Begin van ’n mitiese stryd teen maghebbers

Die eerste kapitalis van Suid-Afrika
January 15, 2015
Klagskrif teen die Goewerneur
January 17, 2015

Twee belangegroepe het vroeg in die agtiende eeu teenoor mekaar gestaan: maghebbers en vryburgers. Die mitiese stryd tussen hulle het weerklank gevind in opvattings oor Afrikanerskap in die Afrikaanse letterkunde, onder meer in Johannes van Wyk, een van die gewilde patriotiese romans van die vroeë skrywer J.H.H. de Waal, Hercule des Prés, ’n roman deur die historikus Anna de Villiers, en Vergelegen, ’n drama van die groot digter-dramaturg D.J. Opperman.

’n Paar vryburgers was ryk – veral Henning Hüsing, getroud met Maria Lindenhovius, van Meerlust, Stellenbosch. In 1705 het hy 100 000 riksdaalders kontant, 1000 stuks grootvee, 20 000 skape, en 545 morg grond met 100 000 wynstokke besit. Hüsing het in 1700 die kontrak gekry om vleis vir die skepe, hospitaal en die garnisoen teen ’n vasgestelde prys te lewer. Dié kontrak het van hom ’n kapitalis gemaak. Hüsing se woning op Meerlust was ’n toonbeeld van goeie smaak. Hy het ook in Kaapstad ’n huis gehad – een van die twee dubbelverdiepinghuise in dié stad.

Hoewel hulle minder welvarend was as Hüsing, het baie ander boere byna net sulke huise gebou. Een van hulle was ’n aangetroude familielid Adam Tas, wat in 1697 op 29-jarige leeftyd in die Kaap aangekom en sy intrek geneem het by Hüsing. Dié se vrou was ’n tante van Tas. Hoewel hy van Joodse afkoms was, het Tas in 1697 lid van die Kaapse NG gemeente geword. In 1703 is hy getroud met ’n ryk weduwee, Elisabeth van Brakel. Sy buurman was die welgestelde Pieter van der Bijl. Ander gesiene vryburgers was Jacobus van der Heiden en Ferdinand Appel, asook die Hugenote Guilliam du Toit van die plaas Aan ‘t Pad en Hercules des Pres van De Zoete Inval.

Tussen die wonings van die boere het die huise verrys van amptenare soos Johannes Starrenburg, wat in 1705 landdros van Stellenbosch geword het. Selfs die predikante het geboer – Henricus Beck van Koelenhof en Petrus Kalden van Zandvliet. Veral laasgenoemde het sy pligte verwaarloos. Die boere het gekla dat hy meer tyd bestee aan sy boerdery as aan die bearbeiding van sy gemeente. Hy was ’n ontwikkelde man, en het die Khoi-Khoin deur en deur geken.

Maar veral Willem Adriaan was ’n doring in die vlees vir die vryburgers. Hy het hulle onbeskof behandel, en selde een van hulle in sy pragtige woning Vergelegen ontvang. En die omvang van sy boerdery het hulle onrustig gemaak. Daar was nog geen ope mark aan die Kaap nie, en dit het beteken dat die vryburgers nie die reg gehad het om vryelik te koop van en te verkoop nie.

’n Klompie burgers het wel elke jaar die voorreg opgekoop om produkte aan die Kompanjie te lewer en aan die burgers te verkoop. So het vier pagters die reg gehad om wyn van boere te koop en weer te verkoop. Die pagters kon koop van wie hulle wou, maar die burgers het besef dat as die pag in die hande van Van der Stel se vriende sou val, hulle met al hul produkte sou bly sit.

Dit het veral die welgestelde burgers onrustig gemaak. Henning Hüsing was die eerste wat die erns van die gevaar besef het. Hy het aan die begin van 1705 ’n waarskuwende brief aan die Here XVII gestuur. In die loop van die jaar het ’n tiental vryburgers ’n brief met klagtes teen die amptenare onderteken en na die Raad van Indië in Batavia gestuur. Kort daarna was daar nog ’n klagskrif aan die Raad van Indië.