Bedevaart na Bermuda

FAK sal digter, komponis steeds erken
June 25, 2018
Die geskiedenis van Leeuwenhof
June 25, 2018

’n Klein kolletjie op ’n landkaart, ’n stippeltjie in die onmeetlike Atlantiese oseaan, ongeveer 1 200 km suidoos van New York: Bermuda, een van die mees afgeleë landstreke in die wêreld. Hoe klein en afgesonderd en onbeduidend ook al, in die geskiedenis van die Afrikaners ’n belangrike plek. Hierheen is tussen Junie 1901 en Januarie 1902, 4 600 Boerekrygsgevangenes gestuur. In die annale van die Anglo-Boereoorlog, sal Bermuda altyd ’n beduidende plek inneem, tesame met ander eilande soos Ceylon en St. Helena.

’n Begrafnis ter see van een van die krygsgevangenes wat onderweg na Bermuda op die skip oorlede is.

Ek het die eerste maal as kind van Bermuda gehoor in die stories wat oupa Albertyn vertel het en wat via my moeder aan ons kinders oorgedra is. Oupa, destyds predikant te Wellington, is in die middel van 1901 deur die Kaapse N.G. Kerk gevra om as kapelaan na Bermuda te gaan. Hy en Ouma was toe pas terug van ’n dergelike sending na die krygsgevangenes op St. Helena. Oupa het gegaan om na die geestelike behoeftes van die manne om te sien, Ouma na die materiële. Sy het kaste vol komberse, klerasie, selfs naalde, gare en skêre saamgeneem, alles bydraes wat sy gekollekteer het. Saam met seshonderd Boerekrygsgevangenes het hulle op 1 Augustus 1901 met die ‘Manila Castle’ in Bermuda aangekom. Daar was toe alreeds ongeveer 1 500 krygsgevangenes en later sou daar nog 2 500 aankom.

Van die talle verhale wat Oupa in later jare oor sy Bermuda-verblyf vertel het, was daar veral twee wat ek tot vandag toe nog graag oorvertel. Die een is die verhaal van die gesangeboekie wat hy kort na sy aankoms op Bermuda laat druk het. In die kampe was daar ’n groot gebrek aan Psalm- en Gesangboeke, en waaruit kon sy groot ‘gemeente’ tydens godsdiensoefeninge en kerkdienste sing? Oupa laat toe in Amerika ’n slapbandboekie druk: ENIGE PSALM- EN, GEZANGEN EN GEESTELIJKE LIEDEREN. Die boekies moes egter eers gesensoreer word voordat hulle uitgedeel is. Wie die sensor was, weet ek nie, en hoe ver sy kennis van Nederlands gestrek het, ook nie. In elk geval moes dit voldoende gewees het om een van die eerste psalms waarop sy oog ongelukkig geval het, by die militêre owerhede as ‘uiters opruiend’ te Iaat aanmeld. Dit was Psalm 68:

De Heer zal opstaan tot den

strijd;

Hij zal ziin haters, wild en zijd

verjaagd, verstrooid, doen zuch-

ten.

Hoe trotsch zijn vijand wezen

moog’,

Hij zal, voor Zijn ontzaglijk oog

Al sidderende vluchten

Die gevolg was dat die boekie verbied is en die krygsgevangenes maar so goed of so sleg as wat hulle kon, uit hulle koppe moes sing! Oupa het toe later met die hele oplaag wat hy laat druk het, na Suid-Afrika teruggekom.

Die tweede storie was in verband met die daaglikse oggendgodsdiens wat Oupa vir die ‘rebelle’ gehou het. Daar was naamlik een kamp met 250 Koloniale rebelle daarin. Ek onthou hoe ons kindergemoedere aangegryp is deur die storie van die ‘convicts’ in hul bandietklere versier met hoenderspore. Op hul rûe was daar glo ekstra grotes. Ons kon verstaan dat die rebelle kolonialers was wat die Vrystaters en Transvalers in die oorlog kom help het, maar wat die hoenderspore met die hele saak te make gehad het, was nie so maklik te begrype nie; ook nie waarom die rebelle in ’n kamp agter ’n dubbele doringdraad aangehou moes word nie. Vir Oupa was dit vermoedelik ook ’n ongewone verskynsel en het hy kort na sy aankoms die wagte gevra of hy in die kamp kon ingaan om die rebelle elk ’n handdruk te gee. Die verstommende vraag van die Britse offisier was glo: ‘But Sir, aren’t you afraid of them?’

’n Groep Boerekrygsgevangenes waaronder daar ’n paar offisiere is. Die name is ongelukkig nie bekend nie. Foto: Staatsargief

Oupa het toe darem verlof gekry om elke dag vir hulle oggendgodsdiens te hou — met die dubbele doringdraad tussen prediker en ‘gemeente’. Hierdie deel van die verhaal het my bewondering vir my oupa se vindingrykheid altyd baie hoog Iaat styg. Hy het ’n plan beraam om, saam met die daaglikse skriflesing, ook vir die rebelle agter die doringdraad nuus van hul vaderland en hul dierbares te laat bekom. Omdat alle kommunikasie met die buitewêreld vir hulle verbode was, selfs ook die ontvangs van briewe uit Suid-Afrika, het Oupa van die owerhede verlof gevra om die briewe oop te maak en te lees. Elke dag het hy dan die inhoud van ’n paar briewe gememoriseer. Gelukkig kon die twee Britse soldate wat soggens weerskante van Oupa stelling ingeneem het (vermoedelik om seker te maak dat daar nie, soos in die verbode Gesangboekie, verdere ‘sedisie’ aan die krygsgevangenes oorgedra word nie), geen woord Afrikaans (destyds natuurlik nog Nederlands) verstaan nie, want Oupa se skriflesing het min of meer soos volg verloop: ‘Ons lees vanmôre eers ’n paar verse uit die bekende Psalm 23: “ ’n Psalm van Dawid. Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy Iaat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen …” Ben de Klerk, ek het ’n brief van jou vrou oopgemaak. Sy skryf dit gaan onder omstandighede nog goed met haar en die kinders, hoewel die verlange soms byna ondraaglik is. Hulle het darem gelukkig goeie reëns gehad …’ Dan het Oupa ’n endjie verder in die Bybel geblaai. ‘Laat ons ook ’n paar verse saamlees uit Matthéüs hoofstuk 7: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel mag word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word …”Daan Prinsloo, ek het ’n brief van jou moeder oopgemaak. Ongelukkig gaan dit nie te goed met jou vader nie. Die rumatiek het die afgelope winter baie vererger. Hulle vra jou om moed te hou en op God te bly vertrou …’Agter die dubbele doringdraad moes Ben de Klerk, Daan Prinsloo en al die ander wat sulke nuus ontvang het, sorg dat geen gesigsuitdrukking hul emosie van vreugde of droefheid verraai nie, uit vrees dat die oggendgodsdiens dalk onder verdenking sou kom.

Hierdie stories van oupa Albertyn was my eerste kennismaking met Bermuda. Die tweede het verlede jaar in ’n New Yorkse moltrein begin en op die eiland self geëindig. ‘Waarom vlieg u nie na Bermuda nie?’ het die advertensie regoor my in die moltrein gelui. ‘Die ABC-lugredery sal u binne 1½ uur soontoe neem.’

Kos word in die buitelug voorberei, iets waaraan die manne op kommando gewoond geraak het.

Ja waarlik, waarom nie? Toe ek weer in die felle sonlig in Fifth Avenue uitstap, wend ek terstond my skrede na die naaste reisagentskap. Binne ’n halfuur was my plek bespreek en dieselfde dag nog was ek op Bermuda, eiland met vele herinneringe, pragtige natuurskoon, heerlike klimaat, besoedelingsvrye lug (toerisme is verreweg die vernaamste bedryf), en die helderste blou-groen seewater wat ’n mens jou kan voorstel. Dis die vakansieplek van duisende ryk Amerikaners wat in hul Bermuda shorts die inheemse bevolking (63 persent swart, met ’n swart Eerste Minister) omtrent verdring op die sypaadjies, die pragtige wit strandjies, in die winkels, restaurants en die luukse hotelle. Die Bermuda van vandag verskil basies seker weinig van die eiland waarheen 4 600 Boere driekwarteeu gelede verban is. Dit is nog ’n Britse Kolonie (vandag selfregerend), die Union Jack wapper nog op alle regeringsgeboue, maar die klein eilandjies wat 75 jaar gelede gewemel het van krygsgevangenes, is vandag verlate en meestal onbewoon.

