Benjamin D’Urban (1777-1849)

Erasmus Smit (1778-1863)
March 4, 2019
Piet Retief (1780-1838)
March 4, 2019

ALGEMEEN GEWILDE ENGELSE GOEWERNEUR

Van al die Engelse goewerneurs wat ooit in Suid-Afrika die septer geswaai het, het niemand by die Afrikaanse volk soveel liefde en agting verower nie as sir Benjamin D’Urban, een van die edelste uitlanders wat ooit die bodem van ons vaderland betree het.

Hy is in 1777 in Engeland gebore, en het sedert sy 16de jaar die loopbaan van ’n soldaat in die Britse leër gevolg. Die Napoleontiese oorloë het hy meegemaak, en ’n besondere wye ervaring op militêre gebied opgedoen. In 1794 het hy deelgeneem aan die operasies in Holland en Wesfale; die volgende jaar was hy werksaam in San Domingo onder sir R. Abercombe; tussen 1800 en 1805 het hy aan die Royal Military College deurgebring en daarna in Hannover diens gedoen onder lord Cathcart.

Foto: Benjamin D’Urban (Elliott-versameling, Kaapse Argief)

In 1808 is hy na die Iberiese Skiereiland, waar hy ’n aanstelling gekry het as kwartiermeester-generaal en meegedoen het aan die reorganisasie van die Portugese leër teen Napoleon. Elf jaar later, in 1819, is hy beklee met die rang van majoor-generaal, en in 1837 bevorder tot luitenant-generaal in die Britse leër.

Intussen het die Britse regering hom ook na die politieke terrein geroep. Tussen 1820 en 1834 is hy agtereenvolgens benoem as goewerneur van die kolonies Antiqua, Demerara, Essequibo en Brits-

Guiana, en in 1834 is hy na die Kaap die Goeie Hoop gestuur om hier as goewerneur te ageer.

Ofskoon hy as filantroop ’n seer ongunstige opinie van die Boere had toe hy in Suid-Afrika aankom, het hy hom spoedig onsterflik gemaak deur die wyse waarop hy die belange van die Suid-Afrikaanse Boere bepleit en hulle eer teenoor die lasterlike aantygings van die Londense filantrope verdedig het. Hy het die oostelike grensprobleem, wat soveel onrus in Suid-Afrika verwek het, begryp en deurtastende maatreëls getref om dit op te los.

Die grensreëling wat hy dan ook, na afloop van die Kafferoorlog van 1835 getref het, is algemeen deur die grensboere toegejuig en dit het hulle volle vertroue in die goewerneur gegee. Sy manmoedige optrede ten gunste van die Boere, in weerwil van ’n vyandiggesinde koloniale sekretaris—lord Glenelg—wat, onder filantropiese invloed D’Urban se grensreëling vernietig en daarmee die Boere uitgelewer het aan die genade van die Kaffers, het hom egter in onguns by die Britse regering gebring, en op 1 Mei 1837 is ontslag aan hom verleen. Hy het nog as goewerneur ageer tot met die aankoms van sy opvolger, sir George Napier, in Januarie 1838, en hom toe teruggetrek uit die politieke lewe.

Vir Suid-Afrika moes hy ’n besondere liefde toegedra het, want hy het nie na sy afdanking die land verlaat nie, dog hier bly woon en selfs ’n hoë militêre pos wat hom in 1842 in Indië aangebied is, van die hand gewys. Aan die end van 1846 het hy egter vertrek na Kanada, waar hy in Januarie 1847 bevelvoerder geword het van die Britse troepe aldaar gestasioneer – ’n pos wat hy beklee het tot met sy heengaan te Montreal op 25 Mei 1849.

Die berig van sy heengaan is met leedwese in Suid-Afrika ontvang deur die Boere, van wie hy die groot pleitbesorger was aan die begin van ’n eeu van verontregting en verdrukking.

Slagoffer van Londense filantrope

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck