AFRIKANERS SE GODSDIENSBELEWING TYDENS DIE ANGLO-BOEREOORLOG: AANTEKENINGE OOR J.D. KESTELL EN A.P. KRIEL

DIE LONG TOM-KANONNE VAN DIE ANGLO-BOEREOORLOG: WAT HET VAN HULLE GEWORD?
February 20, 2017
BOEREGEÏNTERNEERDES IN PORTUGAL TYDENS DIE ANGLO-BOEREOORLOG (1899-1902)
February 27, 2017

’n Unieke herdenkingsgeleentheid met as tema “Afrikanerperspektiewe op die Anglo-Boereoorlog” is op 29 en 30 Mei 1998 deur die FAK in samewerking met die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, in Bloemfontein aangebied. Hierdie is een van die referate wat gelewer is.

 

deur Piet Strauss

Noodsaak vir terreinafbakening

Die tema soos aan my gegee, Godsdiensbelewing tydens die Anglo-Boereoorlog, loop geweldig breed en kan onmoontlik in die bestek van ’n halfuur bevredigend aangepak word. Bloot ’n voorlopige ontleding hiervan dui al daarop dat dit hier gaan om die godsdiensbelewing van Boer, Brit én gekleurd in die stryd. ’n Belewing wat, vanweë die hoofkarakters – Boer en Brit – betrokke, hoofsaaklik op die Christelike godsdiens afgestem was.[1] 

Binne die raamwerk van die Christelike godsdiens word dit ’n belewing wat eerstens sentreer rondom kultiese elemente soos normale kerklike en/of gemeentelike byeenkomste en aksies; ere- en ander dienste; bidstondes; godsdiens tuis, iewers op die Suid-Afrikaanse veld, in “refugee” of troepekampe; en persoonlike stiltetye. Verder ook die belewing van pastorale sorg “te velde”, in krygsgevangene- en konsentrasiekampe; die belewing van die verband tussen die oorsake en verloop van die oorlog en die voorsienigheid van God; strydvrae rondom etiese kwessies soos aan wie se kant was God, waarom die lyding en ellende van die oorlog, hoe tree jy op teenoor burgerlikes, krygsgevangenes, verraaiers, hensoppers, en joiners, en menslikheid en beskawing te midde van die vyandelikhede.

Waar dit egter vir ons hier om Afrikanerperspektiewe gaan, wil ek konsentreer op die godsdiensbelewenis van twee Nederduits Gereformeerde Kerk en Afrikanerpredikante, JD Kestell en AP Kriel. In dié proses gaan dit vir my nie om ’n blote historiese aanpak nie, maar ook ’n ondersoek na die breë godsdienstige[2] en teologiese motiewe wat in hulle gewaarwordinge en optredes deurwerk.

Beide was tot aan die einde van die oorlog saam met die Boeremagte in die veld. Kestell sou in die Vrystaat as die enigste veldprediker klaarmaak (Van Schoor 1992:114, 130), terwyl Kriel hom tydens die vrede van 31 Mei 1902 in die Noordwes-Kaap saam met genl. Van Deventer bevind het (Kestell 1932:112-116). Beide het nie as gevegsman nie, maar as prediker, sielsorger, verpleër en let wel, motiveerder[3] aan die kant van die Boere ingeval (Van Schoor 1992:76, 120, 123; Kestell 1932:92, 93, 100). Wat die saak vergemaklik, is dat Kestell sy wedervaringe in die oorlog in finale instansie in sy bekende Met de Boeren-commando’s gepubliseer het,[4] terwyl daar van Kriel ook ’n kommandodagboek en korrespondensie uit die oorlog oorgebly het.

 

Breë oorsig van Hollands-Afrikaanse kerke se betrokkenheid by die Anglo-Boereoorlog

Dit spreek haas vanself dat die NG Kerk en ander Hollands-Afrikaanse kerke in die destydse Vrystaat en Transvaal nie by die oorlog wat oor hierdie twee Boererepublieke gekom het, onbetrokke kon bly nie.

