Anton van Wouw, die bekende pionier-beeldhouer van Suid-Afrika, se beeldhouwerke is op verskeie plekke in Suid-Afrika te sien – op openbare pleine, in kunsmuseums en in privaat versamelings. Sommige daarvan is bonkige, indrukwekkende beelde en beeldgroepe wat bakens en helde van ’n veelbewoë tydperk in die land se geskiedenis uitbeeld, ander is klein en meesterlik uitgevoer – beelde van alledaagse mense met wie hy saamgeleef en gewerk het.
Van Wouw beklee beslis ’n ereplek in die beeldhougeskiedenis van ons land. Na Anton Anreith is hy
die eerste beeldhouer wat in Suid-Afrika roem verwerf het. Hoewel hy nie ’n gebore Suid-Afrikaner was nie, spreek sy liefde vir, en begrip van sy aangenome vaderland uit sy kunswerke wat meestal ’n Suid-Afrikaanse tema het.
Anton van Wouw is op 26 Desember 1862 te Driebergen in die provinsie Utrecht, Nederland, gebore. Reeds op skool het hy blyke van kunsaanleg begin toon. Terwyl hy middelbare leerling was, het hy saans die Akademie in Rotterdam besoek en kuns bestudeer. Hy het leer teken en skilder, maar geleidelik ontdek dat hy groter aanleg vir modelleerwerk het.
In 1882 het sy vader na Suid-Afrika verhuis waar hy ’n betrekking in Pretoria aanvaar het. Anton en sy vader het met mekaar gekorrespondeer en die jongman se belangstelling in Suid-Afrika het toegeneem. Sewe jaar later, in 1889, emigreer hy ook na Suid-Afrika en vestig hom eweneens in Pretoria. Vir ’n kunstenaar was daar indertyd geen werk nie. Hy moes in ’n geweerwinkel werk en reparasies aan gewere verrig. In sy vrye tyd het hy tekenlesse gegee en ook kleiner bestellings vir skilderwerk en modellering aanvaar.
Foto: Slegte nuus – ’n greep uit die Tweede Vryheidsoorlog. Brons
Foto: Van Wouw se bekendste werk – die standbeeld van President Kruger te Kerkplein, Pretoria, met een van die vier hoekbeelde wat Boere-krygers voorstel. Brons, twee keer lewensgrootte
Kort voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog het Van Wouw sy eerste groot opdrag gekry. Met hierdie opdrag is hy die geleentheid gegun om homself as beeldhouer van formaat te bewys. Sammy Marks, ’n bekende finansier van daardie tyd, het ’n groot bedrag, gelyk aan sowat R20 000, geskenk vir die oprigting van ’n beeld van sy ou vriend President Paul Kruger op Kerkplein, Pretoria. Die beeld van Kruger sou tweemaal lewensgrootte wees en, benewens ’n paar panele wat episodes uit sy veelbewoë lewe weergee, sou daar ook vier Boerewagte om die standbeeld sit om die President te bewaak. Van Wouw, wat ’n groot bewonderaar van Paul Kruger en die Boere was, het die standbeeld hart en siel aangepak en meesterlik voltooi. Vandag is dit seker van die bekendste beeldgroepe in Suid-Afrika.
Sy tweede groot oordrag van nasionale aard was ten opsigte van die bronsfigure vir die Vrouemonument te Bloemfontein. Dit omvat ’n sittende vrouefiguur met ’n sterwende kind in haar arms. Langs haar staan ’n starende Boeredogter in Voortrekkerdrag. Patos, lyding en berusting is meesterlik op hul gesigte uitgebeeld. Die groep is in 1912 opgerig ter ere van die vroue en kinders wat gedurende die Tweede Vryheidsoorlog gesterf het. Van Wouw het tydelik in Rome gewoon toe hy die opdrag ontvang het en is waarskynlik deur Michelangelo se Piëta geïnspireer.
