Jakkie vier twintig jaar
June 5, 2018
Digter ontsnap in hoë hakke en kappie – en dis nie al nie
June 5, 2018

Resensie deur Petronel Fourie

In hierdie boek (geskryf deur James-Brent Styan), wat ter 50ste herdenking van die wêreld se eerste suksesvolle hartoorplanting op 3 Desember 1967 gepubliseer is, word Chris Barnard se openbare en private lewe in oënskou geneem. Sy prestasies as hartsjirurg dien as hooftema, terwyl sy vriendskappe en verhoudings met bekendes wêreldwyd – van Sophia Lauren tot Pous Paulus VI – en sy openlike weersin in die apartheidsregering ook gedek word.

Barnard se kinderjare en vroeë familielewe dek die tafel vir sy latere suksesse én mislukkings. Sy grootwordjare bied aan die leser insig en begrip vir die man wat hy sou word – die eggenoot, die openbare figuur, die sjirurg. Sy pa was liefdevol, terwyl sy ma se ambisieuse geaardheid hom gedryf het om te presteer. Die skrywer bespiegel ook dat sy ma se invloed tydens sy vormingsjare moontlik tot die vermeende emosionele vlakheid gelei het wat mense in latere jare in Chris se houding teenoor vroue waargeneem het.

Die Groote Schuur-navorsingseenheid, met Barnard aan die hoof, het teen die einde van die 1950’s en vroeë 1960’s reusebydraes tot opehart-sjirurgie gelewer, met vooruitgang in die behandeling van verskeie hartsiektes. Barnard het vir baie jare navorsing gedoen en die navorsing van ander prominente sjirurge gevolg voordat hy eindelik die eerste hartoorplanting uitgevoer het.

Die aanloop tot die eerste hartoorplanting  op Louis Washkansky met die verskeie rolspelers word op verteerbare en interessante wyse behandel – van die mediese spanlede tot die ontvanger en skenker van die hart en die omstandighede wat tot die operasie gelei het. Hoewel Washkansky 18 dae na die hartoorplanting oorlede is, het een van die hartspanlede gesê: “Ons het Everest uitgeklim. Volgende keer sal ons weet hoe om af te kom.”

Barnard is onkant gevang deur die mediastorm wat na afloop van die hartoorplanting losgebars het. Hy is wêreldwyd as held op die hande gedra en is byna verafgod. Hy het in die kollig gefloreer en baie oorsee gereis, waar hy in bekendes se kringe verwelkom is. As deel van die glanslewe het hy keer op keer geswig voor die versoeking om verhoudings met vroue aan te knoop. Dié swakheid het hom drie maal in die skeihof laat beland.

Die media het algaande vir Barnard oor sy politiek of sy persoonlike lewe begin kasty, eerder as om hom te onthou vir sy mediese deurbrake. Veral sy politieke uitsprake was so omstrede dat dit waarskynlik tot ’n sluipmoordaanval op hom gelei het. Teen die tyd dat hy in 1983 op 61-jarige ouderdom weens erge artritis afgetree het, het baie Suid-Afrikaners al die rug op hom gedraai. Tog was die veld van hartsjirurgie met sy aftrede een van die groot suksesverhale van geneeskunde.

Die skrywer het insette van al die oorlewende rolspelers in die eerste hartoorplanting probeer kry om die verhaal so volledig as moontlik oor te vertel. Hoewel die vertelling plek-plek ietwat melodramaties oorkom en die volgorde waarop inligting in die boek weergegee word nie altyd logies voorkom nie, pas die stukke van die legkaart tog op die ou end inmekaar. Styan poog ook om dié biografie met die gebruik van aanhalings, insetsels en foto’s – waarvan ’n paar nog nooit gepubliseer is nie – in te kleur.

Aan die negatiewe kant is die boek se titel myns insiens sensasioneel en misleidend, waarskynlik bedoel om die aandag te trek, maar dan om die verkeerde redes. Die inhoud dra meer gewig as wat die titel suggereer. Die subtitel vergoed tot ’n mate hiervoor, maar pas weereens nie by die hooftitel nie.

Die boek onderspeel ook dít wat Barnard as sy belangrikste werk beskou het, by die Rooikruis-kinderhospitaal. “As ek eendag onthou moet word, onthou my vir die werk wat ek op kinders gedoen het. Ek beskou dit as my grootste sukses.”

Dié boek is verdienstelik, in die lig van die 50ste herdenking van die eerste hartoorplanting, hoewel aanhangers van Barnard en van biografieë met reg fout sal vind.