Apartheid: Die verhaal in vier dele

Henry Wolhuter steek ’n leeu met ’n mes dood
Mei 3, 2017
Andries se waterwiel in die Apies word Meintjes se meule
Junie 19, 2017

Deur Marthinus van Bart

’n DVD wat die komplekse verhaal uiteensit van apartheid en afsonderlike ontwikkeling as politiek-maatskaplike pogings om staatkundig orde in Suid-Afrika met sy diverse veelvolkige en etniese gemeenskap oor veertig jaar te handhaaf, is pas in vier dele deur Ulula Produksies in samewerking met die Hendrik Biebouw Trust bekend gestel.

 

Die teks van Apartheid: Die verhaal in vier dele, met ’n tydsduur van sowat drie uur, is deur Flip Buys, voorsitter van Solidariteit, geskryf. Die redakteur van die opname is prof. Hermann Giliomee, historikus van Stellenbosch, en die regisseur en verteller is Hennie van der Merwe, rolprentvervaardiger, tegnies bygestaan deur Sanet Scheepers, albei van Ulula Produksies. Die illustratiewe kamerawerk is behartig deur Marc Degenaar en Andy Freeman.

Die dokumentêr is ’n poging om die formele boekstawing te wees van die bewindstydperk van die Nasionale Party van 1948 tot 1994 en die toepassing van die beleid van apartheid, mettertyd gewysig tot afsonderlike ontwikkeling. Ondanks alle goeie bedoelings, is die politieke ideaal om elke etniese gemeenskap in Suid-Afrika sy eie grondgebied en selfregering te gun, ná die sluipmoord op die premier dr. HF Verwoerd in 1966 stelselmatig gedekonstrueer sodat die land vandag ’n demokratiese vasalstaat van die Nuwe Wêreld(wan)orde is.  

Hoewel die deelnemers aan die projek toegee dat die apartheidsbeleid op voetsoolvlak ernstige tekortkominge gehad het, word ook daarop gewys dat dit tog ’n poging was om sonder die prysgawe van die mag en lewenstandaarde van die wit, Westerse beskawing ’n regverdige bedeling te skep waarbinne die potensiaal van elke etniese groep in Suid-Afrika binne afsonderlike groepsgebiede verwesenlik kon word. Die gewelddadige verdringing van etniese minderheidsgroepe, soos die wit gemeenskap, deur oorweldigende Afrika-meerderheidsgroepe met hul radikaal andersoortige lewens- en werklikheidsopvattings en standaarde, moes teen elke prys voorkom word. Vir die Nasionale Party van Verwoerd was die beleid wesenlik ’n oorlewingstrategie vir ’n wit Christelik-nasionale kultuurgemeenskap in Afrika. 

In die dokumentêr word onderhoude gevoer met sommige oud-ministers en -parlementslede uit die laaste bewindsdae van die Nasionale Party en wit heerskappy, naamlik FW de Klerk, Pik Botha, Roelf Meyer, Barend du Plessis, Rina Venter, André Fourie, Ferdi Hartzenberg, Stoffel van der Merwe en Koos van der Merwe. Politieke waarnemers, staatkundiges en meningsvormers wat aan die retrospektiewe gesprek deelneem, is Constant Viljoen, Jan Heunis, Mangosotho Buthelezi en Dave Stewart, en akademici wat hul mening gee, is Andreas van Wyk, Willem Boshoff, Theuns Eloff, Danie Goosen, Wessel Visser, Koos Malan en Mary-Anne Plaatjies van Habbel. Ander gespreksgenote is Danie Langner (FAK en Die Voortrekkers), Kallie Kriel (Solidariteit), Carel Boshoff (Orania), Pieter Venter (Broederbond), Mathews Phosa (digter), Tim du Plessis (politieke beriggewer van Naspers) en Anzelle Meyne (psigiater).    

