Dr. Japie van Zyl, gebore in Namibië, het Elektriese- en Elektroniese Ingenieurswese op Stellenbosch studeer, waarna hy verder in fisika en ingenieurswese by die California Institute of Technology (Caltech). Hy het in 1986 by NASA se Jet Propulsion Laboratory (JPL) aangesluit, en is tans die Direkteur van Projekformulering en Strategie van dié eenheid. Oor die jare was hy verantwoordelik vir die bestuur van JPL se Radar Science and Engineering Section, die Earth Science Flight Missions and Experiments Office, en die Focused Physical Oceanography and Solid Earth Program Office. Dr. Van Zyl ag sy Afrikaanse studiejare op Stellenbosch as van deurslaggewende betekenis vir sy loopbaan. “Die fondasie in ingenieurswese wat ek op Stellenbosch gekry het, is ongeëwenaard in die wêreld,” sê hy.