Beeldende kunstenaars

Eugène Marais
January 23, 2015
Afrikaners in diaspora
January 23, 2015

Afrikaners het in toenemende mate ook die beeldende kuns begin beoefen. Onder die eerste skilders was Gregoire Boonzaier, WH Coetzer, Maggie Laubser, E Mayer, Hugo Naudé, JH Pierneef en Pieter Wenning. Party was van Nederlandse herkoms, soos laasgenoemde twee.

Wenning (1873–1921) was een van Suid-Afrika se mees geïnspireerde kunstenaars. Jacob Hendrik Pierneef (1886–1957) was die eerste Suid-Afrikaanse beeldende kunstenaar wat ’n heeltemal nuwe uitbeelding van die Suid-Afrikaanse landskap gebring het. Hierin is hy ’n ware pionier van die beeldende kunste. Van sy bekende werke is 32 skilderye vir ’n nuwe stasiegebou in Johannesburg in sy bekende “Pierneefstyl”.

Pierneef het onder andere les geneem by en is beïnvloed deur Frans Oerder (1867–1944), wat by die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog by die Boeremagte aangesluit en Suid-Afrika se eerste amptelike oorlogskunstenaar was. Sy sketse het ontstaan teen die agtergrond van die gevegte in Natal en die wesfront. Oerder is in 1908 om geldelike redes na Nederland maar het kontak met Suid-Afrika behou, en in 1938 teruggekeer.

Ook betrokke in die oorlog was Gerard Moerdijk (1890–1958). Terwyl sy vader op kommando was, was sy ma en die vyf kinders in die konsentrasiekamp op Standerton. Die jong Moerdijk het ’n deeglike opleiding in Londen gehad en as argitek ’n nuwe rigting in die kerkboukuns ingeslaan. Sy groot werk was die Voortrekkermonument, maar ander werke van hom is die Johannesburg-stasie en Libertas (ampswoning van die eerste minister).

Die eerste groot opdrag van Anton van Wouw (1862–1945), reeds genoem as beeldhouer van die Vrouemonument, was aanvanklik ’n teleurstelling. Die magnaat Sammy Marks het in 1895 £10 000 aan die Transvaalse regering aangebied om ’n standbeeld vir president Kruger op te rig. Van Wouw se ontwerp is aanvaar. Nadat hy drie jaar lank in Italië gewerk het aan die beeld van Kruger, omring deur vier burgers as troue wagte, breek die oorlog uit en die beelde het in Lourenco Marques bly lê. Kitchener het Marks oorgehaal om die vier Boerefigure aan hom te skenk en hy het hulle na Engeland gestuur. Die Kruger-beeld het in ’n skuur agtergebly. In 1913 is Kruger se eensame figuur in Prinsepark, Pretoria, geplaas. Op die ou end is die vier Boerefigure teruggekry. Weens politieke twiste is die Krugerbeeld en sy brandwagte eers op 10 Oktober 1954 in die middel van die Kerkplein, Pretoria, onthul.

Die grootste werk van Coert Steynberg (1905–1982) is die Bloedrivier-monument op die Bloedrivierterrein in die distrik Utrecht. Dis tussen 1936 en 1938 ontwerp en in 1947 onthul. Hy het deur die jare talle buitelandse eerbewyse ontvang; in 1953 was sy werk een van die tien gekeurdes in ’n internasionale kompetisie vir ’n monument vir die onbekende politieke gevangene voor die Unescogebou in Parys. ’n Omstrede beeld van hom was die Vredesmonument by Vereeniging (1961) wat die geestelike herlewing van ’n oorwonne volk simboliseer.

Bekend vir onder meer sy uitbeelding van historiese gebeurtenisse en figure is die skilder WH Coetzer (1900–1983).