Dit is sterk aan te beveel dat die nuutste boek uit die pen van prof. Giliomee, Historikus Hermann Giliomee, ’n Outobiografie, gelees word voordat na die DVD, Apartheid: Die verhaal in vier dele, gekyk word. Die boek is einde verlede jaar deur Tafelberg uitgegee. Daarin word in fyn besonderhede verslag gelewer oor die politieke rolspelers in die finale episode van die Nasionale Party en die halfgebakte onderhandelings wat gelei het die swart meerderheidsregering wat Suid-Afrika vandag van die een maatskaplike krisis na die volgende laat steier.  

Die dokumentêr neem sy vertrekpunt by die koms van die Europeërs in 1652 na die suidpunt van Afrika om die Kaap die Goeie Hoop as halfwegstasie vir handelaars op die seeroete tussen Europa en die Verre-Ooste te vestig. Die lyn word van daar deurgetrek na Britse besitname en oorheersing, Uniewording en die politieke oorwinning by die stembus in 1948 van die Afrikaners se Nasionale Party.

Daar word stilgestaan by die Kaap as aanvanklike halfwegstasie van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, maar mettertyd word dit die heimatland van die Vryburgers, aangevul vanaf 1688 deur die koms van die Franse Hugenote. Die grondgebied was van toe af nie meer ’n suiwer Nederlands-koloniale besitting, soos die VOC dit aanvanklik beoog het nie. Met die botsing van die patriotiese front van Vryburgers en Hugenote met die korrupte VOC-amptenary tydens die bewind van goewerneur WA van der Stel, is Nederlandse kolonialisme op die vasteland die nekslag toegedien.

In 1795 het ’n Britse oorlogsvloot die feitlik weerlose Kaap met kanongebulder en wapengeweld binnegeval en oorwin. Die feodale stelsel van Britse kolonialisme is in The Cape Colony in werking gestel, met die gepaardgaande oorlogswolke wat meer as ’n eeu lank nie weer van die suidpunt van Afrika gewyk het nie. Die kortstondige teruggawe van middel 1803 tot einde 1805 van die Kaap aan Nederland, het die verligte Bataafse Bewind met sy Napoleontiese credo van “vryheid, gelykheid en broederskap” en onder die leierskap van adv. JA de Mist die geleentheid gebied om ’n maatskaplike eksperiment, die sogenaamde demokrasie, vir die Kaapkolonie te beplan. Die Kaap van Goeie Hoop sou die eerste demokratiese land ter wêreld wees, was De Mist se ideaal, maar voordat hy sy regeringsvorm in werking kon stel, het Brittanje, indertyd die grootste koloniale mag ter wêreld, die Kaap in 1806 weer in besit geneem en die Britse vlag tot die einde van die 1950’s oor die land laat wapper. Eers met Republiekwording in 1961 – deur die toedoen van dr. Verwoerd – het die land volwaardig onafhanklik geword.

Die Britte se onsensitiewe angliseringsprogram en sy gebrek aan simpatie met die Dietse en Hugenote (Afrikaner-) bevolking in hul bestaansproblematiek het die Groot Trek en verskeie geweldsbotsings tot gevolg gehad. Die stigting van die onafhanklike Boererepublieke van Natalia, die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek van Transvaal het gelei tot gewapende konflik met Brittanje en sy ryksuitbreidingdrif  in Suider-Afrika. Die gewelddadigste hiervan was die Anglo-Boereoorlog en Britse besitname van onder meer die fabelagtige goudrif van die Witwatersrand.

In 1910 volg Uniewording as gedeeltelike selfregering deur die wit bevolking onder die langarm-beheer van Groot-Brittanje. Toe die Afrikaners in 1948 by die stembus daarin slaag om die landsregering oor te neem, was Suid-Afrika steeds nie volkome onafhanklik van Brittanje nie. Dit het dr. HF Verwoerd eers in 1961 kon bewerkstelling met Republiekwording en die verbreking van bande met Brittanje en die Gemenebes. Voordat Verwoerd sy verbeterde maatskaplike plan om apartheid na afsonderlike ontwikkeling te wysig in werking kon stel om van Suid-Afrika ’n beter land vir al sy inwoners van alle rasse, gelowe en herkomste te maak, is hy op dramatiese wyse in die hart van die Parlement in Kaapstad vermoor.