Onder Afrikaners en hulle predikante was daar in die aanloop tot die oorlog twee breë konsensusse: (i) dat hulle vir vrede moes bid en werk en (ii) dat die doelbewuste Britse afstuur op die oorlog nie geregverdig was nie (Van der Merwe 1988:99-107). Die reg – God se reg – was hulle insiens aan die kant van die twee Boererepublieke. Beide Kestell en Kriel sou hulle hiermee vereenselwig. Daarby sou hierdie etiese oortuiging direk inspeel op hulle omgang met God sodat bepaalde gebeure in die oorlog ’n direkte invloed op hulle godsdiensbelewing sou hê.

In beide die Vrystaat en Transvaal sou die bedrywighede van hierdie kerke – op enkele uitsonderings na – tot min of meer met die Britse oorname van die twee hoofstede in die eerste helfte van 1900, normaalweg voortgaan. Daarna het die oorlog ’n ingrypende verandering in die normale daaglikse bestaan van die Boere in beide republieke teweeggebring. Kerkgeboue, pastorieë, gedeeltes van dorpe en plaaswonings is ernstig beskadig of verwoes, predikante is verban en lidmate verstrooi. Waar daar werkkragte beskikbaar én gewillig was, is die pastorale bearbeiding van burgers op kommando, van krygsgevangenes[5] en van vroue, kinders en die enkele mans in konsentrasiekampe egter voortgesit (Van der Merwe 1988:114 vv; vgl. Louw 1963; Strauss 1922:22-27; Kotzé 1942). Die afloop van die oorlog met sy bittereinders, hensoppers en joiners en die oorlewingstryd in Boeregeledere sou egter ook sy nadraai in die NG Kerk hê. Gemeentes moes intens betrokke raak by die heropbou van die Afrikanergemeenskap na die oorlog. Hiernaas was daar ’n duidelike identifisering van kerkleiers met die standpunte van die “bittereinder” Boeregeneraals wat die oorlog te velde voltooi het, terwyl ’n deel van die “joiner”-element in die sogenaamde Scoutgemeentes afgeskei het (Van der Watt 1980:187 vv).

Kestell en Kriel het hulle by eersgenoemde geskaar.

Wat ook uit die literatuur blyk, is dat die “goeie” en die “slegte” hom tydens die oorlog steeds onder Afrikaners sou voordoen. Kerkbywoning op St. Helena lyk goed, maar dit verteenwoordig maar ’n driekwart van die aanwesige Boere (Kotzé 1942:69); kleingeloof, wanhoop, onderlinge relletjies en vloektaal kom voor (Van Schoor 1992:85); die bevele van offisiere word verontagsaam en ordelike organisasie ontbreek – veral aan die begin (Kestell 1932:93); en die “Sabbat” word sienderoë ontheilig, solank dit net nie deur werk is nie (MER 1947:239)! Beide Kestell en Kriel sou in die oorlog hiermee én met die sondige natuur in hulleself worstel.

 

Kriel: die Boere se saak is reg, maar…

Vir Kriel was dit duidelik dat die Boere se stryd vir die behoud van hulle politieke onafhanklikheid voor God reg was. Op 11 Oktober 1900, ’n jaar na die uitbreek van die oorlog, skryf hy in ’n brief aan sy vrou dat baie burgers die knie voor die Engelse taal nog nie gebuig het nie. Sy moet ook nie die oorlogsnuus in die Engelse koerante glo nie, omdat dit nie betroubaar is nie. Die beste is om dit nie te lees nie. Dan word mens nie “onwillekeurig boos” nie (Kestell 1932:100).

Kriel kom skerp en reguit, maar ook emosioneel voor. Onder die wanindruk dat die vredesluiting van 31 Mei 1902 die behoud van die onafhanklikheid van die twee Boererepublieke insluit, bring hy hierdie nuus “al juigende en God lowende” na sy laer in die Noordwes-Kaap. Hier roep hy die manne bymekaar. Almal kniel saam met hom. Dan loof en dank hulle God vir die uitkoms van die stryd. Op die koop sing hulle Psalm 146 vers 1 en 6. Behalwe vir die bekende “Prys die Heer…” eindig vers 6 (in Afrikaans) met die volgende betekenisvolle woorde:

…wie in stof lê neergeboë,

word deur Hom weer opgerig.

