Afrikaners veg teen Afrikaners

Die “Dutch Mark” om die nek
April 15, 2015
Kerklike verdeeldheid
April 17, 2015

Die propaganda dat Afrikaners gedurig verdeeld was onder mekaar, was ongelukkig ten dele waar. Daar was aan die begin geen sterk regering in Transvaal nie. Die boere het die kaal, koue vlaktes en bulte van die Hoëveld vir eers links laat lê en gaan woon in die warmer dele wat boonop voldoende swart arbeid gehad het. Die wit mense het ver van mekaar gebly, hoofsaaklik in Potchefstroom, Rustenburg-Marico, Lydenburg en Soutpansberg. Hulle was bitter arm – baie van hul vee was geroof, hul waens en meubels verniel deur die trek oor berge en riviere, kontantgeld uitgegee om lood en kruit en die nodigste ware van smouse te koop. Daar was geen markte vir produkte nie, en hulle het groot skades gely weens onbekendheid met die land. Duisende beeste het in 1851 aan longsiekte gevrek, en perdesiekte en die tsetsevlieg het gereeld slagoffers geëis. In die Laeveld is baie mense dood aan malaria en geelkoors.

Politieke twiste was volop. Die sentrale figure was MW Pretorius, seun van Andries Pretorius, en Stephanus Schoeman, kommandant-generaal van Soutpansberg (sedert 1855 die florerende handelsentrum Schoemansdal). Pretorius wou graag die twee republieke verenig, maar het in Bloemfontein so taktloos opgetree dat die Volksraad dáár hom gevra het om die land te verlaat.

Toe die nuus Potchefstroom bereik, was Pretorius se mense woedend, en hulle het met ’n kommando oor die Vaalrivier getrek. President JN Boshoff van die Vrystaat wou weer “die invallers” verdryf, en Schoeman het die Vrystaters sy samewerking beloof. Só het die Transvaalse en Vrystaatse kommando’s by die Renosterrivier teenoor mekaar te staan gekom. Kommandant Paul Kruger van Transvaal het die twee partye egter oorgehaal om vrede te maak. Die twee state het mekaar se onafhanklikheid erken en daarna was daar nie weer ernstige rusie tussen hulle nie.

Maar in Transvaal was die verdeeldheid tussen verskeie faksies so groot dat ’n geveg van 7 tot 9 Oktober 1862 op Potchefstroom plaasgevind het tussen ’n Volksleger met Schoeman se ondersteuners en ’n Staatsleger onder Paul Kruger. Schoeman en sy mense het na die Vrystaat uitgewyk, maar toe die Staatsleger weg is, het die Volksleger weer die dorp beset. Pretorius het ’n tweede geveg voorkom.

Later is ’n valse gerug versprei dat Kruger die Gereformeerde Kerk tot staatskerk wou uitroep, en Jan Viljoen het Paul Kruger se Staatsleger verplig om uit Potchefstroom na die Vrystaat te vlug. Op 5 Januarie 1864 was daar ’n geveg tussen die twee groepe by die Krokodilrivier, waar Kruger die Volksleger verslaan het. MW Pretorius het die vrede tussen die twee partye herstel. Hy is dan ook tot nuwe president gekies nadat hy as president van die Vrystaat bedank het. Daarmee was die burgeroorlog verby.

’n Mens kan ’n mate van ’n nasiegevoel bespeur in die besluit van die Volksraad in 1865 om 16 Desember tot openbare vakansiedag te verklaar. Die dag is later “Dingaansdag” genoem. Vir baie stedelinge was dit net ’n vakansiedag vir krieket en piekniek hou, maar vir Afrikaners het dit nasionale betekenis gekry.