Anna Elizabeth Steenkamp (1826-1906)

John Fairbairn (1794-1864)
March 4, 2019
Elke man kraai koning op sy eie (potjiekos) pot
March 5, 2019

WAT ’N VOORTREKKERVROU MOES VERDUUR

In die persoon van Anna Elizabeth Steenkamp vind ons die verpersoonliking van die deursnee Voortrekkervrou wat nie deur een of ander roemryke daad roem verwerf het nie, maar deur ’n ongeëwenaarde fiere lewenswandel onsterflikheid ingeoes het. Sy verdien vermelding, nie omdat sy groter was as enige ander Voortrekkervrou nie, maar omdat sy vir ons ’n duidelike beeld bied van wat die Voortrekkervrou was en deurgestaan het.

Sy was die oudste kind van Francois Retief – broer van Piet Retief – en Martha Elizabeth Joubert en is in die Kaapkolonie gebore en op 5 Februarie 1797 gedoop. Van wat sy deurleef het – die vrou van ’n hulpelose siek man met name Hattingh en moeder van ’n siek kind – het sy ’n roerende verhaal opgestel waaruit ons hier slegs enkele grepe doen.

Op 5 Mei 1837 het sy met haar huisgesin in vier ossewaens die Kaapkolonie verlaat om saam met die ander Voortrekkers ’n veilige tuiste in die onbekende binneland te gaan soek. Maandelank het hulle getrek sonder ’n ander witmens te sien, deur die onbeskaafde gebied onmiddellik noord van die Oranje, waar die Basters telkens brutaal gedreig het om hulle van alles te beroof en werklik ook baie van hulle vee gesteel het.

Foto: Anna Elizabeth Steenkamp (Denkbeeldige tekening)

Bedags moes hulle, aangesien die meevoer van ammunisie uit die Kolonie verbode was, hulle skietgoed begrawe en dit snags weer gaan opgrawe en verder vervoer. Hulle diensbodes het naderhand weggeloop en toe moes die dogters selfs die waens drywe, tou lei en vee aanja. Op die Vrystaatse vlaktes het hulle sonder brandhout moes klaarkom, telkens verdwaal en baie van hulle vee tussen die hoë gras verloor.

Daarby het die gedurige siekte van haar man en kind die arme vrou gedwing om by al hierdie sorge, wat hoofsaaklik op haar skouers gerus het, nog die plek van dokter en verpleegster ook in te neem.

In Natal, waar sy eindelik na aansluiting by die trek van Piet Retief tereg gekom het, het die een terugslag na die ander haar getref. Op 2 Februarie 1838 het haar seun gesterf; vier dae later het die moord op Piet Retief gevolg; die 17de het Dingaan se impi’s die laers in die Tugela-vallei aangeval en was sy getuie van die vreeslike moorde wat daar plaasgevind het.

Op 10 Mei het die Uys-tragedie hom afgespeel; twee maande later het haar man gesterf: die 13de tot die 15de Augustus moes sy weer ’n Kafferaanval op hulle laer belewe, wat gelukkig egter afgeslaan is. Na die Slag van Bloedrivier en haar tweede huwelik met Thomas Steenkamp het die teenslae soos golwe die bietjie vreugde uit haar lewe uitgeslaan.

Op 23 Jan. 1839 het die weer haar seun doodgeslaan; op 7 Augustus d.a.v. het hulle laer aan brand geraak en, voordat hulle van die skok kon herstel, het die masels in die laer uitgebreek en moes sy en haar man vir 43 kinders en kleinkinders, almal bedlêend, sorg – sonder huis of tent, slegs in ’n wa.

Daarna het die oorlog met die Engelse en die daaropvolgende anneksasie van Natal gevolg. Geduldig het sy egter volgehou en slag na slag verduur; deur loutervuur na loutervuur het sy gegaan tot die einde van haar lewe, dog steeds het sy fier gebly – fier en ongebroke – ’n egte Voortrekkervrou vir wie geen teenslae, smarte of verskrikkinge kon kleinkry nie, en aan wie se nagedagtenis altyd met die grootste bewondering teruggedink sal word, nie alleen deur elke Afrikaner nie, maar deur elkeen wat die ideaal van die vryheid huldig.

Teenslag op teenslag kon haar nie breek nie

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.