Boekresensie: Op pad

Die Klein Prinsie nou ’n oudioboek
April 16, 2018
Tannie Poppie kook weer
April 16, 2018

Resensie deur Petronel Fourie

Dana Snyman se reisjoernaal wat in Augustus 2017 vrygestel is, bestaan uit twee uiteenlopende dele. Die eerste deel beskryf ’n reis wat afgelê is vir die maak van ’n televisieprogram, maar die reis wat Snyman beskryf, is in werklikheid innerlik van aard. Byna ’n geloofsreis. Deel twee is korter en het rugby as tema. Dit is in ligter luim geskryf, hoewel dit nie heeltemal los van deel een staan nie.

Die boek raak talle ernstige temas aan. Terwyl Snyman die land deurkruis, worstel hy met belangrike vrae oor sy herkoms, sy rol en plek as Afrikaner in die ou en nuwe bedeling, sy toekoms in hierdie land. Hy worstel met sy pa, sy eie identiteit, die rassekwessie, selfs met God, alles vanuit ’n diep persoonlike plek. Op ’n plek skryf hy dat hy glo dis onmoontlik om te vergewe en te vergeet en vra dan ’n belangrike vraag: “Is dit nie beter om te vergewe en te onthou nie?”. Dié gedagte vind ook meermale neerslag in sy vertellings.

Die reis is ’n soeke na hoop, te midde van soveel wanhoop wat op die langpad sigbaar en soms tasbaar is. Snyman wonder in ’n stadium wanneer die hoop ’n mens beskaam en onthou dan ’n nota wat sy predikant-pa in sy toerits-Bybel by Romeine 5 gemaak het: “Hoop is moeilik”. Tog vind hy hoop op onwaarskynlike plekke, en dít is wat die reis – en die boek – die moeite werd maak. Hy vind hoop in ’n rondloperhond, in helpende hande langs ’n pap band, selfs in Nkandla. Oral op sy reis sien hy armoede en swaarkry, maar hy sien ook die onvernietigbaarheid van die menslike gees en die hoop.

’n Sterk tema in die boek is gebed – die nood daarvoor in ons land, die gebrek aan die regte woorde, die struikelblokke in die pad van opregte geloof en gebed vir die skrywer self. Hy haal vir Ferdinand Deist aan om antwoorde op sy geloofsvrae te gee. “Om ’n keer na te dink oor jou verhouding met ander mense, om jou intens in te leef in hul rou seer en so werklik medemens te wees, dit is gebed …”.

In sy soeke na identiteit beskryf Snyman Afrikaners in Suid-Afrika tans as in ’n “liminale” tydperk – ’n tydperk waarin die vorige identiteit agtergelaat word en ’n proses om ’n nuwe identiteit aan te neem van stapel gestuur word. Om die bekende agter te laat en oor ’n drumpel te tree na iets nuuts, iets onbekends. Snyman se reis in dié boek is simbolies van die “liminaliteit” wat hy beskryf en hy bevind homself telkens op daardie drumpel.

Op pad is nie ligte leesstof nie, maar dis beslis stof tot nadenke. Dis ’n eerlike en nugtere soeke na die positiewe te midde van soveel negatief. Die leser sal met heelwat van Snyman se ervarings en emosies kan identifiseer, en weer van sommige verskil. Jy sal neerslagtig raak met die lees van die boek, kwaad voel, medelye toon en hartseer word, maar ook die lig aan die einde van die tonnel sien – hoe naby of ver dié lig is, hang hoofsaaklik van jou perspektief af.

Lees Op pad met ’n oop gemoed en lê die reis saam met Snyman af. Jy mag dalk net verbaas wees oor die bestemming wat jy bereik.

 

 

The post Boekresensie: Op pad appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico

Comments are closed.