Beraadslagings oor vrede

President Steyn se ontsnapping
January 22, 2015
“Ons moet veg tot die bittere einde”
January 22, 2015

Hoewel president Steyn danksy Ruiter op Reitz kon ontsnap, het die Engelse al sy dokumente in die hande gekry. Daaronder was ’n brief wat die Transvaalse regering op 10 Mei aan hom gerig het oor maniere om die oorlog te beëindig. Dit was nie die eerste keer die jaar dat oor vrede gepraat is nie. Begin van 1901 het die Britte generaal Botha se vrou, mevrou Annie Botha, ’n Engelssprekende dame van Ierse afkoms, toegelaat om hom te besoek. Sy kon ongehinderd in Pretoria rondbeweeg en was onbewus ’n werktuig in Britse hande om druk op haar man uit te oefen. Op 22 Februarie 1901 was sy terug in Pretoria met ’n brief waarin generaal Botha sê dat hy bereid is om met Kitchener oor vrede te praat. Dit het op 28 Februarie op Middelburg gebeur.

Op ’n vraag van Botha het Kitchener verklaar: “Languages will have same rights.” Sou dit in die onderwys en kantore die geval wees, het Botha gevra. Van die onderwys en howe was Kitchener seker, maar nie van die kantore nie. Botha se sekretaris, NJ de Wet, het gesê dat dit in die Kaapkolonie ’n bron van ongenoeë was dat party amptenare nie tweetalig was nie. Kitchener het geantwoord dat elke amptenaar wat met die publiek in aanraking kom, “ought to know Dutch”. De Wet het gemeen: “must know Dutch”. Daarop is van die saak afgestap. Kitchener se weergawe van die gesprek was: “English and Dutch would, I thought, have equal rights. He (Botha) expressed hope that officials dealing with farmers would know Dutch.”

Die twee generaals het oor ’n hele aantal sake gepraat en verskil, maar Kitchener en Milner kon op 2 Maart nie ooreenkom oor die voorwaardes wat eersgenoemde opgestel het nie. So was Milner teen algemene amnestie vir Kaapse rebelle ná die oorlog. Die voorwaardes wat Kitchener op 7 Maart aan Botha gestuur het, het ingehou dat die republieke moes afstand doen van hul onafhanklikheid. Oor taal is bepaal: “Both the English and Dutch languages will be used and taught in Public schools where parents of the children desire it, and allowed in Courts of law.”

Die vredesvoorwaardes was vir die Transvaalse regering en offisiere onaanvaarbaar. Botha het verklaar dat die Britse regering met dié voorwaardes niks anders verlang nie as “the destruction of our Afrikander people”. Op 15 April het president Steyn saam met die Transvaalse regering besluit om in die stryd te volhard. Maar al het die Middelburgse samesprekings geen vrede tot gevolg gehad nie, het die gedagte veral by twee Transvalers posgevat dat die stryd gestaak moet word al bring dit die verlies van die onafhanklikheid mee – generaal JC Smuts en waarnemende president Schalk Burger. Minder as ’n maand ná die gesprek met Steyn het die Transvaalse regering en vier generaals (Louis Botha, Jan Smuts, Chris Botha en Ben Viljoen) op 10 Mei op die plaas De Emigratie, distrik Ermelo, beraadslaag. Daarna het die Transvaalse regering, asook generaal Smuts persoonlik, briewe aan president Steyn gestuur oor die hopeloosheid van die toestand.