Ander groot werke van Van Wouw, almal in brons, is die standbeeld van ‘Onse Jan’ op Kerkplein in Kaapstad, dié van President Steyn voor die hoofgebou van die Vrystaatse Universiteit te Bloemfontein en dié van generaal Lukin in die Tuine in Kaapstad. Sy Iaaste groot opdrag het gekom kort voor die einde van sy lewe toe hy by die tagtig was. Dit was ’n bronsgroep bestaande uit ’n vrou en haar twee kinders. Hierdie groep staan tans voor die Voortrekkermonument in Pretoria.
Foto: Voortrekkervrou met kinders. Bronsgroep voor die Voortrekker-monument in Pretoria–Iaaste opdrag van Van Wouw
Van Wouw se kunstenaarskap Iê hoofsaaklik in sy kleinere beeldjies wat hy uit eie beweging, sonder opdrag of voorskrif, op sy gemak aangedurf het. Hierdie werke kan in twee groepe verdeel word: tipes uit die Boerelewe van die Tweede Vryheidsoorlog en tipes uit die inboorlinglewe van Suid-Afrika. Hulle is almal aan en na die begin van hierdie eeu in sy vrye tyd aangepak tussen die agtereenvolgende groot opdragte vir nasionale gedenktekens. Die eerste groep bevat ‘Kruger in Ballingskap’, ’n beeldjie vol patos. Ons sien die verbanne president in ’n gemakstoel sit met ’n kombers oor sy bene, terwyl hy Bybel lees; ‘Slegte Nuus’ wat op treffende Wyse twee burgers in die veld voorstel wat oorstelp en lamgeslaan is nadat hulle slegte tyding ontvang het. Hierdie beeldjie Iaat blyk maar te duidelik hoe intens Van Wouw die Vryheidsoorlog beleef het. Hy het die smart van die oorlog geken en kon dit met sy skeppende hande in die klei weergee.
Die inboorlingtipes vorm ’n groep en onder hulle tel die waardevolste juweeltjies van Van Wouw se kuns. Hy het die Bantoe en die Boesman, veral hul innerlike, intiem geken en kon hulle dus uitbeeld in verskillende aksies soos min ander kunstenaars dit kon doen. So is daar die besondere studie van die ou Zoeloe, wat Van Wouw ‘Sidwane Tokozili’ genoem het. Die ou man met die doek om sy kop se hemp is verflenterd en die een mou is opgerol. Hy blaas oor ’n bakkie warm koffie, terwyl hy dit volgens tipiese Zoeloe-gewoonte met beide hande vashou. Al die lewe wat met die besondere handeling gepaard gaan, is skitterend in die beeld vasgelê. Dié werk staan ook bekend as ‘Die Koffiedrinker’. Die ‘Laggende Basoeto’ het net die teenoorgestelde karaktertrek van die Zoeloe wat met groot versigtigheid koffie drink – vol uitbundige Iewensvreugde en nouliks begaan oor die figuur wat hy slaan. Die groot liefde van die Bantoe vir die masjien het Van Wouw in ’n paar pragbeelde vasgelê: die Bantoe wat met die boormasjien in ’n myn werk en ‘Mynkaffer met Hamer’. Verder het hy die Bantoe uitgebeeld waar hy rook (‘Die Daggaroker’), waar hy eet (‘Die Mieliepapeter’), waar hy drink (‘Die Koffiedrinker’), en dan ook verskeie jagstudies. Van Wouw het verskeie werke gelewer waarin hy die tipiese karaktertrekke van die Zoeloe, Betjoeana en die Shangaan verbeeld het. So is daar onder meer ‘Zulu’, ‘Basoeto-getuie’ en ook ‘Slapende Bantoe’.
