Betogings teen Afrikaans

Suid-Afrikaners veg in Angola
January 26, 2015
Die krisis vererger
January 26, 2015

Teen sewe-uur die oggend van 16 Junie 1976 het groepies skoolkinders van skool tot skool in Soweto geloop met plakkate soos “Away with Afrikaans”, “We are not Boers”, “We shall not use Afrikaans as medium of instruction”, “Beware Afrikaans is the most dangerous drug for our future”; “Afrikaans will spoil our future”.

Leerlinge van sewe skole het teen nege-uur aan die betoging deelgeneem. Volgens die minister was die enigste voertaal in ses van die sewe skole Engels; in die ander skool is net een vak, naamlik geskiedenis, deur medium van Afrikaans aangebied. Naby Orlando-Wes het die sowat 10 000 skoolkinders met die polisie gebots. Een leerling, Hector Petersen, is dood.

Die betoging het teen die tyd al hoe leliker begin word. Die betogers het geboue geplunder en afgebrand. Kinders het uitgeroep: “Kill the whites!” en “Black power!” en twee wit mense doodgeslaan. Blankes wat welsynwerk in Soweto gedoen het, het naelskraap aan die dood ontkom. ’n Swart man het vier maatskaplike werkers voorgekeer. Een van hulle het uitgeroep: “I’m English! I’m English!”, maar die aanvaller het tog die motor met ’n klip probeer raakgooi.

Die onluste het spoedig uitgebrei en die lewens van 494 swart, 75 bruin en vyf wit mense en een Indiër geëis. ’n Belangrike kenmerk van die onrus was dat die meeste bruin mense hulle dié keer, anders as ná Sharpeville in 1960, aan die kant van die swartes geskaar het. In meer as dertig dorpe van die Boland, Suidwes-Kaapland en die Karoo het hulle tot geweldpleging oorgegaan.

Meer as honderd geboue van die Wes-Randse Bantoe-administrasieraad is afgebrand of beskadig, asook 250 drankwinkels en biersale, 170 ander winkels, 25 klinieke, agt banke, ’n aantal biblioteke, poskantore, hotels, kerke, landdros-howe en vulstasies. In die Wes-Kaap is 191 bruin skole verwoes en beskadig. Die verwoeste geboue was vir die betogers simbole van die apartheidsisteem.

’n Paar weke nadat die onluste begin het, het die regering bekend gemaak dat elke swart skool self kon besluit wat sy voertaal is. Engels het die enigste voertaal geword – ook waar leerlinge Afrikaans beter geken het. Dit het soms op die platteland gebeur dat lesse in Engels gegee is en dat leerlinge aan die einde van die les ’n herhaling daarvan in Afrikaans gevra het. Dis ’n aanduiding daarvan dat die onluste nie soseer oor Afrikaans of die heil van die Afrikatale gegaan het nie, maar apartheid.

’n Kommissie onder voorsitterskap van regter PM Cillié het daarop gewys dat haat vir die wit mense soms veroorsaak is deur die “onbehoorlike behandeling” van gekleurde mense deur amptenare, diskriminasie en die beledigende optrede van baie blankes. Die belangrikste gevolg van die onluste was dat die opvatting laat vaar is dat swart mense net tydelik in die stede is en geen regte in die “blanke deel” van Suid-Afrika het nie. Daar was ’n gedagterigting dat die verblyf in die stede nie te aangenaam gemaak moes word nie omdat dit swart mense traag sou maak om hulle in die tuislande te vestig. Die grootste deel van Soweto het gevolglik geen elektrisiteit gehad nie. Ná die onluste is op groot skaal begin om elektrisiteit en ander dienste aan Soweto te voorsien.