Hy bemin dié wat opreg

wandel in sy woord en weg.

 

Hierdie vers verwoord ’n tema wat Kriel feitlik deurgaans as prediker aan die Boere in hulle omstandighede oordra: Julle saak is reg. En as julle julle tot God bekeer, sal Hy aan julle die oorwinning gee. Sy biograaf, Kestell, praat van ’n “versekerdheid” in die verband by Kriel (1932:99). Hierdie oortuiging wat spruit uit Kriel se geloof in en verstaan van God en sy wil, was dus die oorsaak van sy jubeling by die eerste, verdraaide, aanhoor van die gebeure van 31 Mei 1902. Wat Kriel onder bekering insluit, kom ook op ander plekke in die weergawe van sy oorlogswedervaringe na vore. So spreek hy die burgers by geleenthede aan oor: ontheiliging van die dag van die Here, die verwoestende drankhandel, die versuim om aan die heidene “in ons midde” die Evangelie te bring, en buitsug onder die burgers (Kestell 1932:102-103). Reeds na die Slag van Colenso op 15 Desember 1899 merk Kriel op dat die oorlog lank gaan aanhou omdat “ons volk” nog nie die les geleer het wat God hom wil leer nie. Bekering moet kom voordat vrede verwag kan word (Kestell 1932:94). In baie gevalle tref sy boodskap – soos blyk uit die getuienis van ’n aantal burgers onder genl. Beyers oor hulle sielsbekering onder Kriel se bediening (Kestell 1932:100).

Kriel se reaksie toe hy op 14 Junie 1902 by Oorlogsfontein van die ware toedrag van sake by genl. Smuts verneem, is net so betekenisvol.

Die betrokke aand slaap hy volgens eie getuienis amper nie. Die volgende dag is ’n Sondag. By die oggenddiens preek hy uit Klaagliedere 3 en 5.

“Die Here het my met sy toorn geslaan…” (3:1)

“Ons besittings is gevat en aan vreemdes gegee, ons huise aan uitlanders…” (5:2)

Sy worsteling met God duur egter nie lank nie. Maandagmôre kondig hy aan (Afrikaanse vertaling): “Kalm en stil voeg ek my na Gods wil” (Kestell 1932:116).

 

Kriel evangelies-ortodoks?

Kriel se optrede soos tot hier geskets, openbaar ’n aantal tiperende godsdienstige en teologiese trekke. Trekke wat waarskynlik ook ’n bepaalde faset van sy persoonlikheid of temperament blootlê.

Dit wil voorkom asof Kriel in die breë evangelies-ortodokse tradisie in die NG Kerk van sy tyd gestaan het: aanvaar God se wil vir jou lewe, bekeer jou, hou by die gesonde gereformeerde leer[6] en gee byna wetties wat Hy van jou eis. Dan sal hy jou seën. En, as jy na jou aanvanklike bekering die indruk van geestelike stagnasie of teruggang skep, begin ons weer voor! In verband met laasgenoemde reël Kriel juis in Oktober 1900 ’n geestelike konferensie by Waterval naby Warmbad in Noord-Transvaal. Sy onderwerpe word in krygsterme gegiet met die oorhoofse tema: ’n Goeie krygskneg van Jesus Christus. Onvergeetlik was dit volgens Kriel toe ’n aantal burgers na die bespreking van die eerste onderwerp, Jesus Christus die Kommandant-Generaal, in die gebed hulle harte aan die groot Generaal gegee het (Kestell 1932:101).

