Blokhuis, Wellington

Die Kerkgebou, Ned. Geref. Sendinggemeente, Wagenmakersvallei
January 19, 2018
Groenbergskool, dist. Wellington
January 19, 2018

Sommige historiese gedenkwaardighede in die Bergriviervallei verbind die geskiedenis daarvan met dié van die verre binneland. Dit is veral waar van die blokhuis aan die Bergrivier op die plaas Versailles, tussen die hoofpad na Hermon en die treinspoor hy die noordelike uitgang van Wellington.

Die Anglo-Boereoorlog het drie jaar lank voortgesleep. Vroeg in 1901, ’n paar maande nadat Kitchener die bevel van die Britse magte oorgeneem het, het die blokhuisstelsel begin vorm aanneem. Oorspronklik is beoog om deur middel van die oprigting van blokhuislinies ’n beskermde gebied rondom Pretoria te skep en om die spoorweë te beveilig. Trapsgewys is die stelsel uitgebrei. In Julie 1901 is ook die strategiese paaie beset en nog later is die vernaamste gevegsterreine deur blokhuislinies in sektors afgekamp om op dié wyse die guerrilla-oorlog wat na die val van Pretoria aan Republikeinse kant begin is, te beëindig.

Die blokhuise is eers omtrent drie km en later meestal een km uitmekaar gebou sodat die een van die ander af gesien kon word. Daar is gehoop om op dié wyse die beweeglike Republikeinse magte in groepies af te sonder en onskadelik te maak. Die gewone blokhuis het twee konsentriese sinkplaatmure gehad met ’n laag grond in die tussenruimte en het op ’n kunsmatige heuweltjie gestaan met doringdraadversperrings rondom. Die gestandaardiseerde onderdele kon maklik aanmekaargesit word en daar kon drie (in uiterste gevalle tot ses) blokhuise per dag gebou word. Die bemanning van so ’n ronde blokhuis was sewe.

Genl. Christiaan de Wet was een van dié wat hierdie stelsel later met minagting veroordeel het aangesien dit baie minder doeltreffend geblyk het as die goedkoper stelsel om ’n gebied wat beset was, met troepe te omsingel en die sirkel nouer te trek totdat die betrapte magte gevange geneem was. Hierdie blokhuise het hulle natuurlik nie tot instandhouding geleen nie en baie van die sinkplaat en doringdraad is na 1902 vir die Britse repatriasieskema in die Vrystaat en Transvaal gebruik.

Daar was egter ook ’n veel stewiger en duursamer tipe blokhuis, opgerig vir die verdediging van sleutelposisies soos brughoofde, ingange na dorpe, e.s.m. Hulle is dan ook vandag nog ’n bekende gesig langs die vernaamste Suid-Afrikaanse spoorweë en die blokhuis te Wellington behoort tot hierdie tipe. Hierdie blokhuise is van klip gebou, was dubbelverdiepings, waar hulle slegs met lere kon inkom en is van werpgate voorsien ten einde verdediging teen nagtelike aanvalle te vergemaklik. Hulle waarde het o.a. daaruit geblyk dat daar gedurende die tydperk waarin Kitchener die bevel gevoer het, geen belangrike brûe deur die Republikeinse magte vernietig is nie.

Hoewel hierdie blokhuise vir spesifieke doeleindes gebruik is, het hulle nogtans ingeskakel by die netwerk van duisende blokhuise wat teen 1902 oor die Republieke, Natal, Betsjoeanaland en. die Kaapkolonie gestrek het. Hierdie linies kan kortliks soos volg uiteengesit word:

In die Kaapkolonie: Van Lambertsbaai aan die weskus van die Kaapkolonie, na Clanwilliam en vandaar na Calvinia (in aanbou Mei 1902), en dan van Williston na Carnarvon, Victoria-Wes en tot by die hooflinie van Beaufort-Wes na Warrenton. ’n Los linie het geloop van Wellington (waar die geproklameerde blokhuis die spoorweg ten noorde van die stasie beskerm het) noordwaarts deur Porterville tot by Modderfontein. Tussen Wellington en Beaufort-Wes was oral verspreide garnisoene en militêre poste met blokhuise op strategiese punte soos by Tulbaghweg.

