Blokhuis, Battery en Geskut, Houtbaai

Kronendal, Houtbaai
December 13, 2017
Clifton-natuurreservaat, Clifton
December 13, 2017

Dit was nie slegs om die houtbosse dat die Kompanjie en later die Engelse regering in Houtbaai belang gestel het nie, maar ook omdat dit as ’n alternatiewe ankerplek vir skepe kon dien wanneer Tafelbaai onveilig was en bowenal omdat dit as ’n moontlike landingsplek deur vyandelike skepe gebruik kon word. Daarom is daar teen die einde van die 18de eeu vestingswerke opgerig eers aan die westekant, byna aan die voet van Hangklip, en later aan die oostekant, in die skaduwee van Chapmans-piek.

In 1775 het die Amerikaanse Kolonies teen die moederland, Engeland, in opstand gekom. In 1778 het Frankryk en in 1780 die Nederlande die Kolonies gesteun en teen Engeland oorlog verklaar. Laasgenoemde het ’n oorlogsvloot gestuur om die Kaap te beset, maar Frankryk, wat nou die bondgenoot van Nederland was, het hom voorgespring en ’n garnisoen by die Kaap aan wal gesit. Een van die Franse regimente, die Pondicherry-regiment, is nou gebruik om aan die westekant van Houtbaai “een battery van 20 stucken canon te leggen”. Die meeste 54 van die kanonne is van skepe gehaal, terwyl die burgermilisie van Swellendam in die nabyheid geplaas is om in die geval van ’n vyandelike landing met die verdediging te help. Na die oorlog het die battery waarskynlik verval geraak. In 1794 tydens die Franse Revolusionêre oorloë is weer eens aan die verdediging van Houtbaai aandag gegee. Die ou battery is deur drie batterye met die name “Sluysken”, “Gordon” en “Kleine Gibraltar” vervang.

Die vestingswerke aan die oostekant van Houtbaai is tydens die eerste Britse bewind opgerig. In 1796 het Craig alhier ’n versterkte blokhuis laat oprig. Dit was 8,5 meter lank, 6 meter wyd, en drie verdiepings hoog en binne van magasyne en watertenks voorsien. Onderkant hierdie kaserne was ’n battery van vyf agtienponders asook vyf houthutte as huisvesting vir die manskappe.

In 1804 was die batterye al weer in verval en die Bataafse bewind was verplig om die een te hernuwe en die ander te herbou. Die oostelike battery het nou die naam “Gilquin” en die westelike die naam Zoutman gekry. Die name is tans weer in gebruik geneem om die terreine aan te dui.

Na die tweede Britse besetting van die Kaap het die proses van verval hom weer herhaal en in 1827 is selfs die blokhuis van die oostelike battery tesame met ander fortifikasies op die Skiereiland in opdrag van die Kaapse regering gedemonteer. Albei batterye is dus vervalle, maar tog hoogs belangrike oorblyfsels uit ons militêre geskiedenis. Sommige van die oorspronklike ou kanonne is nog te sien. Daar is 24-ponders waarop die datums van 1756 tot 1759 op die affuitasse te lees is. Op sommige is die V.O.C.-monogram en op ander ’n devies wat daarop dui dat dit moontlik Franse kanonne is wat in 1781 deur die Pondicherry-regiment daar gebring is.

(Geproklameer 1936 en 1939)

 

John R. Brown • Bouvalle van Oosbattery • William Fehr-versameling
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 55.

Foto: John R. Brown • Bouvalle van Oosbattery • William Fehr-versameling

 

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 54.