Bermuda bestaan uit een hoofeiland (ongeveer 37 km in lengte en op sy wydste slegs 4 km) wat, in die vorm van ’n vishoek, talle kleiner eilandjies beskermend omring. Dis op daardie klein eilandjies dat die krygsgevangenes geplaas is: Burt’s Island, Hawkins’, Darrell’s, Tucker’s, Morgan’s en dan Long Island waar die begraafplaas was. Dáár sou hulle veilig wees. Om daarvandaan te ontsnap, sou ’n onbegonne taak wees. Ene Frank Schell Ballentine het tereg toentertyd in ’n Amerikaanse tydskrif (The Outlook, 9 November 1901) geskrywe: ‘Napoleon was finally sent to St Helena because it had been found a very difficult thing to keep him secure in any other way. Cronjé was sent to St Helena to make sure of his whereabouts; and now it has become the fixed policy of Great Britain to transport all her Boer prisoners of war to distant islands like St Helena, Bermuda and Ceylon. For she can there keep them secure with less expenditure of men and means than she could possibly do anywhere in South Africa. BeFmuda seems to have been selected as a Boer prison camp because of its impregnable position as a British fortress, its numerous available islands and its general reputation for favourable climatic conditions’.

My eerste taak na my aankoms op Bermuda, was om in verbinding te probeer kom met mnr. Colin Benbow, skrywer van die boekie, BOER PRISONERS OF WAR IN BERMUDA, wat in 1962 deur die Bermuda Historical Society uitgegee is ter herdenking aan die beëindiging van die Tweede Vryheidsoorlog 60 jaar tevore, en wat omtrent tien jaar gelede ook hier in Suid-Afrika beskikbaar was. Deur bemiddeling van die uiters vriendelike en hulpvaardige mev. Mary Nash, argivaris van die Bermudase biblioteek, het ek mnr. Benbow baie gou opgespoor. Hy is geskiedenisonderwyser aan die Warwick Academy in Bermuda en het my vertel van al die hulp wat hy uit Suid-Afrika ontvang het met die opstel van sy boekie. Hy het naamlik in 1959 ’n brief aan ’n Sondagkoerant geskryf waarin hy gevra het dat persone in ons land hom van inligting en feite moes voorsien. Hy is oorval deur briewe, dokumente en ou foto’s van die krygsgevangenes wat vir hom van onskatbare waarde was. Op die oomblik is hy besig met die herskrywe van die boekie omdat hy soveel addisionele inligting in die hande gekry het. Hopelik sal die nuwe uitgawe ook uiteindelik in Suid-Afrika beskikbaar wees.

’n Wedstryd word gespeel op ’n tennisbaan wat die krygsgevangenes self gebou het. Let op die tente in die agtergrond. Foto: Staatsargief

Colin Benbow het my met sy motor van die een end van die eiland na die ander geneem (dit het nie veel langer as ’n halfuur geduur nie!) en ook na die plaaslike museum waar een hele groot glaskas vol is van ‘Boer prisoners’ Souvenirs’. Die meeste artikels is deur die gevangenes eiehandig uit hout gesny: naaldwerk- of juwelekissies; miniatuur-skoentjies (soms klein dosies) met dekseltjies op wat, as jy dit wegskuif, ’n klein houtslangetjie laat uitspring; talle kieries asook servetringe van been gemaak. Die interessantste was ’n paar miniatuur-sakmessies, presies volgens skaal en met twee of drie lemmetjies wat uitgetrek kan word. Waar het die Boere die metaal gekry hiervoor? Volgens mnr. Benbow het hulle muntstukke gebruik, Bermuda-muntstukke wat hulle met groot moeite platgekap het totdat die metaal dun genoeg was om in die vorm van klein messies gesny te word. Toe ek my verbasing uitspreek oor die geduld wat by die vervaardiging van een so ’n messie beoefen moes word, was Col in Benbow se aanmerking: ‘True. But you must not forget that the monotony of life in the camps was the prisoners’ most frequent complaint. To keep themselves busy called for great ingenuity.’

