Die verhaal van Bennie Liebenberg
July 27, 2015
Die betekenis van die Transvaalse goud
July 27, 2015

Soos verskyn in Junior Historia

In ons vorige nommer het ons vertel van Hannie van der Merwe en Catharina Prinsloo wat slagoffers was van die Zoeloe-moorde op 17 Februarie 1838. Lees nou ook die verhaal van Bertha de Beer. Sy het ook eers in die wa van oom Christiaan ingevlug met haar baba van nege maande, maar uitgevlug toe die Zoeloes so woes in die tent steek en onder die wa se agteras gaan sit met haar kindjie in haar arms in die hoop dat die naturelle haar in die donker nie daar sou opmerk nie. Maar hulle sien haar en steek deur die speke na haar. Haar kindjie word in haar arms doodgesteek en sy self kry ook ’n swaar steek. Met die dooie kindjie het sy maar daar bly sit en toe daar ’n oomblik nie naturelle by die wa is nie, vlug sy met die lykie die steil walle van die spruit af. Onder in die spruit lê sy die lykie teen die wal neer en sukkel met die spruit af sover as wat sy kon. Toe sy van bloedverlies en vermoeienis nie meer verder kon vlug nie, het sy in ’n boom langs die spruit geklim.

Dit was reeds al dag toe daar twee Zoeloes onder die boom verbyloop. Ongelukkig tap daar van haar bloed op hulle, met die gevolg dat hulle haar in die boom sien. Hulle het haar met hul asgaaie van onder af gesteek en omdat hulle haar so nie kon doodsteek nie, het een van hulle in die boom geklim en haar aan haar lang bos hare probeer afpluk. Hy pluk haar vas in ’n mik en sou haar ongetwyfeld doodgesteek het, as daar nie geweerskote digby geklap het nie. Dit was die manne van Cilliers en Maritz wat die vyand verdryf het. Die aanvallers het dadelik gevlug. Bertha de Beer het flou geword en daar in die mik van die boom bly hang tot die volgende dag toe mense by die vermoordes opgedaag het om hulle familie te soek. Hulle kon haar en haar kindjie nie vind nie. Na veel gesoek vind hulle later die lykie van die kindjie teen die wal, maar van haar het hulle niks gewaar nie. Hulle het met die sweep geklap om gewondes en gevlugtes te laat weet dat alles veilig was en dat redders opgedaag het. Bertha het die geklap gehoor, maar sy was so uitgeput van bloedverlies en so verstyf in die mik dat sy nie daar kon uitkom nie. Met die laaste inspanning het sy uit die mik losgeraak en op die grond geval. Maar sy kon nie loop nie. Sy kruip toe maar aan so goed as wat sy kon na die plek waar die waens gestaan het. Daar hoor sy weer die sweepgeklap. Die mense het haar nog nie gesien nie en wou net vertrek, toe iemand iets in die hoë gras gewaar. Vir ’n oomblik kom Bertha orent en toe sien die mense dat dit ’n mens was. Hulle hardloop daarheen en vind haar, heeltemal verswak en half dood. Saam met ander is sy in veiligheid gebring. Sy het baie asgaaisteke gehad, maar tog herstel.