Al meer Afrikaners bots met regering

Vernuwing in die prosa
January 25, 2015
Nelson Mandela gevonnis
January 25, 2015

Hoewel doktor Verwoerd so ’n magtige man was, het al hoe meer Afrikaners met die regering begin bots. Een van hulle was dominee CF Beyers Naudé, seun van  domine JF Naudé, een van die stigters en eerste voorsitter van die Broederbond. Naudé was ’n gewilde prediker en moderator van die Suid-Transvaalse Sinode van die NG Kerk en was op 13 Augustus 1963 een van die hooffigure by die stigting van die Christelike Instituut. Die Christelike Instituut wou twee dinge bevorder: Christelike eenheid oor die grense van ras, kleur, taal en kultuur sonder die ontkenning van die verskeidenheid van tale en kultuurgroepe, asook sosiale geregtigheid onder alle bevolkingsgroepe. Ondanks teenkanting van die kerk het hy die eerste direkteur van die Christelike Instituut en redakteur van Pro Veritate, ’n ekumeniese blad, geword. Dit het op ’n breuk met die kerk neergekom. Wat die houding teenoor hom negatiewer gestem het, was dat hy geheime Broederbond-dokumente laat uitlek het wat in die Sunday Times geplaas is. Daarna was hy ’n uitgeworpene.

By ’n volgende groot botsing was die sentrale figuur die digter Breyten Breytenbach wat teen die einde van 1964 bekend geraak het met die verskyning van sy eerste digbundel, Die ysterkoei moet sweet.  In 1965 is bekend gemaak dat hy ’n prys van R2000 van sy uitgewer, die Afrikaanse Pers-Boekhandel, gewen het vir dié bundel en ’n ander boek, Katastrofes. Doktor Verwoerd was voorsitter van die direksie van die Afrikaanse Pers Beperk, waarvan die Afrikaanse Pers-Boekhandel ’n afdeling was. Uit Parys het Breytenbach te kenne gegee dat hy graag met sy Viëtnamees-gebore Frans-genaturaliseerde vrou Yolande Suid-Afrika sou wou besoek. Die departement van binnelandse sake het egter ’n visum aan Yolande geweier. “Hulle het geen rede aan my verstrek nie, maar die rede is klaarblyklik dat sy uit Viëtnam kom”, het Breytenbach gesê.

Afrikaanse skrywers soos André P Brink en Abraham H de Vries het koerant-briewe van protes geskryf. Brink het gevra: “Kan ’n mens anders as om te dink: vandag is ek voor God skaam om te moet sê dat ek ’n Afrikaner is?” Sulke sentimente sou al hoe meer verwoord, en Afrikanernasionalisme met al groter teenkanting bejeën word.

NP van Wyk Louw het ’n brief van protes en kritiek geskryf wat op 30 Mei 1965 in Dagbreek en Sondagnuus verskyn het. “Ek praat as Afrikaner, maar ek praat ook namens die Afrikaanse literatuur wat sy eie eer en waardigheid het – ’n eer en waardigheid wat onafhanklik is van die politiek en wat sal voortleef wanneer die grootste deel van ons tyd se politiek en die groot massa van ons politici begrawe en vergeet sal wees. (So het Celliers en Leipoldt hulle tyd se magtiges half-vergeet sien word.) Dis namens hierdie literatuur dat ek praat, en ek praat vandag met pyn en skaamte.” Louw het ook gesê: “Die Afrikaanse nasionalisme waarin ek opgegroei het en waarbinne ek hoop om te sterwe, was vir my die grootste beweging binne ons geskiedenis en ’n teken van uitgroei, van steeds voller lewe. Word dit nou ’n verstarde ideologie, wat deur amptenare met duimstokke afgemeet kan word?”