Andrew Murray

Geestelike herlewing en Pinksterbidure
April 21, 2015
Ontdekking van diamante
April 23, 2015

Die kerkstryd oor die liberalisme het ’n intellektuele lewe onder Afrikaners bevorder. Die optrede van die Sinode en die uitsprake van die hof het groot beroering veroorsaak, soos mens in ’n godsdienstige volk kan verwag. Voorstanders van die liberale en ortodokse rigtings het ’n heftige polemiek daaroor in koerante en boeke gevoer. Die vernaamste onder eersgenoemde was di. Kotzé, Burgers, SP Naudé en DP Faure, en die belangrikste onder die ortodokse was Murray.

NP van Wyk Louw het later geskryf dat Murray se boeke Het moderne ongeloof (ook in Afrikaans) en The modern theology waarskynlik die beste geskrifte uit daardie stryd is. By die lees daarvan kry mens ’n indruk van Murray se intellektuele meerderwaardigheid teenoor die matige rasionalisme en sentimentaliteit van sy teenstanders. Louw skryf dat dit tog geen groot polemiek geword het nie, want juis waar die polemiek waardevol kan begin word, stel die skrywer die subjektiewe keuse (van geloof bo ongeloof) in die plek van ’n redenering.

Murray was ’n heel besondere prediker. Hy het sy preke wel nie besonder aantreklik voorgedra nie, maar was helder, lewendig en hartstogtelik en het sy toehoorders daardeur oorweldig. ’n Skotse Presbiteriaanse predikant het van hom getuig: “Die stemmige, eerbiedwaardige predikant verdwyn, en ’n ou Hebreeuse profeet staan voor ons. Die gehoor buig onder die stortvloed van sy woorde.” Sy beroepe op die gewete van sy toehoorders het geklink soos die donderslae van Sinaï.

Daarby het hy geweldig baie geskrywe: ongeveer 250 boeke en brosjures in Nederlands en Engels, waarvan baie vertaal is in Afrikaans, Sesotho, Frans, Duits, Spaans, Italiaans, Grieks, Deens, Sweeds, Russies, Arabies, Armeens, Jiddisj, Chinees, Japannees en drie Indiese tale. Oor gebed en sendingwerk het hy die meeste geskryf.

Een van Murray se groot verdienstes was die oprigting van ’n aantal meisieskole in die laaste kwart van die eeu omdat meisies op onderwysgebied so afgeskeep is. Maar hy was ’n man sonder sterk Afrikaanse gevoel en was sy hele loopbaan Engels-georiënteer ten opsigte van die onderwys. In Wellington het hy ’n meisieskool, die Huguenot Seminary, gestig met die Amerikaanse Mount Holyoke-skool as voorbeeld. Die skool is op 19 Januarie 1874 formeel geopen met twee Amerikaanse onderwyseresse, en was volslae Engels. Die meisies is verbied om Afrikaans met mekaar te praat. So was ook die NG Kerk se Good Hope Seminary in Kaapstad en die Normaalskool (vir die opleiding van onderwysers) wat in 1878 begin het met ’n Skot, JR Whitton, aan die hoof. Ander seminaries is gestig op Graaff-Reinet, Stellenbosch (Bloemhof), Worcester, die Paarl, Cradock, Swellendam en Somerset-Oos. Die voorbeeld is nagevolg in Pretoria waar ds. HS Bosman ’n Hervormde (later NG) leraar wat in Stellenbosch opgelei is, in 1877 ’n meisieskool met Engels as voertaal gestig het.

Teen dié Engelse gesindheid het naderhand verset begin kom. Gebeurtenisse in die twee republieke, soos die Britse optrede ná die ontdekking van diamante, het gelei tot die opkoms van ’n vroeë Afrikanernasionalisme met gelykberegtiging van tale as ’n belangrike oogmerk. Mettertyd het selfs Murray daarmee rekening gehou en in 1890 het hy in die Sinode ’n groter plek vir Hollands in skole voorgestel.