Moordspruit
July 27, 2015
Nog dapper kinders
July 27, 2015

deur CR Swart.

Oom Wynand Bezuidenhout het met sy familie met vyf waens en drie veldtente tussen doringbome op ’n ruie bult naby die spruit uitgekamp wat later Moordspruit genoem is. Daniël, een van sy seuns wat nog ’n jong man was, maar darem al getroud, hoor dié nag hoe hulle honde vreeslik tekere gaan naby die waens. Dit was groot, kwaai honde wat al dikwels luiperds gepak en verskeur het. Daniël het gedink dat hulle weer met ’n luiperd veg. Hy spring toe dadelik op en gaan buitekant toe sonder sy geweer. Dit sou hom niks gebaat het om sy geweer te neem nie, want as hy sou skiet, kon hy maklik in die donker een van sy eie honde doodskiet.

Daniël loop ’n ent in die rigting van die lawaai en staan toe en luister. Hy skrik toe hy die geluid van assegaaie teen skildvelle hoor en die stemme van Zoeloes. Hy hoor hoe hulle steek na die honde. Toe besef hy dat dit ’n groot klomp Zoeloes was wat op hulle afstorm. Hy draai vinnig om en nael terug na die waens om die ander mense wakker te maak en te waarsku, maar dit was reeds te laat.

Hy loop hom teen ’n ander klomp Zoeloes vas wat reeds die waens omsingel het. In die donker kruip hy in lewensgevaar moeisaam op hande en voete tussen die Zoeloes deur, tot by die waens. Toe hy daar kom, hoor hy net hoe sy pa doodgesteek word. Wat het van sy vrou en kindjie geword? Hy druk deur en veg tot hy by sy eie wa kom. Sy vrou is nog te swak om op te staan, want die ou kindjie was maar ses dae oud. Wat moet hy doen? Vir sy siek vrou is daar geen genade nie – as hy tog maar eers sy ou eerste en enigste babatjie kan red en dan terugkom om sy vrou te help. Hy gryp die kindjie, druk hom aan sy bors vas en kruip en druk deur die swart menigte Zoeloes wat nou oral om hulle is en net moor en doodsteek. Die donker gee hom kans om los te kom en hy probeer deurdruk. Hy vorder ’n hele entjie, maar elke keer wanneer die kindjie huil, hoor die Zoeloes waar hy is en steek links en regs na hom.

’n Zoeloe steek die kindjie in sy arms dood. Maar Daniël merk nie eens dat sy babatjie dood is nie en veg sy pad deur tot hy los is. In die geveg kry hy nog twee assegaaisteke. Eers toe hy buite die kring van Zoeloes is, merk hy dat die kindjie doodstil is. Hy word benoud en kyk wat die outjie dan makeer. Groot was sy hartseer toe hy moet sien dat die liewe kleinding morsdood in sy arms lê. Die arme pa is radeloos. Hy staan stil en luister. Agter hom was daar nie meer stemme te hoor nie. Sy pa, ma, broers, susters en jong vroutjie was almal uitgemoor. Hy hoor hoe die Zoeloes die hoenders doodsteek, die tentseile afskeur en die waens breek.

Wat moet hy nou doen? Hy staan daar alleen op die eensame veld in die nag met sy dooie kindjie in sy arms. Wat help dit hom om nog te lewe? Maar nee, daar is nog ander mense wat in lewensgevaar verkeer en wat gewaarsku moet word dat die Zoeloes hulle kom vermoor. Hy moet nou aan hulle dink.

Met trane in sy oë en ’n verskeurde hart lê hy die lykie van sy kind onder ’n bos en maak dit so goed hy kan met takkies toe. Daarna hardloop hy so vinnig as hy kan langs die rivier af om die ander mense betyds te waarsku. Dit het hy ook reggekry en só baie lewens gered.

Daniël het ’n broertjie gehad met die naam van Petrus, ’n dapper knaap van 14 jaar oud. Dié het saam met sy pa, Wynand, in die tent geslaap. Hy het ook wakker geword van die honde se geraas en gelê en luister wat aangaan. Naderhand hoor hy sy broer Daniël buite skree. Hy dink toe dat die skape uit die kraal gebreek het en dat sy broer hom roep om te kom help. Hy het nooit gedroom dat dit Zoeloes kon wees wat hulle aanval nie.

Petrus spring op, pluk net sy broek aan en hardloop om sy broer met die skape te gaan help. Toe hy by die tent uitkom, was die Zoeloes al op hom en een steek ’n assegaai na hom. Dit tref hom skrams in sy rug. Maar die Voortrekkerseun was rats; hy glip weg van die assegaai en spring in die donker tussen die wemelende Zoeloes deur. Weg van hulle, hoor hy die aaklige geluide soos sy pa en al die mense doodgesteek word. Hy sien dit sal niks help om terug te gaan nie, want hy sal ook maar net afgemaai word. Net soos sy ouer broer, Daniël, dink hy ook aan die ander mense wie se laers verder langs die rivier is. Hy sal hulle gaan waarsku.

Bezuidenhout broersPetrus hardloop so hard as wat hy kan na die plaat doringbome waar die perde se kamp was. Hy ken sy perd baie goed, al is dit in die donker, en hy weet sy perd is mak. Maar hoe moet hy ry? Die perde is los in die kamp. ’n Saal is nie nodig nie, want om bloots perd te ry is vir ’n Voortrekkerseun maklik. Maar sonder toom, halter of riem kan hy tog niks doen met die perd nie. En daar is nie so-iets naby nie, want alles is daar by die waens waar die Zoeloes nou moor en breek en stukkend slaan. Om te probeer om daar ’n riem of tou te gaan haal, is buite die kwessie. Petrus kry ’n plan. Hy ruk sy leerkruisbande van sy skouers af, knoop dit los en daar het hy ’n toom. Hy vang sy perd en sit die kruisbande tou-in-die-bek. Soos blits spring hy op die perd en jaag die ander perde ook uit die kraal al langs die rivier af. As hy die klompie perde nog betyds by die ander mense kan kry, kan hulle nog almal vir die Zoeloes vlug, al moet die waens ook agterbly. So jaag hy, met die ander perde vooraan. Uiteindelik kom hy by Doornkop aan by Gerrit Maritz se laer. By hom was ook die predikant van die Voortrekkers, Erasmus Smit, die vrou van Piet Retief en ander families.

Gelukkig kon Gerrit Maritz toe planne maak om sy laer te verdedig. Hulle het ook kwaai geveg en uiteindelik die Zoeloes verslaan, waarna hulle op die vlug geslaan het.

Deur Daniël Bezuidenhout en sy broer Petrus se dapper waarskuwings is baie Trekkers van ’n wrede dood gered.