Apartheid skep bitterheid

Stryd oor kieserslyste
January 25, 2015
’n Industriële revolusie
January 25, 2015

Die apartheidsmaatreëls het, soos die Anglo-Boereoorlog, opnuut ’n kloof tussen wit en bruin Afrikaanstaliges geskep. Ongeveer 70 000 bruin, 30 000 Indiër- en 1600 wit gesinne is ingevolge die Groepsgebiedewet verskuif uit buurte waarin hulle vroeër gewoon het. Baie van die bruin en Indiërgesinne het in swak omstandighede gewoon en is in gunstiger omstandighede gehuisves. Maar dikwels moes hulle ook goeie huise in ordentlike woonbuurte prysgee en trek na nuwe oorde in die buitewyke van stede en dorpe.

Die Groepsgebiedewet en die toepassing daarvan het frustrasie en bitterheid by baie bruin mense gewek. Hulle het dit ’n “wrede wet” genoem. Die dwang om uit bepaalde gebiede te trek, was nie net ’n harde finansiële slag nie, maar ’n aantasting van menswaardigheid. Mense moes dikwels padgee na onherberg-same oop vlaktes of na ’n buurt, weggesteek agter ’n bult en ver van die middestad of -dorp. Blanke selfsug en ’n strewe na eie gewin het soms ’n groot rol by die verskuiwings gespeel. Baie bruin grond- en huiseienaars het geldelike verliese weens gedwonge hervestiging gely. ’n Blanke sakeman het later verklaar: “Daar is soveel te meer wrewel omdat daar gevalle is waar binne afsienbare tyd reusewinste gemaak is deur blankes wat sulke eiendomme opgekoop het.”

Talle bruin mense is verskuif uit gebiede waarin hulle goed, rustig en gerieflik gewoon het na nuwe dorpe wat hulle nie self gekies het nie. Amptenare het in die verskuiwingsproses soms min deernis met hulle gehad. Soms moes hulle op ongeleë tye, in skool- of werktyd, trek. Van die huise wat hulle noodgedwonge moes betrek, was swakker maar die huur hoër. Groot onsekerheid het ontstaan. Iemand het jare daarna gesê: “As die witmense se huise so oor die bult begin kom, dan wonder ons of ons weer sal moet trek.”

Die skrywer WA de Klerk verklaar dat die gebrek aan menslikheid in die wet-gewing en die toepassing daarvan, vreemd was “aan die ware tradisie en aard van die Afrikaner”. Bitterheid is geskep deur die vernietiging van die “mees Kaapse deel van die Kaap – Distrik ses”. Miskien nog die bitterste van almal, skryf WA de Klerk, is “die aanslag op ou gemeentes van die Nederduits Gereformeerde Sendingkerk, sodat historiese kerke vandag op verskeie plekke in Wes-Kaapland staan as stille getuienis.” Apartheid as konsep, as lewens- en wêreldbeskouing, het ’n “prys aan menseleed geverg wat nóóit bereken is nie”, skryf hy.

Baie bruin mense het geëmigreer, veral na Kanada. Onder hulle was daar onderwysers, dokters en ambagslui. Suid-Afrika, en die Afrikaanse gemeenskap, het so briljante mense verloor. Die wette wat gemaak en meestal toegepas is deur Afrikaners, het tot ’n negatiewe houding teenoor die Afrikaner en Afrikaans gelei. Om ekonomiese, maar ook politieke redes het ouers al meer hul kinders in Engels grootgemaak en na Engelse skole gestuur. Doktor AM Hugo, akademikus, kerkman en skrywer, het opgemerk: “Ons sien duisende getroue lidmate ’n kerk verlaat wat nie die moed skyn te hê, soos die Engelse kerke, om openlik te praat oor hierdie aangeleentheid nie.”