Anton Anreith (1754-1822)

Jan Willem Janssens (1762-1838)
January 28, 2019
Droomvrou
January 29, 2019

SUID-AFRIKA SE EERSTE BEELDHOUER

Ons kan vrywel sê dat die Europese kunsproduksie in Suid-Afrika in Anton Anreith sy begin gehad het. En dit was geen klein begin nie, want hy was nie alleen ’n deeglik geskoolde vakman nie, maar ’n persoon met fyn aanvoeling, noukeurige waarneming en gevoelvolle uitbeelding. Dit is merkwaardig hoe alleenstaande hy in ons geskiedenis is.

Ná sy dood strek daar ongeveer ’n periode van negentig jaar voordat Suid-Afrika sy tweede beeldhouer in Anton van Wouw gekry het.

Anreith het oorspronklik as soldaat in 1777 by die Kaap aangekom. Sy werk, wat voortgekom het gedurende ’n periode kort daarná, is van so ’n hoë gehalte, dat dit nou nog gunstig kan vergelyk word met beeldhouwerk wat vandag in die land gedoen word.

Natuurlik moet ons sy behandeling van sy onderwerp in perspektief sien met die tyd waarin hy geleef het. Direk oorgeplant uit Europa het hy die destydse tydgees in die kuns saamgebring en hier in werking geplaas.

Van Anreith se loopbaan en gewone lewe weet ons feitlik niks nie. Oorspronklik van Freibergh te Breslau het hy in die diens van die Hollandse Oos-Indiese-Kompanjie getree en is, nadat hy die pligte van soldaat vervul het, aangestel as beoefenaar van houtsneekuns en beeldhouwerk in die Kompanjie se diens. Vyftien jaar lank het hy die vak beoefen en pragtige werk gelewer.

Anreith was die tydgenoot van die argitek Louis Michel Thibault (ongeveer 1750-1800) wat ook waardevolle werk aan die Kaap gedoen het en met wie hy dikwels saamgewerk het. Dit was van groot belang, aangesien Anreith se werk grotendeels argitektonies van aard was, dit wil sê: dit is vervaardig as deel van ’n boukundige konstruksie.

Die werke wat aan Anton Anreith toegeskryf word, is die volgende:

1. Die leeuwyfies by die Kasteel se ingang.

2. Die leeus by die ingang uit die Laan tot die Suid-Afrikaanse Kollege Hoërskool.

3. Die preekstoel en lantern van die Lutherse Kerk.

4. Die preekstoel met leeus en lourierkranse in die Groote Kerk, Adderleystraat.

5. Die wapens bokant die ingang tot die ou Hooggeregshof.

6. Die wapens bo die ingang tot die Polisiekantoor op Caledonplein.

7. Die fontein wat deur Thibault ontwerp en op die Parade opgerig is.

8. Die werk op die voorgewel van die wynkelder by Groot-Constantia.

9. Versiering van die Kat-balkon (in die Kasteel) ook deur Thibault gebou.

10. Beeldhouwerk in die Good Hope Lodge.

’n Vergulde kroonlys uit hout gesny (in besit van die Argief).

Anton Anreith
(Foto: Denkbeeldige tekening)

Anreith was klaarblyklik ’n man met goeie smaak. Dit is interessant dat hy ’n skool vir die onderrig van tekenkuns in Kaapstad gestig het. Baie van sy tekeninge en plate het oorgegaan in die hande van die driemanskap Schutte. (Herman Schutte 1761-1844, argitek en bou-aannemer, het ook waardevolle werk gedoen soos, onder andere, die Groote Kerk met sy merkwaardige dakspan – op twee na die grootste ongestutte dakspan in die wêreld.)

Hierdie tekeninge van Anreith beloop omtrent 270. Sy werk is gedurende sy leeftyd hoog geskat en is veral deur Thibault waardeer.

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.