“Armblankes” maak ook vordering

“Die Rooidag van die Afrikanerdom”
January 23, 2015
Gelukslae en ’n suksesverhaal
January 23, 2015

Werke soos Ampie het die “armblanke” as motief gehad. Die benaming armblanke kom waarskynlik van die meestal minagtende Amerikaanse uitdrukking Poor White. Onze Arme Blanken was die titel van ’n ope brief van doktor Andrew Murray in Januarie 1893. Onder die rykstes in die land was daar byna geen Afrikaner nie, maar by die brandarmes is Afrikaners by die 100 000e getel, skryf GD Scholtz. Daar was sowat 300 000 armblankes, meer as ’n kwart van die totale aantal Afrikaners.

Die regering het in 1928 ’n kommissie aangestel om die vraagstuk te ondersoek. Dit was die Carnegie-kommissie, só genoem omdat die Carnegie-korporasie in Amerika geld vir die ondersoek geskenk het. Die Carnegie-verslag is in 1932 gepubliseer. Dit het bestaan uit ’n ekonomiese, sielkundige, opvoedkundige, gesondheids- en sosiologiese verslag deur onderskeidelik doktor JFW Grosskopf, professor RW Wilcocks, professor EG Malherbe, doktor WA Murray en ten vyfde dominee JR Albertyn en die skrywer en oudjoernalis MER, organiserende sekretaresse van die ACVV. Die verslag het verskyn in ’n depressie (1929 tot 1933) en droogte (1932–1933) wat duisende Afrikaners na die stede gedryf het. Hulle was almal feitlik net vir ongeskoolde arbeid geskik en nêrens welkom nie. “’n Gebrek aan opleiding maak dat hierdie seuns net geskik is vir pik- en graafwerk en geleidelik groei die skaar van armblankes aan”, het ’n amptenaar gesê. Baie werkgewers was vooringenome teenoor Afrikaners.

’n Volkskongres oor die armblankes is van 2 tot 5 Oktober 1934 in Kimberley gehou met dominee JR Albertyn as een van die dryfkragte. Een van die sprekers was doktor HF Verwoerd van die Universiteit van Stellenbosch. Op grond van sy voorstelle het die regering ’n departement van volkswelsyn ingestel. In die vorige eeu het gebrek aan kapitaal en kennis en ervaring gelei tot die mislukking van die Afrikaner in die ekonomie. Die kennis het gegroei met fakulteite van ekonomiese wetenskappe aan die Afrikaanse universiteite. Jong Afrikaners soos MS Louw en CGW Schumann het in die buiteland verder gaan studeer in handel en ekonomie. Stadig maar seker het Afrikaners ook in die geleerde beroepe toegeneem. In 1926 was 13,5% van die dokters, 18,5% in die regsberoep  5,1% van die ingenieurs en 2,1% van die argitekte Afrikaners.

Die verkryging van kapitaal was moeilik, maar in 1934 is tog gevorder toe JJ Bosman en ’n paar vriende ’n koöperatiewe spaar- en leningsbank gestig het met die voorneme om dit uit te brei tot ’n handelsbank. Bosman, ’n konsentrasiekampkind wie se ouers geldelik geruïneer is deur die oorlog, het die saak eers met die Broederbond bespreek. ’n Vooraanstaande lid, professor LJ du Plessis, het die gedagte van so ’n bank geopper. By die stigting was daar 55 Broeders en 28 van hulle het 605 £1-aandele gekoop. Die bank het in 1935 begin sake doen, met Bosman en ’n tikster as enigste personeel. Op 1 Maart 1941 het dit ’n handelsbank geword met die naam Volkskas en tjekrekenings geopen. Die bates het van £13 000 in 1935 toegeneem tot £16,5 miljoen in 1949. Met Volkskas is die gedagte versterk dat Afrikaners moet saamstaan.