Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius (1798-1853)

Susanna Catharina Smit (1798-1863)
March 5, 2019
Pieter Johannes Potgieter (Oorlede 1854)
March 5, 2019

DIE HELD VAN BLOEDRIVIER

Die Afrikaanse stamvader van AWJ Pretorius, die held van Bloedrivier, was Johannes Pretorius. Hy was afkomstig uit Nederland en het in 1670 assistent by, en vier jaar later sekretaris van, die weeskamer in Kaapstad geword. Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius stam van hom af. Hy was die seun van Marthinus Wessel Pretorius en Suanna Viljoen, en het die lewenslig in Graaff-Reinet aanskou. Hy het aan verskillende grensoorloë deelgeneem, en as aanvoerder van verskeie kommando’s opgetree. Wanneer ’n deel van sy medeburgers begin trek, besluit hy en drie van sy broers in 1837 om ’n verkenningstog noord van die Oranjerivier te onderneem. Saam met A.H. Potgieter neem hy aan ’n veldtog teen Silkaats deel, sit sy reis voort na Port Natal (Durban), en keer na sy woning terug.

Hy besluit om sy hawe en goed te verkoop, en hom in Natal te gaan vestig. Daar het die Voortrekkers kritieke dae belewe. Piet Retief is vermoor, en dit laat die Voortrekkers besluit om ’n paar afgesante na Pretorius te stuur en hom te versoek om hulle te kom help. In November 1838 verskyn Pretorius in die Voortrekkerlaer aan die Klein-Tugela. Die Volksraad benoem hom as kommandant-general, daarna volg die gelofte op Danskraal, en ’n week later verslaan die Voortrekkers die Zoeloe-hordes by Bloedrivier.

Na die Britse anneksasie van Natal bly Pretorius vyfjaar lank in die omgewing van Pietermaritzburg woon. Dan besluit hy om te trek. Sir Harry Smith het probeer om hom te beweeg om in Natal te bly en wou hom geld aanbied om sy doel te bereik. Maar Pretorius het geweier, getrek en byeenkomste met die Voortrekkers van Winburg tot Ohrigstad belê om hulle mee te deel dat sir Harry Smith voornemens was om die teenswoordige Oranje-Vrystaat tot Britse gebied te verklaar. Ofskoon sir Harry Smith belowe het om die uitslag van Pretorius se reis af te wag, het hy sy belofte verbreek en die anneksasie deurgedruk.

Foto: Andries Pretorius (Elliott-versameling, Kaapse Argief)

Hierdie daad het die Voortrekkers, wat teen anneksasie gekant was, laat besluit om die wapens op te neem en Pretorius te versoek om hul leier te word. Hy het nie op hom laat wag nie, maar in die slag van Boomplaats (Aug. 1848) is Pretorius en sy vyfhonderd volgelinge deur ’n oormag van Engelse en Griekwas verslaan. Sir Harry Smith het ’n prys van £2 000 op sy hoof gesit, en Pretorius het met sy aanhangers in die omgewing van Potchefstroom gaan woon. Daar en in die Rustenburgse het die Voortrekkers hom algemeen as hul leier erken. Steeds het hy die verlede en die doel van die Groot Trek in gedagte gehou, en dit kan as ’n groot diplomatieke oorwinning beskou word dat hy daarin geslaag het om op 17 Januarie 1852 met die Britse kommissarisse, majoor W.S. Hogge en C.M. Owen, die bekende Sandrivierkonvensie te sluit. Daardeur was die onafhanklikheid van die Voortrekkers noord van die Vaalrivier gewaarborg.

Sy ooreenkoms met A.H. Potgieter om tot heil van die Voortrekkers saam te werk, was net so ’n groot oorwinning. Twee leiers het op 16 Maart 1852 onderlinge geskille begrawe en eendragtig aan die opbou van Transvaal begin werk. Dat Pretorius onafhanklikheid sowel in staatkundige as kerklike opsig as sy ideaal beskou het, en dat hy daardeur as ’n volbloed Voortrekker gekenmerk is, bewys sy optrede in verband met die afskeiding van die Kaaplandse Kerk. Op sy sterfbed het hy die omstanders nog op die hart gedruk om toe te sien dat ds. Van der Hoff hom nie onder die Kaapse Sinode moes verbind nie.

En om ’n kragtige skans op te werp teen die Engelse staatkundige bedreiging wat hy altyd so sterk gevoel het, het hy sy volgelinge vermaan om die eenheid te bewaar. Op sy sterfbed, op 13 Julie 1853, het hy ’n brief aan die krygsraad gerig waarin hy o.a. geskrywe het:

“Wacht en bidt dat geen zaad van tweedragt onder ul. voorttele, roeit het bij tyds uit; weest elkander getrouw en alles wat gijlieden aanvangt te doen, doet het met den Heere; vraagt Hem om bijstand en raad, vraagt Hem om kracht en sterkte, en de Heere sal zijne kracht in uwe zwakheid volbrengen.”

Hierdie brief word tereg sy politieke testament genoem.

“Doet nooit iets tot eigen eer, maar beoog in al uwe daden de eer van God en het welzijn van land en volk.” – Pretorius op sy sterfbed

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.