Droomvrou
January 15, 2019
Carike Keuzenkamp (1947-)
January 15, 2019

Sanger, komediant en akteur

Daantjie Dinamiet

Jare voordat Leon Schuster op die toneel verskyn het, was daar ’n grapjas wat Suid-Afrikaners laat skaterlag het, nie net as ’n lid van seker die beste komedie-akteurspaar in ons land se geskiedenis nie, maar ook as sanger en komediant.

Alec (Al) Debbo is op 22 Junie 1924 in Bloemfontein gebore. Sy pa was van Libanese afkoms en sy ma was Afrikaans. Sy ma is oorlede toe hy nege jaar oud was, en hy is na King William’s Town gestuur waar hy sy opleiding as loodgieter ontvang het. Hy het in 1942 na Bloemfontein teruggekeer.

Al kon van jongs af mense vermaak met buikspraak, kulkunsies en deur sy oë te rol; een van sy uitstaande vermoëns. Hy is aangeraai om Johannesburg toe te gaan omdat daar vir hom meer geleenthede sou wees.  Hy het aanvanklik begin om naam te maak met sy nabootsing van bekende persoonlikhede soos Sir Winston Churchill, genl. Jan Smuts en sangers soos Bing Crosby, Chris Blignaut en Nat King Cole. Hy het homself geleer om te sing en die kitaar en tromme te bespeel.

Die eerste rolprent waarin hy te sien was, was Die kaskenades van dr. Kwak, waarin hy net ’n paar minute lank verskyn het, maar sy groot deurbraak het gekom toe hy genooi is om ’n landwye toer saam met die orkes van Hendrik Susan te onderneem. Pierre de Wet, een van die pioniers van die Suid-Afrikaanse filmbedryf, het toe met die plan vorendag gekom om Al se talent met dié van Frederik Burgers te kombineer. Hulle het seker die suksesvolste komedie-akteurspaar in Suid-Afrika se geskiedenis geword. Die eerste rolprent waarin hulle te sien was, was die eerste Afrikaanse musiekrolprent Kom saam vanaand, wat in 1949 uitgereik is en  waarin Hendrik Susan se orkes ook te sien was. Die volgende jaar het Al en Frederik weer saamgespan, hierdie keer vir Hier’s ons weer. Die Erasmus-kasteel agter die Hoërskool Waterkloof in Pretoria het sy bynaam van die “Spookhuis” gekry omdat die kasteel as sodanig in hierdie rolprent gebruik is. Weer eens het Hendrik Susan se orkes vir die musiek gesorg en veral die sanger Jurie Ferreira en die klavierspeler Taffie Kikilus, wie se seun Karl later ’n bekende radio- en televisiepersoonlikheid geword het, het uitsonderlike musiekbydraes gelewer.  In Alles sal regkom het hulle die burgemeester en onderburgemeester van ’n dorp gespeel, en hulle het alles in die dorp behartig, met katastrofiese gevolge.  Altyd in my drome was ’n reuse sukses; en dit is selfs onlangs as ’n verhoogstuk opgevoer met Willem Botha in die hoofrol.  Nog twee rolprente waarin Al en Frederik saam te sien was, was Dis lekker om te lewe en Fratse in die vloot.

Al het ook groot sukses as sanger behaal, en benewens oorspronklike komposisies van veral Nico Carstens en Anton de Waal soos “Tamatiesous en kerriekos”, “Riksjabooi”, “Ek ry met die trein”, “Hasie” en “Die brakke van Turffontein”, maar in 1968 het hy Springbok Radio se Top 20 met twee parodieë gehaal. Hy was een van twee pioniers in Afrikaanse musiek daardie jaar aangesien The Bats dieselfde trefferslys met die eerste Afrikaanse rugbyliedjie, “Groen en goud”, gehaal het. Leon Schuster het later jare groot sukses met albei hierdie musiekgenres behaal.  Die twee liedjies waarvan hy parodieë opgeneem het, was albei nr. 1-treffers in Suid-Afrika daardie jaar; “Baas Jack” was gebaseer op Four Jacks and a Jill se “Master Jack” en “Sonbrilletjies” was sy weergawe van “Sunglasses” van Hilary, wat steeds op die trefferslys was toe Al toegetree het.  Hy het die sewende plek met albei hierdie liedjies op Springbok Radio se Top 20 gehaal.

Enigiemand wat getwyfel het oor Al se sangtalent moes net na die rolprent Stadig oor die klippe kyk, waarin hy in 1969 die hoofrol gespeel het. Onder die ander akteurs wat in dié rolprent te sien was, was Dirk de Villiers, Johan du Plooy, June Seymour, Hal Orlandini en Esmé Euvrard.  Een van die trefferliedjies wat hy in hierdie rolprent gesing het, was “Wie is bang vir die spook?”, wat ook deur Ben E. Madison opgeneem is. Teen die einde van die rolprent het hy ook saam met Nico Carstens en sy orkes opgetree. Hoewel daar natuurlik heelwat komedie in dié rolprent was, kon hy voortaan as sanger ernstig opgeneem word. Al en Nico Carstens het die volgende jaar saamgespan vir “Die tantes van Nantes”, wat die elfde plek op Springbok Radio se Top 20 was.

Nog ’n trefferrolprent waarin Al een van die hoofrolle vertolk het, was Pens en pootjies, waarin Don Leonard teenoor hom gespeel het en waarin Johan du Plooy, Marié du Toit, Joe Stewardson en die groep Four Jacks and a Jill te sien was. Onder sy ander rolprente was Boerboel de Wet, Die geheim van Onderplaas en Kniediep. In 1981 het hy teenoor Bill Flynn in die televisiereeks Attie en Joos, wat oor twee boemelaars gehandel het, gespeel.

Al het deurentyd aangehou om musiek te maak en in 1983 is sy album Hier’s ek weer vrygestel, wat ’n paar komposisies van Anton Goosen bevat het. Hy het op sewentigjarige ouderdom as gaskunstenaar in Noot vir noot opgetree en twee jaar later het hy by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees saam met onder meer David Kramer en Mango Groove opgetree. In 2003 het Steve Hofmeyr aan hom hulde gebring op sy eerste Toeka-album toe hy Al se treffer “Hasie” saam met hom gesing het. Dié optrede is ook verfilm en hoewel Al sy tagtigste verjaardag genader het, was daar nog nie veel met  sy stemkwaliteit verkeerd nie.

Al Debbo is op 13 Julie 2011 in die ouderdom van 87 jaar in Bloemfontein oorlede kort nadat longontsteking by hom gediagnoseer is.