Boekbespreking: Apartheid’s Bastard Child

FAK-Sangbundel internasionaal bekendgestel
Maart 19, 2018
Filmresensie: Meerkat Maantuig
Maart 20, 2018

deur Hélène Opperman Lewis

Duisende boeke en verhandelings is oor die afgelope eeu oor die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) geskryf – die een so merkwaardig soos die ander. Telkens word nuwe vertrekpunte geneem en die oorlog en sy oorsake van alle kante bekyk. Pas het ’n boek verskyn waarvan ek nog geen gelyke aangetref het nie: Dit is die visie van ’n sielkundige wat vanuit haar vakgebied haar vertrekpunt neem om die oorlog te ontleed. Sy ondersoek nie net die sielkundige impak van die oorlog op Suid-Afrikaners én Britte van daardie laat-Victoriaanse era nie, maar kyk ook na die nagevolge van die konflik, wat steeds in die psige van die mensdom, hier en elders, woed.

Hélène Opperman Lewis, ’n praktiserende kliniese sielkundige woonagtig op Barrydale, middeljarig, getroud en die moeder van twee kinders, het sowat twee dekades gelede navorsing begin doen vir ’n doktorale verhandeling oor die ontwikkeling van ’n maatskaplike bewussyn onder Afrikaners. Toe het sy die eerste keer diepgaande kennis gemaak met die fynere nuanses van die Anglo-Boereoorlog en sy nagevolge.

Hoe dieper haar navorsing gestrek het – dit het onder meer die bestudering van die dagboeke van konsentrasiekampslagoffers ingesluit – hoe ontstellender het sy die onthullings gevind: Juis omdat so min werklik daaroor bekend is. Sy het onder meer vasgestel dat die intensiteit en omvang van die wreedaardige mishandeling van Afrikanervroue en -kinders aan die hand van Britse soldate, koloniale lojaliste die inheemse swart en bruin huurlinge van die Britte, nie naastenby in gepubliseerde boeke en verhandelings onthul is nie. Daar is eerder ’n sluier van stilswye en ontkennings oor, onder meer, die verkragtingsmisdade teen die vroue en kinders én die besmetting van hierdie slagoffers met verwoestende veneriese siektes (waarvoor indertyd geen mediese kuur was nie) getrek.

Na afloop van die oorlog het die Britse vlag oor Suid-Afrika gewaai en het die oorwinnende Empire selfs tot ná Uniewording tot en met 1948 steeds die septer geswaai. Die derduisende slagoffers van die oorlog is vier dekades lank nooit die geleentheid gebied om die louterende heling van katarsis oor die oorlogstrauma te bereik nie. Daar was geen waarheids- en versoeningskommissie nie. In teendeel, die smart, lyding en vernedering wat oor so ’n wye front van die Afrikanergemeenskap gestrek het, is na sy kollektiewe onderbewussyn onderdruk – waar dit bly groei en gedy het totdat die Afrikaners die verkiesing van 1948 gewen het en die landsregering deur die Nasionale Party oorgeneem is.

Toe eers het die gemeenskaplike opgekropte woede die geleentheid gekry om via die kanaal van die Apartheidsbeleid tot uitbarsting te kom. Behalwe dat die Afrikaners hulle nou fisiek kon afsonder van hul skuldenaars, het daardie gemeenskappe wat gedink het dat hulle skotvry afgekom het van hul wandade teenoor die Afrikaners gedurende die ABO, die slagoffers van apartheid geword.

Ironies is die Engelse gemeenskap, wat die swaarste las van aanspreeklikheid weens hul vername Brits-lojalistiese rol in die ABO eintlik moes dra, geheel en al vrygespreek – en kon die kopgroep ongebreideld hul opponerende rol in die Parlement en op straatvlak verder voer totdat in 1994 die mag uit die hande van die Afrikaners gewring en die septer aan die “slagoffers van apartheid” gegee is. 

Die boek, Apartheid’s Bastard Child  (Apartheid, die buite-egtelike kind van Brittanje), is in wese die sielkundige hipotese dat apartheid as misdaad teen die mensdom – soos deur die Verenigde Nasies verklaar – vierkantig op die skouers van Brittanje en die Britse Ryk geplaas behoort te word. Deur sy verskroeide-aarde-strategie in die oorlog om die Afrikaners te oorrompel en van hul ontsagwekkende goud- en diamantskat te beroof, was die Britse Ryk inderdaad skuldig aan ’n groter misdaad jeens die mensdom – waarvoor hy nooit aanspreeklikheid aanvaar óf boete gedoen het nie.  