‘Mrs. Albertyn, wife of the Boer chaplain, with some of her protegés’

In die middel van die glaskas daar in die Bermudase museum, was ’n groot en nog baie duidelike foto van ‘Mrs. Albertyn, wife of the Boer chaplain, with some of her protegés’, Ouma, omring deur omtrent twintig seuntjies van haar Sondagskoolklas! Ek het geweet dat Ouma daar Sondagskool- sowel as Katkisasieklasse gehou het, maar het nooit besef dat daar soveel jong seuns onder die krygsgevangenes was nie. Volgens ds. J.A. van Blerk, skrywer van die boek, ‘Op die Bermudas beland’, was daar tussen 200 en 300 seuns tussen die ouderdomme agt en sestien. Hoe het hulle dan daar gekom? Benbow gee self die antwoord: ‘In many cases these youths had been taken prisoner while assisting their older relations in the front line. Some had been caught in military “drives”; others had just been rounded up and shipped out’. In die artikel waaruit ek vroeër aangehaal het (‘A visit to the Boers in Bermuda’ uit The Outlook, 9 November 1901) vertel die skrywer dat hy ’n paar van die seuntjies ondervra het en vervolg dan: ‘Little Pieter Cronjé, for instance, the youngest of them all (he was only eight when captured), says his father was away from home when he was taken. His mother had just gone to another farm. Then the British came along and took him away with an older brother of sixteen. John Viljoen is only nine years old. The occasion of his capture he tells as follows: the servants had left the farm. His father was away to the war. He was out in the veld tending the sheep. The khakis (British) came along and took him as well as the sheep. Another boy tells of his capture in the following way: he was on his way to the store with his father to buy provision for the Sabbath. The khakis came along, took their horse and wagon, himself and his father, and now they are held as prisoners of war in Bermuda.’

Drie van die Boerekrysgevangenes op Darrell’s Island. Die knapie links is agt jaar oud, die oubaas in die middel nege en sewentig en die seun regs, nege.

In die argief op Bermuda het ek op ’n hele paar foto’s afgekom van die seuntjies. Op die een staan twee oudjies, kaalgeskeerde koppe, driekwart broekies aan en hul wyerandhoede ewe vernaam op die grond voor hulle. Die onderskrif lui: ‘The two youngest prisoners, Piet Cronjé and Johannes van der Velde, 8 and 9 years old’. Op ’n ander foto, afgedruk in Benbow se boek, sit ’n waardige oubaas met ’n lang, grys baard voor ’n oopgeslane tent. Langs hom staan ’n seuntjie en aan die ander kant kniel een. Die onderskrif: ‘Darrell’s Island. The youngest (8) and the oldest (79)’.

Só het ek die hoofeiland leer ken deur die oë van Colin Benbow; die klein eilandjies deur die oë van Alexander Arnfield van die Bermuda-polisie. ’n Mens kan hulle duidelik van die hoofeiland af sien: die klein eilandjies in die bog van die ‘vishoek’, maar hoe om daar te kom? Want daar sou seker nog tekens wees van die duisende Boerekrygsgevangenes wat 74 jaar gelede soveel maande in ballingskap op hulle deurgebring het. Sersant Ardis van die plaaslike polisie het my te hulp gekom. In een van die talle klein baaitjies het ’n mooi, spierwit motorboot gelê en dobber. Aan die kant het geskrywe gestaan: ‘Bermuda Police Shore Patrol’. Ja seker, het sersant Ardis gesê, ek is welkom om saam te gaan as hulle die volgende dag hul roetine-patrollie tussen die menigste klein eilandjies maak. Die volgende dag is ek saam met konstabel Alexander Arnfield in die patrollie-boot uit. Om my ontwil het hy eers na Hawkins’ gevaar, die eilandjie waarop die grootste kamp was. Vandag is dit heeltemal verlate en onbewoon. Tot my teleurstelling het die driekwarteeu wat verloop het, feitlik alle tekens van die Boere se verblyf daar al uitgewis. Net op een plek was daar ’n klompie treetjies wat afgelei het na die see, waarskynlik een van hulle wasplekke. Tot vandag toe is ’n watertekort nog steeds Bermuda se allergrootste blok aan die been. Daar is hoegenaamd geen berge en dus ook geen riviere nie. Al water wat hulle het vir daaglikse gebruik, is reënwater wat van die witgekalkte dakke afloop in ’n ondergrondse tenk. Elke huis het een of twee onderaardse reënwatertenks. Toe die Boere destyds op die eilande aangehou is, was watervoorsiening aan die kampe natuurlik ’n baie groot probleem. Elke krygsgevangene het ’n daaglikse rantsoen van twee gelling water gekry. Dit was skaars genoeg vir was-, drink- en kookdoeleindes, dus is al hul klere in die see gewas. Hoe suksesvol kan ’n mens slegs raai! Ek het met die verweerde treetjies op Hawkins’-eiland afgeklim en in my verbeelding die Boere daar op ’n ry sien sit en was in die koue seewater met seep wat glad nie wou skuim nie!