Behalwe bekering, word ‘n element van verdienstelikheid deur gehoorsaamheid ook hier ingebou. Dieselfde soort klem op bekering en die regte lewe, met voorspelde goeie gevolge vir die onmiddellike toekoms, is ook elders by Kriel aanwesig. Dit is sy boodskap wanneer hy vrug boekstaaf in sy bearbeiding van die lede van genl. Beyers se kommando’s in Noord-Transvaal (Kestell 1932:100). En by ’n dank- en biddag op 27 Februarie 1902 teken hy aan dat as die voorgangers van die Boere méér beslis was, sou die burgers hulle volg op die weg van bekering (Kestell 1932:112). Daarby gaan sy belewing van die godsdiens gepaard met onmiddellike, sigbare uitings van sy gevoel; iets wat moontlik met sy eie temperament sowel as die evangeliese tradisie te make gehad het.

 

Getroue bedienaar, maar ook worstelaar

Kriel beleef die oorlogswerklikhede van elke dag intens en dikwels ook met implikasies vir sy godsdiens.

Na die oorwinning van Beyers en andere oor brandstigter Clements – soos die uitgesproke Kriel hom noem – by Nooitgedacht op 12 Desember 1900, volg ’n dag van gebed en verootmoediging op 15 Desember. Hierdie dag word deur die Transvaalse regering uitgeroep en Kriel lei die diens in die Moot wes van Pretoria. Kriel vertel deurgaans van sy gebruik om na suksesvolle krygsaksies onmiddellik die manne bymekaar te roep en ’n dankdiens te hou (Kestell 1932:94, 112). Die volgende dag, Sondag 16 Desember, lei Kriel op tipiese styl ook die viering van Dingaansdag voor twee duisend mense. Hy noem dit later ’n onvergeetlike gebeurtenis. Nadat hy Psalm 24 voorgelees en die skare die gebruiklike “Prys die Heer…” gesing het, bestyg almal ’n koppie met die Vierkleur “voorop”. Bo-op die koppie hou Kriel aan hulle die volgende gelofte voor:

Wij doen belijdenis met schaamte op onze aangezichtenen en diep berouw dat wij het verbond tusschen de voorvaders en God gemaakt in Natal en later te Paardekraal, naamlijk, om den 16den Desember als een Sabbat te houden, overtreden hebben. Verder beloven wij heden plechtiglijk voor God bij dat verbond te zullen blijven en als Afrikaansch volk met de hulp des Heeren Hem te dienen.

Kriel vertel dat al die teenwoordiges hulle instemming met hierdie skuldbelydenis en belofte betuig het deur elkeen ’n klip op ’n stapel te lê wat op die ou einde vier voet hoog was. Hy het hulle ook beweeg om hardop agter hom aan die naam Ebenhaeser aan die plek te gee (Kestell 1932:103). Evangelies, nasionaal, intens en ekspressief, dit was Kriel!

Rondom sy godsdienstige oortuigings en sy volhardende arbeid as kommandoprediker beleef Kriel dus talle emosionele hoogtepunte. En tog, eie aan die gelooftradisie waarin sonde en skuld beklemtoon word, en in lyn met sy ekspressiewe en intense aard, beleef hy ook emosionele laagtepunte.

Die plaas “Nauwte” waarop hy saam met die burgers met ’n inval in Kaapland aankom, beklemtoon vir Kriel stilweg die tydelike en geestelike noute waarin hulle hulle bevind. In hierdie tyd skryf hy dat sy geestelike termometer laag lê. Hy voel soos ’n droë put en rig weinig uit. Ook pleit hy dat die Here nie ver van hom moet wees nie. ’n Paar dae later stort hy byna letterlik die klagte uit dat hy nie met genoeg geesdrif preek nie. Hy worstel in gebed, dikwels ook saam met ander lede van die kommando. En die nuwe dag bly nie lank uit nie (Kestell 1932:110-111). Ook nie in die tydperk na die oorlog waarin Kriel groot werk onder arm en ouerlose Afrikanerkinders doen en die bekende kinderhuis in sy gemeente Langlaagte in Johannesburg later na hom vernoem word nie (Kestell 1932:11-17 vv).

