Andries Hendrik Potgieter (1792-1852)

Thomas Pringle (1789-1834)
March 4, 2019
John Fairbairn (1794-1864)
March 4, 2019

VOORTREKKERLEIER BEYWER HOM VIR EENHEID

Andries Hendrik Potgieter, in die omgang bekend as Hendrik Potgieter, moet waarskynlik gereken word tot een van die mees verontregte figure uit ons nasionale verlede. Meer as die meeste van sy tydgenote het hy sy deel tot nasievorming bygedra en vandag is hy in baie kringe helaas, ’n vergete held.

Opgegroei aan die Oosgrens van die Kaap-kolonie, het hy in die lief en leed van die onrustige Oosgrens alles beleef wat op sy onrustige gemoed en ontembare vryheidsdrang noodwendig ’n diepe indruk moes maak. Daarom is dit dat, toe die Trekgedagte gedurende die dertigerjare van die vorige eeu menige Oosgrensbewoner onkeerbaar meegesleur het, dit ook Hendrik Potgieter moes beetgepak het.

En hy, anders as die deursnee Trekker, was deur sy ryke ervaring van twee Kafferoorloë en sy besondere aandeel daaraan, bestem nie alleen om te volg nie, maar ook om te lei.

Hoewel Trichardt en Van Rensburg toe reeds op die grootpad was, het die Groot Trek eintlik pas begin toe Potgieter met sy gevolg aan die end van 1835 Tarka verlaat het. Onderweg na die noordwestelike Vrystaat, wat sy eerste voorlopige tuiste sou word, is sy geledere versterk deur Sarel Cilliers en sy gevolg, waarna die verenigde laer, waarvan Potgieter nog altyd die algemeen erkende leier en aanvoeder was, nagenoeg 200 siele getel het.

Foto: Andries Hendrik Potgieter (Denkbeeldige tekening)

Sonder om Potgieter se trekpad noukeurig na te volg, kan slegs in enkele hooflyne op sy blywende verdienstes vir volk en vaderland gewys word. Meer as enige ander persoon voor of na hom was hy ’n pionier wat rus en orde geskep het, en al verder trekkende bestaansmoontlikhede vir ander, wat na hom sou kom, daargestel het.

Deur onderhandeling met Makwana word ’n groot gebied van die huidige Vrystaat toeganklik gestel vir ’n deel van die Trekkers; deur sy optrede teen die Batabelies en die roemryke oorwinnings van Vegkop, Mosega, Kapain en Marikwa, wat die grootste heldedade in Natal ewenaar, indien nie oortref nie, het hy die bestaansmoontlikhede van die Vrystaters, en later van ’n deel van die Transvalers, bestendig en beveilig.

Self sou hy egter nie lank in hierdie gebied vertoef nie. Aan die end van 1838 trek hy oor die Vaalrivier, waar hy die oudste Transvaalse dorp, Potchefstroom, aangelê het.

Om verskillende redes, maar veral omdat hy terwille van die ekonomiese onafhanklikheid van sy mense nader aan die see wou wees, verhuis hy gedurende 1845 na Oos-Transvaal, waar die tweede Voortrekkersdorp noord van die Vaal, Andries Ohrigstad, weldra sou verrys. Na die finale onderwerping van Natal aan Britse gesag, het baie van die Natalse Trekkers hierheen verhuis.

Wrywing was die noodwendige gevolg. Hierom, maar ook omdat die streek ongesond en weens die aanwesigheid van groot getalle sleggesinde naturelle onveilig was, besluit hy na ’n verblyf van minder as twee jaar te Ohrigstad om andermaal te trek—hierdie keer na ’n gebied waarmee hy voorheen tydens sy soektog na Trichardt en Van Rensburg in 1836 reeds kennis gemaak het.

Soutpansberg was die volgende tuiste van hom en sy aanhang, wat sedert sy vertrek uit die Kaapkolonie reeds geweldig toegeneem het.

Hier uit die hoë noorde het hy die kontak met die ander verspreide groepe Trekkers in stand probeer hou. By hom was die eenheid van die Trekkergemeenskap steeds die belangrikste oorweging en in die kommervolle jare wat voorgelê het, het hy deur vriendelike raadgewing, taktvolle optrede en grootmoedige toegewing, meer as eens die eenheid in stand gehou, of waar dit reeds benadeel was, weer in ere herstel.

“Die vryheid en die see”

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck