Armoede en ’n arbeidskolonie

Eerste Afrikaners in die Goudstad
May 19, 2015
’n “Tempel van edele arbeid”
May 21, 2015

SJ du Toit en ander se goudmyn-avontuur was ’n pynlike mislukking. Nog voor dit het Afrikaners al bewus geraak van hul droewige ekonomiese agterstand. Die Patriot het sy lesers aangemoedig om Afrikaanse ondernemings te steun. Maar selfs in Transvaal waar boerewinkels steun van die Zuid-Afrikaansche Handelsmaatschappij in Amsterdam geniet het, het sulke ondernemings ’n verlore stryd teen praktiese probleme gevoer.

Die boerdery was nog die belangrikste bron van inkomste van die Afrikaner. En hoewel boere dikwels onwetenskaplik geboer en onoordeelkundig grond verkoop het, het die posisie van boere in die laaste twee dekades van die 19de eeu langsaam begin verbeter. So het die groeiende bevolking aan die Witwatersrand meer kos nodig gehad, wat die vleis- en suiwelbedryf bevorder het. Skaapboerdery was nog die vernaamste bron van inkomste van Afrikaanse boere, ook omdat wol nog so ’n belangrike produk gebly het. In 1891 was daar 13 631 000 wolskape in die Kaapkolonie, 5 916 000 in die Vrystaat, byna 800 000 in Natal en ’n onbekende aantal in Transvaal. In 1898 is 73 733 000 pond wol ter waarde van £1 767 000 uitgevoer.

In die Wes-Kaap was koring en wyn die vernaamste landbouprodukte. In 1891 was daar 78 574 000 wingerdstokke in die Kaapkolonie en is 6 012 000 gelling wyn en 1 423 000 gelling brandewyn gestook. Maar juis in dié tyd het die phylloxera-luis groot verwoesting onder die wingerde aangerig. Baie boere het hulle op vrugte begin toelê waarvoor die mark gegroei het.

Maar tog het die armoede in daardie jare toegeneem. Heelparty Afrikaners was sonder enige inisiatief of ambisie. Ander oorsake vir die toenemende blanke armoede was die onderverdeling van plase tot onekonomiese eenhede, en gebrekkige onderwys, wat jong Afrikaners weerloos gelaat het in ’n nuwe wêreld. Baie was hulpeloos teenoor handelaars, en het maklik skuld gemaak. Soms is roekeloos geld uitgegee op onnodige luukses. ’n Behoeftige weduwee het een keer £20 uit ’n hulpfonds ontvang – en toe dadelik vir haar ’n spieël van £12 gekoop wat byna nie in haar kamer kon staan nie!

Die armoede is vererger omdat soveel mense op swaar hande-arbeid neergesien het. Hulle was geneig om dit “kafferwerk” te noem en het swartes in die hande probeer kry daarvoor. GD Scholtz noem dié mentaliteit “waarskynlik die grootste skadukant van die Afrikaanse volkslewe”. Dit het tyd gekos voordat mense hul trots oorwin en byvoorbeeld as messelaars of op die Spoorweë gaan werk het. Die Kaapse NG Kerk het begin met ’n arbeidskolonie by Kakamas aan die Oranjerivier. Op Maandagoggend 4 Julie 1898 het sowat 250 mense op die wal van die Oranje by Neus byeengekom om die suidvoor te begin uitgrawe onder leiding van CWH Schröder, bygestaan deur JJ (Oom Japie) Lutz. In 1899 is met werk aan die noordvoor begin. Ondanks al die gebrek aan geld en die armoede van die mense het die werk gefloreer. Die Kerk was van mening dat die rehabilitasie van die armes net kan slaag as daar streng dissipline heers. Die gevolg was streng reëls en regulasies wat soms ongewild was.