 

Kestell: stry teen Britse onreg

Ook JD Kestell sou hom geheel en al vereenselwig met die standpunt dat die reg aan die kant van die Boererepublieke in die oorlog was. Hoewel nie in dieselfde volkeregtelike terme nie, sluit sy houding in hierdie verband nou aan by dié van ’n persoon wat hy intens leer liefkry en bewonder het, die laaste Vrystaatse president MT Steyn (Strauss 1996:564 vv). Trouens, uit Kestell se eie weergawe van sy belewenisse tydens die oorlog kom sy eerbied vir die Vrystaatse regering soos saamgetrek in die president en hoofkommandant CR de Wet, duidelik na vore. Vir hom was dit ’n reuse voorreg om hulle te vergesel in die laaste fase van die oorlog (vgl. Van Schoor 1992:114) en om as waarnemende sekretaris van die Uitvoerende Raad van die Vrystaat tydens die vredesonderhandelinge in 1902 op te tree (vgl. Kestell en Van Velden 1982). Sodoende het hy nie alleen ooggetuie geword van die beëindiging van die, vir hom, dierbare onafhanklikheid van die twee republieke nie, maar kon hy die proses ook pastoraal begelei.

Kestell se weergawe van sy godsdienstige belewenisse as veldprediker draai grootliks om twee sake: gebeure wat direk verband hou met die voortsetting en handhawing van die reg op onafhanklikheid van die republieke en sy roeping om sy mense op kommando met die Woord van God te lei, te bemoedig en te vertroos. In laasgenoemde geval sou hy daarin volhard om saam met hulle die wind en weer, hitte en koue, aanval en vlug, te trotseer. Vir hom het die Woord in hierdie situasie juis om aanhou en volharding gevra, tot die bittereinde toe, omdat die reg aan Boerekant was. En wat by gepreek het, wou hyself ook voortleef (vgl. Van Schoor 1992:76, 120, 123).

Sy bediening het dus veel ingehou: die bring van die Woord by dienste, die spreekwoordelike boekevat, bidure, dae van danksegging en verootmoediging soos deur die regerings van die twee republieke bepaal, die wisseling van die ou- met die nuwejaar, sterwensbegeleiding, in talle noodsituasies en Dingaansdag. Daarby pastorale begeleiding aan groepe en die enkeling, troos, moed inpraat, raadgee (Kestell 1902:35, 70; Van Schoor 1992:77, 103, 115, 118).

Wat opvallend is in Kestell se vertellings, is die eenvoud van geloof, belewing en daarom ook van formulering. Daarby is daar by hom ’n onderliggende, ongekunstelde nederigheid en ’n sterk pastorale uitleef na hulle wat die saak moet dien.[7]

Kestell was daarvan oortuig dat Brittanje in sy miskenning van die reg van die twee Boererepublieke op staatkundige onafhanklikheid, laasgenoemde ’n groot onreg aandoen. Saam met Steyn het hy geglo dat sommige Britse regeringslede die Afrikanervolk wou uitwis. Maar net so sterk was sy geloof dat die Here God die Afrikaner nie sou laat ondergaan nie. Die God van Abraham, Isak en Jakob was immers tot hiertoe “een hulp in benoudheid ook voor ons”. Hierdie feit moes die burgers egter nie sorgeloos stem nie. Elkeen moes sy plig teenoor God en vaderland doen. Anders as Kriel, formuleer Kestell hierdie opdrag nie as ’n duidelike voorwaarde vir ’n Boere-oorwinning nie. Dit moes nietemin nagekom word (vgl. Kestell 1902:42, 169, 285; Van Schoor 1992: 95, 103, 118, 120).

So sterk sou Kestell met die Vrystaatse saak soos saamgetrek in Steyn en De Wet identifiseer, dat hy na die oorlog ook as pleitbesorger vir laasgenoemdes se bittereinder-standpunt optree. Teen kritiek oor die uiteindelike ellende wat die voortsetting van die oorlog oor die Afrikaner sou gebring het, sê hy aan die slot van die naskrif in sy Met de Boeren-commando’s:

Ik dank God dat hij mij in staat stelde om tot het einde in de commando’s te blijven. En wat betreft het verwijt tegen het hoofd van de leidslieden des volks geslingerd, dat zij verleiders waren, kan ik dit zeggen dat ik nooit, zelfs niet in de donkerste uren, weten kon wat gebeuren zou, noch weten wat God voor ons volk besloten had – en dit was mij ook helder voor den geest: dat als iedere zaak opgegeven werd, toen zij scbijnbaar hopeloos was, dan waren vele van de heerlijkste overwinnigen, die de wêreld gezien heeft nooit bebaald. (1902:285).