Foto: Die Basoeto-getuie. Brons, 30.5 cm
Foto: Boesman op jag. 1902. Brons, 48.5 cm
Foto: Slapende Basoeto. 1907. Brons, 30.5 cm
’
‘n Ander groep wat Van Wouw ook uit eie beweging, tussen sy groot opdragte, voortgebring het, is die borsbeelde van Boerepresidente en Boeregeneraals. Die grootste een – meer as tweemaal lewensgrootte – is dié van Generaal De Wet wat in die Oorlogsmuseum in Bloemfontein pryk. ‘Onwrikbaar als een rots’ staan in die handskrif van Van Wouw op die voetstuk van die borsbeeld. Hierdie beeld is indrukwekkend en groots. Kleinere borsbeelde is dié van President Kruger, President Steyn, Generaal De la Rey en Generaal Beyers.
Anton van Wouw was hoofsaaklik ’n realis en sy werke is meestal glad afgewerk. Hy was ’n groot bewonderaar van Michelangelo en het hom onbewus nageboots. Hy was egter nie altyd realis nie. Daar bestaan ’n bronsbeeldjie van hom wat hy in sy jong dae in Holland voortgebring het. Dit staan bekend as ‘De Vogelaar’ of ‘De Vogeljongen’. Hierdie beeldjie is heelwaarskynlik gemodelleer terwyl hy student aan die Akademie te Rotterdam en onder die invloed van sy leermeester was. Die styl is dié van Rodin, die groot Franse beeldhouer, wat in daardie jare ’n beroemde figuur was en wie se werk swaar van voorkoms was met ’n ruwe oppervlak.
In 1937, op gevorderde leeftyd van 75 jaar, het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir Anton van Wouw met sy erepenning vir beeldhoukuns bekroon.
Foto: Dié foto, in 1899 geneem, toon die kunstenaar Frans Oerder besig om Van Wouw te skilder terwyl laasgenoemde besig was om in sy ateljee te werk. Die ateljee was op die perseel van die huidige magistraatskantoor geleëDie kunstenaar is in 1945 op 83-jarige leeftyd oorlede. Hy was oral geliefd en gerespekteerd. Hy het in sy land ’n voorreg gesmaak wat nie aan alle kunstenaars beskore is nie: om nog gedurende sy leeftyd volle erkenning en waardering vir sy werk te ontvang.
Van Wouw is tereg een van Suid-Afrika se groot geskiedskrywers genoem. Dit is nie omdat hy deur sy realistiese weergawe die uiterlike lewensbeelde van die verlede soos ’n getroue kroniekskrywer vasgelê het nie, maar omdat hy die ideale, smart en die geloof van ’n veelbewoë tydperk in die Suid-Afrikaanse volkswording so effektief verbeeld het. Die Afrikanervolk is voorwaar baie verskuldig aan hierdie begaafde immigrant wat so geredelik volksgenoot geword het.
Foto: ‘President Kruger in ballingskap’. 1907. Brons, 26 cm
OPENING VAN ANTON VAN WOUW-WONING
Op Dinsdagaand, 21 Mei 1974, is nog ’n mylpaal in die Afrikaanse kultuurgeskiedenis bereik toe die Anton van Wouw-woning en -ateljee amptelik geopen is deur die voorsitter van die Rembrandtgroep, dr. Anton Rupert. Hierdie nyweraar, wat ook bekend is as kunsliefhebber, het met die woorde van dr. D.F. Malan: “’n volk is ’n volk omdat hy ’n siel het, maar ’n volk benodig ook ’n tasbare tradisie”, die laaste woonplek van die ontslape beeldhouer aan die Universiteit van Pretoria oorhandig. Dit is gepas dat hulde gebring word aan Anton van Wouw, want hierdie immigrant het oor ’n tydperk van meer as 50 jaar sy lewe daaraan gewy om sy aangenome land te dien.
Die opening het saamgeval met ’n verteenwoordigende uitstalling van beeldhouwerke, gips- en bronsgietsels, skilderye en persoonlike besittings van hierdie besonder kunstenaar.
Foto: Die binnekant van die nuwe Van Wouw-museum
Bron: Jacobs, E. 1974. Lantern, Desember, pp. 4-11.