Lewis trek ’n vergelyking met gevallestudies in die Sielkunde van kinders wat in die geheim van hul ouerhuis deur ’n ouer of ouerpaar mishandel word. Wanneer hierdie mishandeldes uiteindelik wasdom bereik en hul ouerhuis verlaat, word hulle om die beurt die mishandelaars van hul eie weerlose kinders of ondergeskiktes. Die onverwerkte trauma van langdurige en ernstige mishandeling lei daartoe dat die mishandelde mens inderdaad ’n dubbelle slagoffer van mishandeling word: Hy of sy is by bevryding van die lydingsituasie glad nie in staat om los te breek van die jare lange, intense en diepgewortelde trauma én die gevolglike sporadiese onbeheerste woede-aanvalle (as bevryde) op weerlose medemense nie.

Om die intensiteit van die Afrikaner-trauma op die spoor te kom, het Lewis argiewe, verhandelings, boeke en ander bronne gefynkam vir getuienis van ernstige mishandeling – fisiek, geskrewe en verbaal – teenoor die Afrikanergemeenskap (in die Victoriaanse era “Boere” genoem) sedert 1795, toe Brittanje die Kaap die Goeie Hoop met oorlogsgeweld  binnegeval en oorrompel het.

In daardie opsig lees die boek soos ’n inventaris van Britse geweldpleging op haas elke vlak teenoor die Afrikanergemeenskap oor meer as ’n eeu. Net hiervoor behoort die boek vir elke hoërskoolkind van elke gemeenskap in die land verpligte leesstof te wees. Lewis dra haar boek inderdaad aan elke Afrikanerkind op, maar die feit dat sy dit in Engels geskryf en gepubliseer het, dui daarop dat sy eintlik wil hê dat dit vir elke kind in die land – en ook in Brittanje, Europa, Amerika en Australië – toeganklik moet wees.

In ’n onderhoud wat ek met die skrywer gehad het, het ek haar mening gevra oor die plaaslik vervaardigde rolprent Krotoa, wat tans wêreldwyd versprei word, waarin Jan van Riebeeck ten onregte as ’n kinderverkragter, egbreker, grondrower, dief en geweldenaar uitgebeeld word. Die vervaardiger-span van hierdie leunagtige klug is almal Engelssprekendes, met bande wat na die ou Boerehaat-establishment terugstrek.

Lewis, wat die rolprent gesien het, beskou dit as ’n faset van dieselfde Britse mishandelingskultuur wat die Afrikaners sedert 1795 aan die hand van die Britse vervolger en verdrukker ervaar het.

“Dit is ’n feit dat Van Riebeeck, hoewel hy nie ’n Afrikaner was nie, tog ’n bepaalde gemeenskap verteenwoordig – die Afrikaners – en is hy by assosiasie ‘Afrikaner’. En dis krities. Waarom word ’n kru, mensonterende misdaad, soos verkragting, leuenagtig in die rolprent gebruik? Hierdie is, na my mening, ’n wraakstelling, waarmee die vervaardigers heel gemaklik blyk te wees dat miljoene mense oor die wêreld heen mislei word. Die gemak en sogenaamde onskuld waarmee dit gedoen is, laat ’n mens verstom staan. Sou dit aanvaarbaar wees dat ’n rolprent oor, byvoorbeeld, oud-pres. Nelson Mandela gemaak word waarin hy ten onregte as ’n kinderverkragter uitgebeeld word? Vir wie sou dit aanvaarbaar wees? Waarom is dit enigsins aanvaarbaar om enige voorbeeldige persoonlikheid ten onregte na sy dood op so ’n kru wyse te beswadder? Dit is oneties. Die skrywer en rolprentmakers van Krotoa het pas die sirkel voltooi: Hulle is die nuwe geslag vernederaars. Met die rolprent verkrag hulle ‘metafories’ die kollektiewe geheue van die Afrikanergemeenskap.

 Apartheid: Britain’s Bastard Child is ’n lesersvriendelike boek in sagteband, en 512 bladsye dik. Dit is van ’n inhoudsopgawe, register en bronnelys voorsien. Vra dit aan by enige goeie boekwinkel.

Marthinus van Bart

[email protected]