Enkele besonderhede oor die Slag van Bloedrivier
August 3, 2015
Geskiedkundige militêre prestasies van die Boere
August 3, 2015

Geskryf deur A Cierenberg, soos verskyn in Historia Junior, Mei 1958.

Daar kom die beeste nou aan laer toe. Kyk hoe rooi hang die stof in die lug! “Hiernatoe, Rooies!”

“Keer vir Witvoet,” skree die jong seuns en die sweep klap. Almal is besig. Oral trek blou rokies in die aandlug op.

Hmm … heerlik ruik die braaivleis. “Seker lekker soutribbetjie,” dink Faans. Hy stap wa toe.

“Jy’s laat, Faans!” raas tant Ralie, “ons eet al amper.” Oom Gys braai die ribbetjie.

“Naand Ma, naand Pa,” groet Faans. Tant Ralie werskaf by die vuur. Sy het ’n groot sis voorskoot aan.

“Ag, Faansie, my kind, gaan haal tog nog water. Ek glo nie hier is genoeg vir koffie nie.” Faansie vat die vaatjie en stap weg. By die waens groet hy.

Almal maak klaar om te eet. Daar loop ou Piet en Herklaas van oom Manie ook. Vinnig draf hy om by hulle te kom.

Toe Faans terugkom by die wa, is dit al sterk skemer. Gou bring hy die veldstoeltjies nader.

Tant Ralie gaan sit in die stoel met ’n sug. Nou is almal daar. Bennie en klein Marie sit sommer op die grond.

“Kom, my kind, kom sit aan,” sê tant Ralie.

“Ja, Ma,” antwoord Faans en gaan sit. “Ma, kan ek daardie vet stukkie vleis kry, Ma?” vra hy en wys na die skottel.

Skielik sien hy sy pa kyk na hom.

“Faans! Ek wil dank!” Oom Gys se stem is streng.

“Ja, Pa, ekskuus, Pa,” skuldig laat Faans sy oë sak.

Oom Gys bid in Hollands.

O Heer, voor spys en drank
Zeg wij Uwe lof, eer en dank.
Amen.

Tant Ralie begin kos uitdeel. Niemand praat nie. By die ander waens word ook nou geëet. Nadat almal klaar is, dank oom Gys met ’n kort gebed.

Faans spring op.

“Ek gaan gou na Herklaas toe, Ma.”

“Ja, Faans, maar wees tog daar vir Boekevat,” maan sy moeder.

“Goed, Ma. Kyk daar kom tant Siena ook nou aan.”

Oom Gys gaan by die ander mans ’n pypie stop en so ’n rukkie gesels.

Pof, pof, trek hulle aan die pype.

“Naand, Ralie,” groet tant Siena toe sy by haar kom.

“Naand, Siena.”

“Ag ek sukkel tog so om op die wa te kom. Vanmôre nog het ek vir Gys gesê om hier vir my ’n kassie neer te sit. Vandat die jig so pla, is dit alte moeilik om op en af te klim.”

Moeisaam sukkel tant Ralie van die wa af.

“Maar mens, ek het tog so ’n goeie raad vir jig. Net ’n bietjie rooilaventel en so ’n paar druppels wit dulsies in boegoesalf. Daar is niks beter nie,” sê tant Siena en vou haar hande op haar skoot.

“Ag ek sal dit sekerlik probeer, Siena. Nou kyk nou weer daardie kinders!”

“Janie … ie … ie …!” roep tant Ralie. “Kom nou dadelik aan. Toe, julle ander ook!”

“Ja, mens” sug sy, “’n mens weet ook nie wat die dag van môre gaan oplewer nie. Kom ons stap maar aan. Daar loop die Kommandant ook al.”

“Naand, Jan, … naand, sus Bet, … naand, Hermien, hoe gaan dit met die ou kleintjie se oortjies?” groet hulle die ander mense.

“Maar, Jannie, sal julle nou kom!” skree tant Siena weer.

Die kinders dra nou veldstoeltjies vir die grootmense aan. Almal is nou daar.

Dit word stil …

By die vuur staan die kommandant.

Faans kyk na sy breë skouers en groot bos baard.

“Darem ’n dapper man, dié kommandant van hulle,” dink hy.

Tap10_BoekevatOp sy skoot het hy die Bybel. Hulle het ook so ’n Bybel in die wakis. As sy pa die Bybel oopmaak om te lees, dan ruik ’n mens die boek. Hy weet self nie mooi nie … dit ruik so na ou papier of so iets.
Daar is ’n geparste blommetjie ook in as boekmerkie.

Die kommandant staan op.

“Ons sing vanaand almal saam uit Psalm 75,” dreun sy diep stem en hy sit ook sommer in. Almal sing. Faans ken die Psalm goed.

Toe almal weer sit, bly net die kommandant staan. Hy kyk so ’n keer oor die mense en vee met sy hand oor die blaai van die Bybel. ’n Paar ooms kug.

Dan begin hy voorlees.

Faans luister mooi. Sy pa sal later vir hom vra waarvan die kommandant gelees het. ’n Lang stuk lees hy.

Dan maak hy die Bybel toe.

“Laat ons bid.”

Al die mans staan op. ’n Babatjie begin huil. Nog is daar ’n paar oomblikke stilte. Dan begin hy ernstig te bid.

Die nag is skielik so stil. Nie eers ’n jakkals huil nie. Al die hoofde is gebuig. Daar is so baie gevare. Daar word gedank vir beskerming en gevra vir hulp in die toekoms. Nadat hy amen gesê het, is daar nog stilte …

Weer word ’n Psalm opgegee.

“Pryz den Heer, met blyden galmen …” sing almal saam. Twee versies word gesing. Die laaste noot word uitgerek en bly op die aandlug hang.

Almal gaan sit. Hier en daar begin iemand praat. Stadig begin almal uitmekaar gaan. Die kinders gaap lang gape. Herklaas, wat heel tyd stil langs Faans gesit het, gaan ook nou slaap.

“Toe, Faans, bed toe,” jaag oom Gys hom aan, “môre moet ons vroeg-vroeg uit.”

“Vriend, vriende!” roep die kommandant skielik. “Net ’n oomblikkie, asseblief. Sal al die verkenners tog net gou hiernatoe kom!”

Die jong mans draai terug na die kommandant toe.

Oral wens die mense mekaar ’n goeienag toe.

“Nag, Maans … nag, Siena … nag, ouma …”

Môre is ’n nuwe dag.