Van De Aar het ’n blokhuislinie geloop tot by Noupoort en deur Rosmead na Cradock. Uit hierdie linie het ’n ander van Middelburg deur Steynsburg na Molteno gestrek.

Van Queenstown het ’n linie deur Molteno gestrek na Burgersdorp en verder tot oor die Oranje na Bethulie. ’n Oostelike uitloper het langs die rivier geloop na Aliwal-Noord en Lady Grey. Hierdie streek was die invalspoort vir die Republikeinse magte en daar was poste en garnisoene buite die linies te Bethulie, Venterstad, Stormberg, Lemoenfontein, Myburgh, Jamestown, Maraisburg, Dordrecht en Indwe.

Die groot blokhuislinie van Noupoort af na Colesberg en Norvalspont het al langs die spoorweg na Bloemfontein en Kroonstad gelê. Benoorde Kroonstad was dit besonder versterk tot by Vereeniging en op hierdie trajek (wat De Wet se geliefkoosde deurbreekplek was) het ook pantsertreine gepatrolleer. Die “ruggraat” van Noupoort na die noorde het deur Johannesburg na Pretoria tot in Pietersburg gestrek.

In die Vrystaat was daar van Wolwehoek (benoorde Kroonstad) ’n linie na Heilbron, Frankfort, Tafelkop, Vrede, Bothaspas en tot by Mount Prospect in Natal. Van Vereeniging het ooswaarts ’n linie aan die Vrystaatse kant van Vaalrivier geloop met ’n aansluiting na Greylingstad. Van Kroonstad was ooswaarts ’n derde linie na Lindley, Bethlehem en Harrismith tot by De Beerspas in die Drakensberg. Die netwerk van die noordoostelike Vrystaat is voltooi deur ’n linie van Bethlehem oor Fouriesburg na Ficksburg en ’n ander van Bloemfontein oor Sannaspos na Ladybrand. Dan was daar in die westelike Vrystaat vestings en poste van die Kimberley-spoorlyn al langs die Modderrivier en van Kimberley oor Boshof en Bultfontein na Winburgweg met ’n blokhuislinie na Winburg. Van Vaalrivier was ’n verdere linie oor Hoopstad na Winburgweg.

Langs die westelike grens van die republieke was daar van Warrenton oor Mafeking tot benoorde die Molopo pantsertreine en militêre poste.

In Transvaal was die linies meesal in die suide, en ook nie oral langs spoorweë nie. Van Mafeking was ’n blokhuislinie oor Lichtenburg na ’n punt besuide Ventersdorp. Dan was daar ’n blokhuisvierhoek van Ventersdorp na Klerksdorp, na Potchefstroom en ’n punt benoorde Frederikstad. Van Potchefstroom het ’n linie na Krugersdorp en tot by Springs gestrek, en ’n ander van Potchefstroom na Rustenburg, op die Magaliesberg langs tot by Pretoria en vandaar al langs die Delagoabaaispoor tot by Kaapmuiden waar dit met ’n pantsertrein tot by Komatipoort aangevul is. In Oos-Transvaal en die Hoëveld (genl. Botha se operasiegebied), was daar nog linies van Machadodorp na Lydenburg; van Kaapmuiden na Barberton; van Wonderfontein (wes van Belfast) na Carolina en Ermelo met ’n uitloper na Amsterdam; van Ermelo na Standerton en ’n vestinglinie wat van suid na noord gestrek het van Greylingstad na Standerton en tot by Groot-Olifantsrivier, wes van Middelburg. Dan was daar ’n belangrike linie van Johannesburg langs die spoor tot by Volksrust (versterk met pantsertreine) en verder oor Wakkerstroom en Piet Retief ooswaarts na Derby.

Ook Natal het sy linies gehad; van Volksrust suidwaarts na Newcastle, en van Vryheid na Dundee.

(Geproklameer 1937)

 

Foto: Blokhuis, Wellington • Staatsargief, Kaapstad

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 93-94.