Blye vooruitsigte

Verskillende bestemmings
March 25, 2015
Waarskuwings en voorbodes
March 27, 2015

Teen die einde van 1837 het dit dus gelyk of daar ’n toekoms vir die trekkers is. Ná die onderhandelinge met Dingane was daar in Natal ’n vooruitsig van grondgebied. En terwyl die onderhandelinge in November in Natal aan die gang was, het ’n kommando onder Potgieter en Uys (Maritz was siek) wes- en daarna noordwaarts oor die Gatsrand na Mosega opgeruk. Daar het hulle die Matebele van 4 tot 12 November in ’n negedaagse slag totaal verslaan en verdryf. Op die negende dag het 12 000 Matebele-vegters weerstand gebied. Sommige het op veg-osse met skerpgemaakte horings gery, maar dié beeste het meer verwarring onder hul eie mense geskep as onder die vyand. Daarna het Mzilikazi met die grootste deel van sy onderdane gevlug – eers die Kalahari in en daarna noord na die huidige Zimbabwe.

Sonder dié oorwinning van Potgieter en Uys sou die trekkers hulle moeilik oor die hoëveld wes van die Drakensberge kon vestig. Hulle het gehelp om van die Groot Trek ’n sukses te maak. ’n Onplesierige nadraai van die veldtog was dat daar by Deelkraal naby Gatsrand onenigheid oor die verdeling van die buitgemaakte beeste ontstaan het. Potgieter en Uys wou hê dat diegene wat aanvanklik sulke swaar verliese gely het, voor verdere verdelings eers vergoed moes word. Maritz was van mening dat hulle reeds ná die ekspedisie vroeër die jaar skadeloos gestel is en die buitvee gelykop verdeel moes word. Potgieter se standpunt het geseëvier. Gelukkig was die twis nie ernstig nie, en die drie leiers het ooreengekom om ook na Natal te gaan. Potgieter en sy mense het sonder geesdrif op Maritz se spoor gevolg en was in Januarie 1838 verder wes as die ander trekke wat intussen aan die Tugela gaan staan het.

Op 11 Januarie 1838 was Piet Retief en ’n klein kommando terug van hul ekspedisie na Sekonyela. Saam met hulle was ’n aantal Zoeloekapteins, wat ongewapen en vermom was en by Sekonyela gaan vra het om deur sy gebied te mag trek. Een van hulle wys hom sy mooi “armbande” –  waarmee hy hom plotseling boei. Sekonyela was magteloos, sy volgelinge oorbluf, en sonder om bloed te vergiet, is die beeste uitgelewer. Tot verbasing van die Zoeloes is geen wraak geneem nie. Dingane sou hulle almal vermoor het. Die krygslis met die boeie was Sekonyela se verdiende loon. Toe sy mense die beeste geroof het, het hulle met klere en gewere van wit mense, en uitroepe van “Maboela! Maboela!” die indruk probeer wek dat hulle Boere is.

Nou kon die trekkers hul ooreenkoms met Dingane beklink. Maar wie en hoeveel sou hom besoek? ’n Volksvergadering is op 16 Januarie 1838 gehou. Maritz het aangebied om te gaan, maar Retief het die vergadering oortuig dat as dit iemand anders as hy is, die Zoeloes maklik sou dink die Boere is bang. Ook oor die grootte van sy mag was daar meningsverskil. Met meerderheid van stemme het die vergadering besluit dat Retief met sowat 100 weerbare manne sou gaan.