Bloeitydperk van Nasionalisme

Hertzog wen ’n verkiesing
January 22, 2015
Afrikaans word ’n amptelike taal
January 22, 2015

Die nasionalisme van die 1920erjare was taamlik inklusief – so ruimdenkend ook dat vooraanstaande nasionale Afrikaners hulle in ’n groot kerkstryd geskaar het aan die kant van J du Plessis, professor aan die Kweekskool op Stellenbosch. Hy is deur die Kaapse NG Kerk weens onregsinnigheid geskors. Baie het Du Plessis gesien as martelaar wat gely het onder die vervolging van die kerk. Onder Nasionaliste wat saam met “Sappe” soos generaal Smuts en FS Malan in 1930 op ’n noenmaal hulde aan Du Plessis gebring het, was doktor DF Malan, JHH de Waal, JG Strydom (latere eerste minister), Paul Sauer en die kultuurleier NJ van der Merwe. Die letterkundige, professor EC Pienaar, het studente met Celliers se “Daar’s ’n nasie te lei / Daar’s ’n stryd te stry” geïnspireer. Die meeste Transvaalse predikante was aan Du Plessis se kant.

In die woord nasionalisme het vir die Afrikaner alles wat edel en goed was, opgesluit gelê, sê Scholtz. Jong mense wat onder bekoring van nasionalisme gekom het, het “gebrand van begeerte om hul land en volk op die verskillende terreine van die lewe te gaan dien.”

Die Pakt-regering het die inisiatief geneem met die skepping van ’n yster- en staalindustrie, want, soos GD Scholtz dit stel, die groot kapitaliste was deur die bank Britse imperialiste by wie die ongeskrewe beginsel gegeld het dat niks in Suid-Afrika gedoen mog word wat vir die ekonomiese lewe van Brittanje nie tot voordeel sou strek nie. Die Yster- en Staalnywerheidswet is in 1928 aanvaar ondanks teenkanting van die SAP – en dit het die weg gebaan vir die totstandkoming van Yskor (tans Iscor). Die eerste voorsitter daarvan was die elektrotegniese ingenieur doktor Hendrik van der Bijl. Hy is na ’n briljante studietyd in Duitsland en sewe jaar ondervinding in Amerika in 1920 deur generaal Smuts aangestel as tegniese raadgewer van die departemente van mynwese en nywerheid. Van der Bijl het geglo dat die land se toekoms as nywerheidsland afhanklik is van twee faktore: goedkoop staal en goedkoop elektriese krag. Hy was die eerste voorsitter van Evkom (tans Eskom), die elektrisiteitsvoorsieningskommissie in 1923.
Gou het Yskor die goedkoopste staal ter wêreld gelewer. Dit het veral vir die Afrikaner nuwe werk gebied.

Dit was die taak van die Minister van Binnelandse Sake, doktor Malan, om te sorg dat die tweetaligheidsbeleid uitgevoer word. Die meeste staatsamptenare was Engels en baie het net dié taal geken. Vroeër het elke poging om by die aanstellings in verantwoordelike betrekkings te sorg dat die amptenare tweetalig moet wees, teenstand uitgelok van Engelssprekendes. Die tweetaligheidseis is strenger toegepas, en só is baie Afrikaners algaande in hoë poste benoem, want die tweetaliges was oorwegend Afrikaners. In Maart 1925 het doktor Malan gesê dat daar nog byna 3800 eentalig-Engelse amptenare uit ’n totaal van 13 000 was. In die eerste drie jaar van die Pakt is feitlik net soveel Afrikaans- as Engelssprekendes in die staatsdiens aangestel. Selfs in 1927 was daar nog baie in hoë posisies wat geen Afrikaans geken het nie. In Desember 1933 het Piet Hofmeyr uit die Staatsdienskommissie bedank weens bevordering van eentaliges in die staatsdiens.