevalle van die burgerlike bevolking gedurende die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 III, Hfst. 22, pp. 51-58.

[84] Vgl. O.J.O. Ferreira, Viva os Boers!, pp. 180-186.