Van Hawkins’ af is ons na Long Island, die Boere-begraafplaas. Ek het vooraf in die argief vasgestel dat daar altesaam slegs 35 krygsgevangenes op Bermuda oorlede is (23 burgers is onderweg na die eiland op die skip oorlede en ter see begrawe). Die klein aantal sterfgevalle dui ongetwyfeld daarop dat die klimaat met die krygsgevangenes geakkordeer het. Ook het hulle skynbaar goeie mediese dienste en hospitaalversorging geniet. In die amptelike militêre verslae van destyds word die oorsaak van die dood onder andere aangegee as: maagkoors, longontsteking, klierkanker, tering en hartverlamming.

Konstabel Arnfield het die bootjie vasgemeer en ons het afgeklim. ’n Mens loop deur die hoë gras en bosse effens opdraend en op die hoogste deel van die eilandjie lê die begraafplaas, of oorblyfsels daarvan. Dit is omring deur ’n vervalle, witterige kalkklipmuur en ’n paar grafstene is hier en daar sigbaar. Die ander is totaal toegegroei deur bossies, gras en onkruid. Die meeste grafte is slegs herkenbaar aan die hopie wit klippe wat eenmaal ’n grafsteen was, maar wat baie lank gelede reeds omgeval het. Op die enkeles wat nog staande gebly het, is daar slegs ’n nommer, geen naam nie.

’n Mens voel dat jy gewyde grond betree as jy jou weg verder deur die gras en onkruid baan en in die middel van die begraafplaas by die monumentjie aankom. Dié is nog in ’n goeie toestand en is in die vorm van ’n granietsuil wat op voetstukke van sandsteen rus. Op die boonste voetstuk staan: ‘Ter herinnering aan de Boerenkrijgsgevangenen die gestorven zijn te Bermuda 1901—1902. Opgericht door hun mede-gevangenen. Ik ben een vreemdeling op de aarde. Ps. 119:19. In het huis mijns Vaders zijn vele woningen. Joh. 14:2’ (Dieselfde woorde—behalwe die Bybeltekste—is op die ander sy in Engels aangebring.) Op die middelste voetstuk is die nommer van elke grafsteen gegraveer en daarnaas die naam van die persoon wat daar begrawe is, byvoorbeeld :

29 B.E. Meyer                      begraven 15.8

30 W.J.J. van Zyl                  begraven 23.8

ens.

Al hierdie inskripsies (sowel as die nommers op die grafstene) is, nogal heel kunstig, gedoen deur ene F. van der Merwe, afkomstig uit Fauresmith O.V.S. en glo onder die krygsgevangenes bekend as Rooi Faan.

Die monument op Bermuda ter gedagtenis aan krygsgevangenes wat op die eiland gesterwe het.

Dit was vir my ’n ontroerende, onvergeetlike oomblik om by daardie gedenksuil in die verwaarloosde Boere-begraafplaas te staan oor die helderblou waters van die Atlantiese oseaan te staar, en in my verbeelding my oupa Albertyn en ’n groepie krygsgevangenes om die geopende graf te sien van ’n makker wat daar, duisende kilometer van huis en haard af, in die vreemde grond van Long Island weggelê word. ‘What a pity it is so neglected,’ het konstabel Arnfield my mymeringe onderbreek. Ja, dit is ’n jammerte, eintlik ’n tragedie, en ’n mens wonder of daar nie reëlings getref kan word met die owerhede op Bermuda om die begraafplaas, die stukkie heiligdom van die Afrikanervolk, in ’n beter toestand te bring en so te hou nie.

Terwyl konstabel Alexander Arnfield en sy patrollie-bootjie my terugneem, kyk ek vir Iaas na die klompie verlate klein eilandjies wat 75 jaar gelede gewemel het van Boere-krygsgevangenes. Die woorde van Langenhoven kom in my gedagtes op: ‘Ons huldig die roemryke dade van ons helde, en dit is reg; want hulle glorie is ons eer … Laat ons hulle eer, my maat. Hulle was maar mense soos ek en jy; en wie weet of ek en jy, as dieselfde beroep op óns sou gedoen word – wie weet of ons die proef sou deurstaan het!’

Bron: Webb, Margaret. 1976.  Lantern, September, pp. 36-41.