Wat nie in die dokumentêr vermeld of bespreek word nie, is dat dr. Verwoerd in 1966 van plan was om die ernstige wurggreep van die internasionale geldmag op Suid-Afrika se ekonomie en nywerhede in die parlement te onthul, en om stappe aan te kondig om dit te neutraliseer. Die Hoek-verslag, bevattende hierdie verdoemende inligting oor die werklike internasionale vyand van Suid-Afrika, is nooit gepubliseer nie. Verwoerd se opvolger, adv. BJ (John) Vorster, het die verslag as hoogs vertroulike staatsgeheim verklaar.

Ook word in die dokumentêr ongenuanseerd na die omstrede Sharpville-onluste verwys as “die doodskiet van betogers deur die polisie”. Die volledige feite van die insident as ’n fragment van ’n hele reeks noukeurig beplande geweldsvoorvalle kom nie ter sprake nie. Dat vasgekeerde wit en swart polisiemanne, wat vir hul lewe gevrees het en dat hulle uit noodweer op die oormag gewapende aanvallers geskiet het, word nie bespreek nie. Ook word niks vermeld van die reeks fyn beplande voorvalle van massageweld, voorafgegaan deur onder meer aanvalle op voorstedelike treine by New Canada-stasie en die koelbloedige moord op masjiniste, treindrywers en kondukteurs, openbare geweld in die Indiërbuurt Cato Manor en die Harris-bomaanval op die Johannesburgse stasie waarin ’n jong meisie lewenslank vermink en geskend is en haar ouma vermoor is nie. Ook verneem die kyker nie van sentrale kraglyne en ander strategiese installasies wat met plofstof opgeblaas is nie. Die Rivonia-verhoor, onder andere, het skokwekkende inligting oor ’n noukeurig beplande landswye geweldsrewolusie onthul, soos dat die beplanning van hierdie grootskaalse, landswye geweldpleging  in Londen en Dar-es-Salaam gedoen is, en plofstof onder meer van Rusland en China verkry is. Hierdie uiters belangrike feite word ongelukkig glad nie in die dokumentêr onder die loep geneem nie. 

Daar word wel uitgewei oor die détante (uitreiking) van die Vorster-regering met Suid-Afrika se buurstate en die oorgrens-terrorisme op Suid-Afrika se boeregemeenskappe, asook die sogenaamde grensoorlog in Suidwes, Caprivi en die Noord-Transvaalse grensgebiede. Binnelandse oproer en “rollende massa-aksie” is grootliks aangevuur deur die Engelstalige pers, akademici by Engelstalige universiteite en geestelikes van die Engelstalige kerkgenootskappe.

Uiteindelik, weens buitelandse inmenging en ekonomiese druk, boikot-aksies en intriges in interne politieke geledere, is die Nasionale Party ontbind. Die rampspoedige Kodesa-onderhandelings het die wit regering van Suid-Afrika finaal beëindig en die land is sonder betekenisvolle wigte en teenwigte deur FW de Klerk en sy vertroulike politieke, ekonomiese en akademiese dampkring – in die dokumentêr word slegs sy stem gehoor – oorgegee aan die “een man, een stem” van Afrika.

Die meeste van die gespreksgenote eggo dr. Verwoerd se verdoemende voorspelling dat die oorgawe van die politieke mag aan ’n swart meerderheid, die witman in Afrika stelselmatig van ’n veilige tuiste en blink toekoms in sy geboorteland sal beroof. Hulle is dit eens dat die huidige bedeling van “een man, een stem” in ’n etnies plurale samelewing, nie net onregverdig is nie, maar dat dit van die witman ’n magtelose randfiguur, ’n ooggetuie van ingrypende maatskaplike verval, én ’n slagoffer van onderdrukking en verdrukking maak. 

 

* Die DVD Apartheid: Die verhaal in vier dele kan van Ulula Produksies by e-pos: [email protected] bestel word, en die boek Historikus Hermann Giliomee, ʼn Outobiografie (Tafelberg Uitgewers) kan by enige goeie boekwinkel aangevra word.