Ben Kruger (1957-2021)

Dr. Nico Diederichs (1903-1978)
May 14, 2021
Melkterte vir skoolhoofde
May 29, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Die bekende Afrikaanse akteur, wat die rol van Ockie Ferreira in Binnelanders vertolk het, is in die ouderdom van 64 jaar in sy huis in Pretoria aan Covid-19 oorlede.

Ben is op 25 Maart 1957 in Bothaville in die Vrystaat gebore; sy pa was ’n pastoor in die Apostoliese Geloofsending-kerk. Hy het aan die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg gematrikuleer en nadat hy agtien maande lank in die Suid-Afrikaanse Vloot was, het hy sy BA-dramagraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf.

Hy het sy debuut as rolprentakteur in Die Voortrekkers in 1973 gemaak, en later was hy te sien in ’n Sondag in September, Dr. Marius Hugo en Pretoria o Pretoria. Sy eerste rol in ’n televisiereeks was dié van die onderwyser Christo de Wet in Skooldae, en na drie reekse het ’n rolprent, Geel trui vir ’n wenner, daaruit voortgespruit. Hier het hy teenoor onder meer Dulcie van den Bergh, Theunis van Rooyen, At Botha en Marié du Toit gespeel. Daarna het rolprente soos Wolhaarstories, waarin hy die rol van ’n fopdosser vertolk het, The fourth reich, Mandela and De Klerk en Cry the beloved country gevolg. Ander televisiereekse waarin hy gespeel het, was Moeggeploeg, Riemvasmaak, Triptiek, The game en Zero Tolerance. In Cry the beloved country en Mandela and De Klerk het hy saam met internasionale akteurs soos Sidney Poitier, James Earl Jones en Michael Caine gewerk; in Mandela and De Klerk het hy die rol van die tronkbewaarder James Gregory, wat later ’n vriend van Mandela geword het, vertolk.

Ben se eerste liefde was verhoogwerk; hy het aan verskeie produksies van die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) deelgeneem; hy was betrokke by die laaste paar produksies in die Breytenbach-teater in Sunnyside, Pretoria, en was deel van die opening van die Staatsteater. Hy was betrokke by ongeveer vyftig verhoogproduksies, onder meer Siener in die suburbs, Hamlet, Don Juan onder die Boere, Die dood van Robey Leibbrandt en Ek, Anna van Wyk. Hy het ook die komiese eenmanvertoning Tjoklits en trane geskryf en die hoofrol vertolk, en die musiek uit hierdie vertoning is op CD uitgereik. Ben het gewys dat hy ewe tuis in komiese en dramarolle was.

Veral twee sepierolle het hom baie gewild en geliefd onder televisiekykers gemaak. Hy het ’n tyd lank die rol van Neef Gert in 7de Laan vertolk, en sy laaste rol was dié van Ockie Ferreira in Binnelanders. Sy karakter was getroud met Ilse, vertolk deur Hannelie Warren.

Ben het in Desember 2020 vir die tweede keer oupa geword.