Artikel 137 en eksamentaal

Meningsverskil oor ras
January 23, 2015
Nederlands was te moeilik vir baie
January 23, 2015

Die nuwe taalartikel het binne enkele jare ’n belangrike gevolg vir skool- en universiteitseksamens gehad, en daardeur op die duur ook vir die onderrigmedium van albei. Tot dan was Engels die enigste eksamentaal van die eerste eksamineringsliggaam vir skole en universitêre inrigtings. Dit was die University of the Cape of Good Hope (UCGH) wat in 1873 ontwikkel het uit die Board of Public Examiners (1858). Die UCGH het eksamens waargeneem vir die “university school higher” (later junior sertifikaat), matrikulasie, die “Intermediate B.A. Examination” (’n diploma gelykstaande aan ’n eerstejaar-Baccalaureusstudie) en gevorderde universiteitseksamens.

Omdat Engels eksamentaal was, wou onderwysers hul leerlinge daarin oplei. Die UCGH was met sy taalbeleid verantwoordelik daarvoor dat Hollands as voertaal so selde gebruik is. Aan die universiteitskolleges was die meeste dosente bowendien mense wat uit Brittanje gekom het. Opgeleide Afrikaners was nog skaars. Daar was wel enkele Nederlanders en Vlaminge. Die bekendste vroeë universiteitskolleges was die South African College (later Universiteit van Kaapstad), en Victoria-kollege (later Universiteit van Stellenbosch), wat ontstaan het uit Het Stellenbosch Gymnasium. Dié het gevolg op die totstandkoming van die Teologiese Kweekskool van die NG Kerk in 1859. In 1885 het die eerste student wat opgelei is aan die Gereformeerde Teologiese Skool op Burgersdorp sy BA met lof geslaag. Sedert 1898 het matrikulante hulle aan die Greykollege in Bloemfontein vir die “Intermediate BA” voorberei.

Die eksamen- en universiteitstelsel het teen die begin van die 20ste eeu niemand meer tevrede gestel nie. Van 10 tot 22 Februarie 1908 is ’n interkoloniale konferensie daaroor in Kaapstad gehou. Die konferensie het gemeen die oplossing vir die universiteitsvraagstuk “will be the establishment of a South African University with constituent or affiliated Colleges”. Dit sou saamsmelt met die UCGH en die setel sou in Kaapstad wees.

Daar het egter niks van die voorstel tereggekom nie, onder meer omdat geen erkenning hoegenaamd aan Hollands gegee sou word nie. Die Hollands-Afrikaanse koerante en talle Afrikaners soos president Steyn en Gustav Preller het die beoogde miskenning van Hollands skerp veroordeel. Die besluit van die Nasionale Konvensie om Hollands te erken, het daartoe gelei dat die UCGH-raad besluit het om van 1911 af ook Hollands vir die juniorsertifikaateksamen toe te laat. Van 1912 af is die reël uitgebrei na die seniorsertifikaat- en matrikulasie-eksamen. Die UCGH het die universiteitskolleges in 1916 verlof gegee “to allow candidates to use Dutch as their medium in answering questions in the B.A. Pass and Honours Examinations in and after 1916 in all subjects except English”.

Hierdie aanpassings het die taalbeleid van universiteite en skole die hele 20ste eeu beïnvloed. Toe die Universiteit van Suid-Afrika in 1918 die UCGH opvolg, is Hollands, later Afrikaans, as eksamentaal erken. Die eindeksamen sou nie meer ’n rede vir skole bly om NET Engels as onderrigmedium te gebruik nie.