AG Visser (1878-1929)

visser_ag

deur Dawie du Plessis

AG Visser beklee inderdaad ’n unieke plek in die Afrikaanse letterkunde. Alhoewel betreklik min van sy werk oor werklik literêre waarde beskik, is sy bydrae belangrik aangesien dit inderdaad oor drie tydperke of fases in die jong Afrikaanse letterkunde strek. Visser se digwerk sluit in patriotiese vaderlandse gedigte (soos dié van Totius en Jan FE Celliers), minnepoësie, kindergediggies en skerpsinnige satiriese gedigte. Daarby was hy die skrywer (lirieke én musiek) van ’n hele aantal liedere.

Andries Gerhardus Visser is op 1 Maart 1878 in die distrik Fraserburg in die Kaap gebore. Vanweë die droogte van 1877 moes sy pa, alombekend as oom Andries, weiding vir sy vee in daardie geweste soek, en daarom is die seun nie op die familieplaas Bloukrans gebore nie. Oom Andries is beskryf as iemand met ’n helder verstand, ’n goeie spreker, diep gelowig, en lief vir blomme en musiek. Sy nagelate verse (in Nederlands) toon duidelik dat hy oor ’n digtersaanleg beskik het. Hy was ’n ondersteuner van ds. SJ du Toit (die vader van Totius) en die Afrikanerbond, en hy is 1904 tot die Kaapse parlement verkies. Hy was ook lid van die Kaapse Provinsiale Raad na Uniewording.

Die digter, klein Andries, het opgegroei op die familieplaas, iets waarvoor hy as volwassene baie dankbaar was. Eers op dertienjarige ouderdom is hy “sommer so van die werf af” saam met sy ouer broers na skool toe. Hier by die Hugenote-Gedenkskool in Daljosafat was Andries tydgenote van onder meer Totius en DF Malherbe. Hy was ’n besondere skrander leerling en het vroeg al sy klas- en skoolmaats vermaak met allerlei geestige gediggies oor wat in die klaskamers gebeur het. Buiten ’n pragtige handskrif het hy ook oor musikale vermoëns beskik, en het hy tydens skoolopeninge die sang met die orrel begelei. In 1894 gaan hy na die Normaalkollege op Kaapstad waar hy matriekslaag, asook die “Middle Class Teachers”-eksamen. Andries Visser het dus die merkwaardige prestasie behaal deur op agtien al as onderwyser te kwalifiseer, nadat hy self op dertien die eerste maal skool toe gegaan het!

Hy het in 1896 op Carnarvon begin skool gee, en reeds in 1898 hoof van die skool geword. In hierdie tydperk verskyn van sy eerste gediggies in Ons Klyntji. Dit is geen ernstige poësie nie, eerder vrolike, satiriese rympies in die Patriot-styl. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog wat in die noordelike republieke geheers het, is Visser onverwags in April 1901 gearresteer en in die tronk gegooi. Sy oortreding? Hy het met lof van die Boere se krygsvernuf in die openbaar gepraat. Na sy kort gevangenisskap het die owerheid hom verbied om in sy ou omgewing skool te gee. Daarop besluit hy om maar eerder die land te verlaat. Hy vertrek in Oktober 1901 na Skotland, waar hy van plan is om hom in Edinburgh as geneesheer te bekwaam.

Visser was oor die algemeen ’n teruggetrokke student, maar onder sy mede Afrikaners by die universiteit was ’n spoedig ’n beminde persoon. In 1904 (dieselfde jaar as wat sy vader tot die parlement verkies is) word hy gekies as Suid-Afrika se verteenwoordiger op die universiteit se studenteraad. Na ’n suksesvolle studie keer hy 1906 na Suid-Afrika terug om sy loopbaan as dokter te begin. Een van die eerste persone onder sy behandeling was sy eie ma, maar sy is egter in 1907 oorlede. Hy vestig om aanvanklik op Carnarvon, waar hy weer kennis maak met sy skoolvriend DF Malherbe. In 1909 verhuis hy na Steytlerville, waar hy vir Lettie Conradie, nege jaar jonger as hy, by ’n bazaar ontmoet. Hulle trou in 1913. Lettie was self ’n gekwalifiseerde onderwyseres en sy kon klavier en tjello speel – sy is die Laetitia van Visser se gedigte. In 1916 stem Visser in by ’n versoek om ’n praktyk op Heidelberg, Transvaal te begin, slegs ’n kort rukkie na sy pa onverwags oorlede is.

Met die geboorte van hul derde kind is Lettie op tragiese wyse in Februarie 1921 oorlede. Onmiddellik het Visser se ma (wat eintlik sy stiefma was) haar na Heidelberg gehaas om die huishouding vir die volgende ses jaar te behartig. Dokter Visser was aktief betrokke by ’n verskeidenheid organisasies op Heidelberg. Hy was op die beheerliggaam van die Hoër Volkskool, president van die Afrikaanse Kultuur- en Toneelvereniging, en lid van die stadsraad. Daarby was hy ’n mooi mens, en alombemind in die distrik nie slegs as geneesheer nie maar as ’n warm, aantreklike persoonlikheid, altyd vol lewenslus, die ewige optimis. Middel 1923 Visser die huisarts van Eugène Marais, wat hom op Heidelberg gaan vestig het as regsgeleerde. Sy gestorwe vrou was ook Lettie, en sy is ook oorlede tydens ’n bevalling. Maar Visser en Marais se verhouding word spoedig meer as dié van vaste geneesheer en pasiënt. Hulle word goeie vriende. Op sy beurt neem Marais vir Visser onder sy vlerk met die skryf van laasgenoemde se gedigte. Sy humoristiese verse en puntdigte staan Marais aan, maar sy ernstiger stukke word onder Marais se toesig van hul sentimentaliteit gestroop. Daarby moedig Marais vir Visser aan om meer te skryf, ook prosastukke. In 1924 kry Visser ’n hartaanval, waarvoor amper drie maande in die hospitaal bly. Sy eerste digbundel, Gedigte, verskyn in 1925.

Alhoewel sy gesondheid noot weer sou wees wat dit was nie, tree hy in 1927 vir die tweede maal in die huwelik. Sy bruid is Marie de Villiers, kleindogter van oom Japie Helpmekaar. Dieselfde jaar verskyn sy tweede bundel, Rose van Herinnering. Op Maandag, 10 Junie 1929, minder as twee jaar na sy huwelik, sterf AG Visser in sy huis aan ’n hartaanval. Huldeblyke het van regoor die land gekom, en ander digters soos CJ Langenhoven, C Louis Leipoldt en ID de Villiers het gedigte oor hom geskrywe. Op sy graf pryk ’n oop boek, waar die volgende betekenisvolle woorde staan:

“Goddank vir jou.”

Verdere leesstof:

•    Burger, C.J.S.C. 1982. A.G. Visser. (In Nienaber, P.J. red. Perspektief en Profiel – ’n Geskiedenis van die Afrikaanse Letterkunde. 5de uitg. Johannesburg: Perskor. Pp. 275-284).
•    Langenhoven, P.H. 1950. Sanger van die Suikerbosrand: die lewensverhaal van A.G. Visser. Johannesburg: Voortrekkerpers.
•    Venter, I.L. 1999. A.G. Visser. (In Van Coller, H. red. Perspektief en Profiel – ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 2. Pretoria: J.L. van Schaik. pp. 746-756).