Agter tralies en doringdraad

Ossewabrandwag en Stormjaers
January 24, 2015
Hoogtepunte in die Afrikaanse poësie
January 24, 2015

Party Stormjaers het in interneringskampe beland. Dié kampe is kragtens noodregulasies opgerig vir Duitse en Italiaanse onderdane, asook Afrikaners wat gevaarlik geag is. Nie al die geïnterneerdes was saboteurs en aktiviste nie. Baie het bloot vanweë verdenking daar beland. In die kamp op Koffiefontein was daar ’n “Boere-universiteit” met professor HC Stoker van Potchefstroom as “rektor”. Stoker het in Keulen gepromoveer onder die bekende filosoof Max Scheler. Onder die geïnterneerdes was doktor Chris Neethling, eggenoot van die toneelregisseur Anna Neethling-Pohl. Party geïnterneerdes was polisiemanne wat in Januarie 1942 gearresteer is op aanklag dat hulle geheime lede van die Stormjaers was.  Ander is weer gevang ná die sabotasiedade van 28 tot 29 Januarie 1942.

Twee Stormjaers, Julian Visser en die skrywer HS van Blerk, is ter dood veroordeel omdat hulle op eie houtjie die Benoni-poskantoor opgeblaas en iemand se dood veroorsaak het. Die regering het hulle begenadig en só verdere onrus voorkom.

’n Taamlik geïsoleerde poging tot verset is ook aangewend deur Robey Leibbrandt, ’n gewese bokser wat in 1936 lid was van die Springbokspan by die Olimpiese Spele in Berlyn. Adolf Hitler was sy groot held. In 1937 het hy die swaargewigbokstitel van Suid-Afrika verower, maar daarna vir studie in liggaamlike opvoeding na Europa vertrek. In September 1939 was hy in Duitsland en hy het sy opleiding in die Duitse leër voltooi. Saam met ’n Duitse agent is hy per seiljag na Suid-Afrika maar het op 15 Junie 1941 alleen aan die Namakwalandse kus aan wal gegaan. Hy kon nie met Hans van Rensburg tot ’n vergelyk kom nie, maar het ’n paar Stormjaer-volgelinge gekry. Die OB, bang dat die Leibbrandt-manne onverantwoordelike sabotasiedade kon onderneem, het inligting na die regering laat uitlek en dié aangeraai om Leibbrandt in hegtenis te laat neem. Op 24 Desember 1941 is hy by Sesmylspruit digby Pretoria gevang, op 11 Maart 1942 aan hoogverraad skuldig bevind en ter dood veroordeel. Sy versinsel dat hy met ’n duikboot aan die Suidwes-kus geland het, was sensasionele nuus. Sy doodvonnis is versag en die NP-regering het hom in Mei 1948 vrygelaat.

Wat die Afrikaanse publiek miskien die meeste geskok het, was die nuus dat een van die bekendste Afrikaanse sportmanne, Johannes van der Walt, op 23 Februarie 1942 deur ’n polisieman in die rug geskiet en totaal verlam is. Die 33-jarige Van der Walt het in Suid-Afrika en oorsee met groot sukses teen groot stoeiers opgetree. Hy het hom met die Afrikanerideale vereenselwig en was ’n Afrikanerheld. Hy het hom by die OB aangesluit en tot hoofgeneraal vir die Witwatersrand gevorder. Op 15 Desember 1941 is hy in hegtenis geneem en aangekla dat hy in besit was van ’n ongelisensieerde pistool en patrone.  Aanvanklik is hy op borgtog vrygelaat, daarna weer aangehou en in die polisieselle op Marshallplein toegesluit, waaruit hy ’n paar dae later ontsnap het.  Op 23 Februarie 1942 het die polisie die plaashuis waarin hy geskuil het, omsingel en hom in die rug geskiet. Ná ’n baie lang lyding is hy op 25 Maart 1943 oorlede. Hy is in een van die grootste begrafnisse wat die land tot in daardie stadium geken het, te ruste gelê.