Audrey Blignault (1916-2008)

Johan Stemmet (1952-)
December 8, 2020
Interessante internasionale nalatenskappe van die Anglo-Boereoorlog
December 10, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Audrey Blignault was ’n Afrikaanse skrywer en joernalis wat veral bekendheid verwerf het vir haar essays, kortverhale en sketse, en in die 1940’s die aanbieder van die program Vrouerubriek wat op die Afrikaanse radiodiens van die SAUK uitgesaai is.

Audrey Bettie Swart is op 6 Julie 1916 op die plaas Heuninrugf naby Bredasdorp in die Wes-Kaap gebore. Sy was die oudste kind van Johannes Jochemus Albertus Swart, ’n prokureur wat ’n tyd lank burgemeester van Bredasdorp was, en Maria Kennedy, ’n Ierse musiekonderwyseres wat musiek onder professor Jannasch aan die Universiteit van Stellenbosch bestudeer het. Haar pa was Afrikaanssprekend en haar ma Engelssprekend, en sy het twee jonger broers, Ken en Christopher, gehad. Sy het in 1933 matrikuleer, waarna sy verder aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer het. Hier het sy haar BA-graad in Afrikaans-Nederlands behaal, en later haar MA-graad met onderskeiding verwerf. Daarby het sy ’n sekondêre onderwysdiploma verwerf. Daarna het sy ’n tweetalige onderwyskursus, wat op ’n diploma in drama en toneelkuns uitgeloop het, met onderskeiding verwerf. Tydens haar studentejare het sy saam met WA de Klerk, FA Venter, Ernst van Heerden en haar latere man, Andries Blignault, op die redaksie van Die Stellenbosse student gedien. Van 1940 af was sy ’n dosent aan die Wellington Opleidingskollege en later het sy onderwys aan die Rynse Meisieskool in Stellenbosch gegee. Sy is op 28 Junie 1941 op Swellendam met Andries Blignault getroud en een dogter, die skrywer Marié Heese, is uit die huwelik gebore.

Haar man se werk aan die Jan Kriel-skool het hom laat besluit om in die geneeskunde te studeer met die oog op psigiatrie en hulle het hulle in Pinelands in Kaapstad gevestig. In daardie tyd was Audrey die redakteur van die tydskrif Die huisvrou; ’n pos wat sy elf jaar lank beklee het. Sy het geen redaksionele ervaring gehad nie, en omdat die vorige redakteur onverwags oorlede is en daar niemand by die uitgewer was wat haar kon bystaan nie, is sy aan die diep kant ingegooi. In hierdie tyd het die skrywer en radio-omroeper Willem van der Berg daarop aangedring dat sy begin met spesiale radioprogramme vir vroueluisteraars. Sy was van Februarie 1946 verantwoordelik vir die program Vrouerubriek, wat sy, met enkele onderbrekings, tot in 1992 behartig het. Ander radioprogramme waarvoor sy verantwoordelik was, was Wat kan ek lees en Boeke vir ons kinders. Van hierdie tyd af het sy ook gereeld praatjies aangebied by leeskringe, vrouelandbou-unies en ander instansies, waar sy mense met geesdrif aangemoedig het om te lees. Sedert 23 Augustus 1950 het sy die rubriek “Uit die dagboek van ’n vrou” in die tydskrif Sarie Marais (vandag Sarie) behartig; sy het tot Mei 1972 hiermee volgehou, en die rubriek in Julie 1976 hervat. In Mei 1955 het sy die redakteur van Naweekpos geword en in 1960 die redakteur van die reeks Juweelnovelles, ’n reeks boeke uit die wêreldletterkunde wat in Afrikaans vertaal is.

In 1953 het sy ’n keur van die essays wat sy vir die rubriek “Uit die dagboek van ’n vrou” geskryf het, vir Nasionale Boekhandel aangebied, maar die uitgewer het dit afgekeur omdat hy geglo het dat dit nie goed genoeg sou verkoop nie. Die besturende direkteur van Nasionale Boekhandel, Recht Malan, het egter anders besluit, en in 1955 het dit eindelik onder die titel In klein maat verskyn. Hierin het sy veral die wêreld en ervarings van die vrou onder die loep geneem en op vermaaklike wyse betekenis gehaal uit selfs onbenullige gebeurtenisse. Na die sukses van hierdie bundel is verdere keuses van haar rubrieke gebundel in onder meer Die vrolike lied, Die plesierboom, Om die son te aanskou, Nogtans sal ek jubel en Die rooi granaat. In 1961 is Die vrolike lied, In klein maat en haar bydrae tot die versamelbundel Die dammetjie met die Eugène Marais-prys bekroon. Daarby het sy ’n aantal godsdienstige lektuur die lig laat sien, soos Die uitdaging van die huwelik. In Blywende vreugde is haar briewe aan familie en kennisse gebundel en na haar dood het haar dogter die versamelbundel Uit die dagboek van ’n vrou saamgestel.

Op 2 Mei 1967 is Audrey se man in ’n motorongeluk dood. Sy is in hierdie ongeluk ernstig beseer en daar is vir haar lewe gevrees aangesien sy lank in ’n koma was. Sy is hierna in 1970 getroud met Attie de Villiers, ondersekretaris van die Parlement; lank nadat hulle in Kampsbaai in Kaapstad gewoon het, het hulle in 1992 na die Berghof-aftreeoord in Kaapstad Tuine verhuis. Audrey was lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en in 1973 was sy die eerste vrou wat tot die Fakulteitsraad van die Akademie verkies is. Sy was ook lank lid van die Letterkundige Kommissie.

Audrey is op 1 Oktober 2008 in die ouderdom van 92 jaar aan longontsteking oorlede.