Blokhuis, Laingsburg

Sterrekundige Gedenkwaardigheid, Touwsrivier
September 25, 2019
Watermeul, Prins Albert
September 25, 2019

Van Touwsrivier loop die nasionale pad deur die rantewêreld en heuwelland tot by Laingsburg. Veertien km noord van die dorp, waar die pad en die spoorweg oor ’n tak van die Buffelsrivier gaan, staan een van die besbewaarde blokhuise uit die Anglo-Boere-oorlog (1899-1902).

Hierdie blokhuis behoort tot die tipe wat op sleutelposisies, veral brughoofde, opgerig is. Dit is ’n dubbelverdieping-klipgebou met skietgate in alle rigtings. Die ingang kon alleen deur middel van ’n leer bereik word en hierdie leer is gedurende die nag en tydens ’n aanval opgetrek sodat die aanvallers die blokhuis nie kon binnedring nie. Dit is deur dertig soldate beman.

Hoewel hierdie blokhuis met die spesifieke doel opgerig is om die brug te beskerm, het dit nogtans ingeskakel by die linie wat van Wellington na Beaufort-Wes geloop het.

In hierdie vaal Karoo staan dié blokhuis as ’n onwerklikheid, maar vir die kenner van die Suid-Afrikaanse geskiedenis versinnebeeld dit die driejarige worsteling tussen Brit en Boer toe die Republikeinse magte selfs tot in die hartjie van die destydse Kaapkolonie deurgedring het.

(Geproklameer 1965)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 179.