 

Emosies rondom die saak waarvoor gestry word

Juis omdat Kestell so sterk oor volharding vir die saak van twee klein republiekies teen ’n wêreldmoondheid as ’n saak waarvoor God ook beskerming gee, gevoel het, sou gebeure wat hierdie saak benadeel hom in ook in sy godsdiensbelewenis diep tref.

Daarom was die oorgawe van genl. Marthinus Prinsloo op 29 Julie 1900 met ’n paar duisend man in die Brandwaterkom, agter die Witteberge teen die Basoetoegrens, vir hom “de treurigste dag in de gescbiedenis van onzen oorlog” (1902:70). Die vlugtende burgers, mismoedige woorde van offisiere en sprekende stilswye van ander daarna, het hom emosioneel platgedruk en tot wanhoop gestem. Nadat hy innerlik egter weer koers gevat het, was hy skaam vir hierdie fase in sy gemoedstoestand. Dit was immers hy wat ander gedurig vanuit die Woord bemoedig en nog ’n maand vroeër aan die president geskryf het dat hy die stryd saam met hom tot aan die einde sou voortsit. Kestell het nie weer tydens die oorlog in hierdie soort gemoedstemming verval nie (Kestell 1902:75-76, 163; Van Schoor 1992:91, 99).

Juis omdat hy weet wat dit is om “moedeloos te zijn”, betuig Kestell die bittereinder later begrip vir neerslagtigheid as rede waarom burgers die wapen neergelê het. Wat hy nie kon verstaan nie, was dat ander Boere die wapen teen hulle eie mense opgeneem het (1902:170).

Teen die agtergrond van die godsdienstige oortuigings van Kestell rondom die oorlog, is dit nie verbasend dat die proklamasie van die twee republikeinse regerings oor ’n dank- en biddag op respektiewelik 8 en 9 Augustus 1901, hom diep in die hart gegryp het nie. Hy was daarvan oortuig dat min ander regerings in die moderne tyd so iets sou laat uitgaan.

In hierdie proklamasie word die burgers versoek om God te dank vir groot en klein oorwinnings, vir uitredding en bewaring teen die vyandelike oormag, vir die voorsiening van kos, klere en ammunisie en vir ’n gees van volharding en moed. Volgens die regerings beteken al hierdie seëninge dat die Here geen behae in die ondergang van die “Volk” het nie, maar hulle terugkeer tot Hom verlang. Die tweede deel, naamlik gebed, so was die versoek, moet gewy word aan ’n erkenning van sonde en skuld (Kestell 1902:162-163; Van Schoor 1992:110-111). Behalwe dat die algemene strekking van die proklamasie deur Kestell as morele steun vir die inhoud van sy bediening vertolk kon word, kon hy ook hartlik instem met die deel oor kos, klere en ammunisie vir elke dag. God het dit dan deur die vyand wat in Boerehande val, op ’n meesterlike wyse voorsien (1902:169)!

Kestell se weergawe van sy godsdiensbelewing tydens die oorlog word dus veral gekleur deur ’n tradisionele kant van die “Calvinisme”. Hierin gaan dit om die lewe as ’n eenheid wat in sy geheel van God afhanklik is en op Hom gerig moet wees. Daarom sy groot konsentrasie op die saak van die twee republieke. Daar is egter ook ’n element van die ortodoks-evangeliese rigting in sy koppeling van God se bewaring aan die mense wat volgens sy wil handel.

