Weens Boere-invalle in die Kaapkolonie is krygswet na al hoe meer distrikte uitgebrei totdat dit op 17 Januarie 1901 oor die hele Kolonie van krag was behalwe in die hawestede, in Wynberg en in die swart gebiede. Die Britse militêre owerheid het alle gesag gehad en van ’n normale lewe kon daar geen sprake meer wees nie. Mense moes mooi oppas wat hulle sê, want ’n onversigtige uitlating kon lei tot aanklagte van sedisie of selfs hoogverraad. Mense is gearresteer sonder dat hulle ooit aangekla is. Verkeer tussen die verskillende dele van die Kolonie is omtrent heeltemal lam gelê. Die militêre owerheid het dikwels op Afrikaners se besittings soos vee, perde, karre en waens beslag gelê sonder om hulle te vergoed. Armoede en ellende was die gevolg.
Honderde Afrikaners het voor militêre howe verskyn op aanklag dat hulle die een of ander vorm van rebellie gepleeg het. Baie van hulle het inderdaad die wapen opgeneem teen die owerheid. Vir baie mense was daar ’n botsing tussen lojaliteit aan die wettige staatsgesag en getrouheid aan die volk. Die Afrikaners was reeds ’n geestelike eenheid, en ’n Afrikanerindividu het gevoel dat wat ’n volksgenoot aangedoen word, ook hom of haar raak. Aan die volk was die Afrikaners geestelik en liggaamlik verbonde, terwyl die owerheid so dikwels vreemd teenoor hulle gestaan het. Daarom het trou aan die volk vir duisende Afrikaners die deurslag gegee. Hulle het die morele wette hoër geag as die landswette.
Die militêre howe het 1012 mense tot gevangenisstraf veroordeel en 34 Afrikaners tereggestel. Sommige van hierdie Afrikaners is onskuldig veroordeel. Op 19 Augustus 1901 is PJ Fourie byvoorbeeld in Graaff-Reinet tereggestel op aanklagte van aansluiting by die republikeinse magte, poging tot moord, plundering en brandstigting. ’n Brit, FW Flower, wat Fourie as ’n saggeaarde man geken het, het geskryf: “The blood of those simple farmers will cry to the Almighty for vengeance, and the mills of God, if slow, are sure.”
Die politikus John X Merriman was ’n tyd onder huisarres. Drie redakteurs (FS Malan van Ons Land, J de Jongh van The Worcester Advertiser en JA Vosloo van Het Oosten) moes tronk toe omdat hulle generaal French en een (Albert Cartwright van The South African News) omdat hy Kitchener sou belaster het. Malan en Cartwright was twaalf maande in die tronk, die ander twee ses. Malan het op 24 jaar ná ’n aanbod van Onze Jan Hofmeyr redakteur geword, was een van die skerpste aanvallers van Rhodes ná die Jameson-inval en het al hoe meer na vore getree as toekomstige leier van die Afrikanerbond.
Nie net Vrystaters en Transvalers nie, maar ook Kaapse Afrikaners moes dus onder Brittanje ly. So het die oorlog een van die kragtigste faktore geword om die eenheidsgevoel onder Afrikaners in alle dele van die land te versterk en ’n gees van nasionalisme aan te wakker. Die lot van tereggesteldes het ’n groot indruk gemaak en later die tema geword van letterkundige werke soos C Louis Leipoldt se groot gedig “Oom Gert vertel” (1912) en DF Malherbe se eerste roman Vergeet nie.