Afrikaners kry tydskrifte en koerante

’n Nuwe geldstelsel
March 8, 2015
Die emansipasie van die bruin mense
March 10, 2015

Afrikaners was tot in die 1820erjare polities apaties. Hulle het nog geen persorgaan gehad om hul volks- en taalbelange te stel nie. Daaraan sou langsamerhand verandering kom.

Die Kaapsche Stads Courant/Cape Town Gazette and African Advertiser, van 7 Julie 1826 af The Cape of Good Hope Government Gazette, het ’n regeringsorgaan met sulke swaarwigtige proklamasies, ordonnansies en offisiële berigte geword dat die mense interessanter blaaie wou hê. Daarom het die Britse Setlaars George Greig, Thomas Pringle en John Fairbairn in 1824 The South African Commercial Advertiser opgerig. Die blad het later advertensies en hoofartikels in Hollands geplaas. Die ontevredenheid van die plattelanders met die rigting van die Gazette, wat boonop al hoe meer Engels geraak het, was ’n aansporing vir ’n Portugees-Hollandse Jood, J. Suasso da Lima, om in 1826 te begin met ’n weekblad wat baie op die ou gewaardeerde Kaapsche Courant gelyk het.

Da Lima is die skrywer van Geschiedenis van de Kaap de Goede Hoop (1823), die eerste geskiedenisboek wat in Suid-Afrika verskyn het. Hy het Nederlands hartstogtelik liefgehad en was digter van die bundel Gedichten (1821) en Nieuwe Gedichten (1840): “O Heil’ge dierbre moedertaal, / Zoo rijk als wel verheven, / Geen vreemde of geleerde praal, / Behoeft u kracht te geven.” In 1844 het hy ook vir Afrikaans in die bresse getree in ’n brosjure De taal der Kapenaren verdedigd.

Van 1 Januarie 1827 af het Da Lima sy koerant die Kaapsche Courant, Afrikaansche Berigter of De Verzamelaar genoem. Hy was egter ’n swak sakeman en op 6 Maart 1830 was hy bankrot. Een van sy skuldeisers, P. van Breda, het op sy drukpers beslag gelê. Op dié pers het ’n nuwe koerant op 9 April 1830 begin verskyn: De Zuid-Afrikaan. Intekenaars op De Verzamelaar (wat in 1834 en van 1839 tot 1848 herleef het), het De Zuid-Afrikaan ontvang tensy hulle die blad bedank.

Die stigters van die tweetalige weekblad De Zuid-Afrikaan was adv. CJ Brand, ’n leier van die Kaapse Afrikaners, en ds. Abraham Faure. Dit was nie Faure se eerste blad nie. In 1824 het hy saam met Pringle en Fairbairn twee tydskrifte opgerig: die South African Journal (Januarie en Februarie 1824) en Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift (1824-1843). Op die platteland was daar heelparty lesers. Onder die hoofsaaklik godsdienstige en historiese artikels was dele van Van Riebeeck se dagverhaal. Petronella Camijn (gebore Faure, niggie van ds. Faure) beskryf in 1808 ’n besoek aan die Kangogrotte of Druipkelder. Sy wou amper eers vlug, maar toe een van die mans erken hy is net so bang, het sy vasgebyt. Ná twee uur moes hulle terugkeer omdat die kerse byna op was en hulle sonder lig nie die pad boontoe sou vind nie.

Miskien het ’n tikkie taaltrots en verset die lotgevalle van die tydskrif beïnvloed. Die plan was dat die Tijdschrift die koste van die Engelse uitgawe moes help dra, want die Afrikanerbevolking was tien keer so groot as die Engelse deel. Die Engelse uitgawe is ná sy twee nommer gestaak weens ’n botsing met die goewerneur, lord Charles Somerset. Die Tijdschrift het ná sy sesde nommer aangekondig dat hy voorlopig publikasie staak. ’n Engelse blad het ’n triomflied oor sy ondergang geplaas. Daarop het 23 Afrikaners Faure per brief gevra om die blad voort te sit. Hulle sou die koste help dra. Later was daar sewentig borge.

’n Sindikaat van tagtig aandeelhouers het aanvanklik De Zuid-Afrikaan beheer. Dit het op 9 April 1830 met publikasie begin. Dit was eers ’n tweetalige weekblad, maar het al hoe meer Hollands geraak en ná twee amalgamasies bestaan totdat dit op sy honderste verjaardag in 1930 gestaak is. (Toe was die naam De Zuid-Afrikaan, vereenigd met Ons Land, kortweg Ons Land.)

De Zuid-Afrikaan is onder meer gestig omdat die Afrikaners ’n mondstuk nodig gehad het in die ideologiese stryd aan die Kaap. De Zuid-Afrikaan en die Commercial Advertiser het gebots oor die Jean Jacques Rousseau-filosofie van die edele barbaar aan die een kant, en die idee dat daar onderskeid getref moet word tussen Christen en heiden. Sentraal in dié stryd was die omstrede “dr.” John Philip met sy gekoopte doktorsgraad.