 

Kort balans

Die klaarblyklike verskil tussen die belewenisse van Kestell is dat Kriel meer geïsoleer onder sy bepaalde kommando’s met tradisionele predikantswerk besig is, terwyl Kestell vanweë sy omstandighede en aanleg met sy arbeid meer by die groter volksaak betrek word. Kestell skryf dan ook aan die begin van die oorlog ’n ope brief “To the British Nation” wat op 24 Oktober 1899 in De Express verskyn.

Hierin sny hy verskeie sleutelkwessies rondom die oorlog met welsprekendheid in sy goeie Engels aan (vgl. Bv. Van Schoor 1992:78-79). Ook sy Met de Boerencommando’s (vgl. voorwoord 1902) na die oorlog dien as pleitstuk vir die saak van die Boere. Kriel is verder meer geneig tot die ekspressiewe en emosionele as wat ons by Kestell kan opspoor, terwyl daar by laasgenoemde ’n mildheid van toon is wat by Kriel ontbreek.

Waarin die twee Afrikaner- en NG Kerk-predikante dit egter eens is, is dat ’n oorlog sonder God en sy hulp onmoontlik is en dat God ook oorlog gebruik om mense deur die smeltkroes te stuur en nader aan Hom te bring.

 

Bronne

Kestell, J.D. Met de Boeren-commando’s. Amsterdam en Pretoria, 1902.

Kestell, J.D. Abraham Paul Kriel. Sy lewe en werk. Langlaagte, 1932.

Kestell, J.D. en Van Velden, D.E. Die Vredesonderhandelinge. Kaapstad, 1982.

Kotzé, C.R. My ballingskap. Bloemfontein, 1942.

Louw, J . De A.F. Louw op St Helena. Pretoria, 1963.

MER. Oorlogsdagboek. Kaapstad, 1947.

Strauss, P.J. Middelpunt van die gemeenskap. NG Kerk Luckhoff1892-1992. Luckhoff, 1992.

Strauss, P.J. Lewensbeskoulike aspekte in die openbare standpunte van president MT Steyn 1899-1902. Ned. Geref. Teologiese Tydskrif XXXVI/4, 1996. pp. 558-571.

Van der Merwe, G.A. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die OVS tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902. Ongepubliseerde DTh-verhandeling. Bloemfontein, 1988.

Van der Watt, P.B. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1824-1905. Pretoria, 1980.

Van Schoor, M.C.E. John Daniël Kestell. Bloemfontein, 1992.

 

[1] J.D. Kestell betreur dit juis êrens dat een Christelike volk ’n ander deur hierdie oorlog wou uitroei, 1902:134.

[2] Vir die Bybelgelowige en “Calvinistiese” Afrikaner het alles in die lewe deel uitgemaak van sy diens aan God. Kestell en Kriel integreer albei feitlik al hulle standpunte en ervaringe op kommando met God en sy wil.

[3] Veral Kestell tree gereeld in hierdie hoedanigheid op. Behalwe dat hy vreesbevange burgers tydens gevegte moed inpraat, meld hy in die naskrif van sy Met de Boerecommando’s dat hy as Evangeliedienaar sy volk in die uur van sy grootste nood moes bystaan, onder andere om die moedeloses moed in te praat, 1902:285.

[4] Kestell het oorlogsdagboekies aangehou waarvan hy dele, as gevolg van oorlogsomstandighede waarin dit verlore gegaan het, later moes oorskryf, 1902:1.

[5] Louw 1963:23, 80, 84 en Kotzé 1942:68, 72 vermeld die opbloei van bekering en geloof en die Christelike Strewersvereniging in die krygsgevangenekampe op St. Helena en elders en die gevolglike totstandkoming van die Boere-Sendinginstituut op Worcester na die oorlog.

[6] Kriel is op kommando ook aktief besig met die katkisasie van jongmanne, terwyl hy ook die doop en die nagmaal bedien in abnormale – sonder die kerkraad – omstandighede, Kestell 1932:101, 110.

[7] Hierdie trekke vind ons ook in die gewaardeerde werk in outobiografiese styl, van MCE van Schoor oor Kestell, 1992.