Tobie Cronjé
January 27, 2017
PR Botha (1851-1900)
January 27, 2017

Barend Daniël (Ben) Bouwer is op 31 Januarie 1875 op die Dorslandtrek na Damaraland gebore. Die gesin het hulle in Angola gevestig. Bouwer het sy eerste skoolonderrig in Mocamedes deur medium van Portugees ontvang. Met al sy omswerwinge tydens sy kinderjare het hy ’n Boesman-dialek en ander Afrika-tale aangeleer. Met Engels het hy eers op ’n latere leeftyd in Pretoria kennis gemaak.

Op negentienjarige leeftyd, nadat hy reeds aan twee oorloë deelgeneem het, was hy tydens pres. Paul Kruger se bewind in diens van kmdt.genl. Piet Joubert se kantoor in Transvaal. Sy militêre loopbaan is deur ’n reeks avonture gekenmerk.

Met die Jameson-inval van einde 1895 in die Zuid-Afrikaansche Republiek het Bouwer en die latere baasverkenner Danie Theron, ’n brief van sir Jacobus de Wet (die Britse agent), saam met ’n bevel van sir Hercules Robinson, Hoë Kommissaris aan die Kaap, aan die oprukkende Jameson in die veld oorhandig. Jameson is daarin gelas om die voornemende inval te laat vaar. Toe laasgenoemde hom meegedeel het dat hy nie van sy voorneme sou afsien nie, het Ben Bouwer ewe kalm en beleefd versoek dat hy sy antwoord op skrif moet stel. Met die latere verhoor van Jameson deur ’n Britse hof in Londen was die jong Bouwer ’n getuie. Hy het geweier om sy getuienis in Engels voor die hof af te lê. Eindelik, ná veel moeite, is ’n geskikte tolk gevind en het Bouwer getuig.

Hierdie insident het heelwat opspraak in die pers gewek. Die Nieuwe Rotterdamse Courant het hom met sy standvastigheid gelukgewens, aangesien die jong Bouwer wel in staat was om Engels te praat, maar sy eie taal verkies het.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog is Bouwer met die Ermelo-kommando na Natal, waar hy onder meer aan die slag van Colenso en Spioenkop deelgeneem het. Hy het aan die afweerstryd teen die noordwaarts oprukkende hoofmag van Lord Roberts deelgeneem.

Ná die val van Pretoria het hy die veldslae by Donkerhoek en Dalmanutha meegemaak. In September 1900 is hy met die rang van veldkornet aangestel as tweede in bevel van pres. MT Steyn se geleide deur die Transvaalse Bosveld. Daarna het hy hom by die westelike strydmag onder genl. Koos de la Rey gevoeg en aan verskeie suksesvolle krygsoperasies deelgeneem.

In Mei 1901 het hy Smuts na ’n konferensie van die regerings van die twee republieke by Standerton vergesel. Met die terugtog is hy naby Heidelberg gewond.

Aan die begin van Augustus 1901 het hy as kommandant onder genl. Jan Smuts aan ’n inval in die Kaapkolonie deelgeneem. Oos van Aliwal-Noord het hulle die Oranjerivier oorgesteek. Op 17 September 1901 het hulle ’n afdeling van die 17th Lancers oorrompel. Die onderneming is voortgesit tot naby Port Elizabeth, toe weswaarts te midde van voortdurende skermutselinge, totdat die omgewing van Calvinia teen begin van November bereik is. Genl. Smuts het daar die Boeremagte in die Kaapkolonie gereorganiseer en Bouwer is bevorder tot veggeneraal oor ’n aantal kommando’s wat in die noordwestelike distrikte opgetree het.

Bouwer het in April/Mei 1902 aan die beleg van Okiep deelgeneem. Ná die beëindiging van vyandelikhede het hy na Transvaal teruggekeer. Hy is in 1912 na die Unie-Verdedigingsmag oorgeplaas en het as majoor op De Aar en Graaff-Reinet gedien.

Tydens die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het hy genl. Manie Maritz probeer oorreed om die stryd teen die regeringsmagte te staak en is aanvanklik deur Maritz aangehou, maar later vrygelaat.

Daarna het hy met die rang van kolonel deelgeneem aan die veldtog in Duitswes (nou Namibië).

In die verdedigingsmag het hy in verskeie militêre distrikte die bevel gevoer en sedert 1923 onder meer diens verrig op Potchefstroom, in Pretoria en Oos-Londen. Bouwer het in 1929 bevelvoerende offisier van die Kaapse kommandement geword. Hy het in 1931 afgetree met die rang van brigadier-generaal.

Twee jaar voordat hy die ouderdomsgrens bereik het, is hy sonder voorafgaande waarskuwing deur die destydse weermag gelas om met pensioen af te tree, vermoedelik weens sy sterk pro-Afrikaner gevoelens.

Ná sy uittrede uit die militêre diens tot sy dood was hy lid van die (destydse) Film Sensorraad. Hy is op 23 November 1938 op 63-jarige ouderdom in sy woning in Kampstraat, Kaapstad, oorlede. Op sy grafsteen in Maitland is gegraveer: “’n Dappere held in die stryd. Altyd wakker en opgeruimd. Altyd met ’n glimlag bereid. In huislike kring die teerhartige. Selfs in sy laaste lyding.”

“Genl. Bouwer was ’n goeie krygsman, ’n taktvolle aanvoerder, beslis in sy optrede, dog minsaam en vriendelik, altyd baie opreg met ’n besonder sterk ontwikkelde gevoel van regverdigheid. Hy was aangenaam met almal, opgeruimd van aard en trou aan sy volk. Hy het ’n warm plek in alle Afrikanerharte verwerf,” luidens die huldeblyk wat ná sy dood in Die Burger verskyn het.