Bitterheid van die verlede

Gelukslae en ’n suksesverhaal
January 23, 2015
Politieke krisis
January 23, 2015

Die jare 20 was op politieke gebied nooit rustig nie. In die vroeëre jare 30 het die spanning selfs toegeneem. Onder ’n groot groep Engelssprekendes van Natal het ’n beweging ontstaan om van die res van Suid-Afrika af te skei omdat hulle ontevrede was dat die grondwetlike tweetaligheidsklousule ook dáár toegepas is.  Verder is, veral in Transvaal, ’n onverkwiklike stryd gevoer oor die boek War, Wine and Women deur Wilfred Saint Mandé. Daarin het een van die karakters die Voortrekkers grof belaster. Dit was een van verskeie boeke (onder andere van sir H Rider Haggard) sedert die negentiende eeu waarin die Afrikaners in ’n slegte lig gestel is.

Ewe erg het Afrikaners dit ervaar dat hul lyding verkleineer en as leuenagtig voorgestel is. ’n Herrie het ontstaan oor iets wat sir Arthur Conan Doyle, skepper van die Sherlock Holmes-speurverhale, gesê het. Hy was in die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika en het in 1928 met ’n besoek aan Bloemfontein ook na die Vrouemonument gaan kyk. Hy het na die monument gewys en verklaar dat dit ’n leuen is. ’n Verslaggewer van Die Volksblad het die hoofberig van die volgende dag daaroor geskryf. ’n Kwaai polemiek het gevolg, en die Bloemfonteinse geneesheer uit die oorlog, dokter Otto Krause, het gesê dat baie Afrikaners oortuig was dat die Britse metodes in die konsentrasiekampe ’n opsetlike poging was om die Boere uit te roei.

Van dié tyd af was die konsentrasiekampe dikwels onderwerp aan polemieke.  Party Engelssprekendes was heilig daarvan oortuig dat die inskripsie op die monument lui: “Ons sal nooit vergewe en ooit vergeet nie” terwyl daar in werklikheid staan “Uw wil geschiede” en “Ik zal u niet begeven Ik zal u niet verlaten”. In 1999 het selfs ’n Afrikaanssprekende lid van die ANC in die Parlement verklaar dit is: “Ons sal nooit vergewe en vergeet nie”!

Een van die grootste onstuimighede oor die verlede was dié oor War, Wine and Women, wat onder ’n skuilnaam verskyn het. Toe die identiteit van die skrywer, HP Lamont, bekend raak, het vier jong Pretorianers wat afstammelinge van die Voortrekkers was, hom gevang, geteer-en-veer en by die kerkplein in Pretoria gelos. Hulle is skuldig  bevind aan aanranding en elk gevonnis tot £50 boete of ses maande dwangarbeid. Afrikaanse koerante het geldinsamelings vir die beskuldigdes begin, en Langenhoven het hulle verdedig. “As ons praat van ’n gesonde openbare mening […] dan soek ons dit by ’n volk met so ’n algemene eergevoel dat daar altyd van sy kinders sal wees om sy geskonde eer te wreek.”

Aan die tweetalige Universiteit van Pretoria het die Lamont-saak groot verdeeldheid veroorsaak. Dit het ook daartoe bygedra dat die Universiteit in 1932 besluit het om Afrikaans te word. Tot in daardie stadium is Afrikaans as onderrigtaal erg afgeskeep. Sommige dosente, ook Afrikaners, was daarteen.  Onder hulle was professor Leo Fouché, professor in geskiedenis. Hy het aangehou om sy lesings in Engels te bied en die senaat het toe twee ander dosente, doktor M Bokhorst en doktor SP Engelbrecht, aangestel. In 1934 is hy deur die toedoen van genraal Smuts aan die Universiteit van die Witwatersrand aangestel.