Afrikaners in vakbonde

Afrikaners in diaspora
January 23, 2015
Op reis met oom Paul
January 23, 2015

Waar was die duisende Afrikaners wat die stad binnegestroom het? “In die agterbuurte, saamgehok in skandelike huise, donker, onhigiënies, vuil. Die mense is honger, beroerd, bang. Hulle werk in fabrieke, by die dokke, oral waar hulle maar ’n werkie kan kry. Hulle klop bedelend aan my deur. Ek kry familie na familie, waar die kinders kaalvoet, honger en koud rondloop, waar die ouers in stygende ellende en wanhoop hulle dae verslyt.”

Dit skryf die Kaapse vroue-arts dokter Petronella van Heerden, in 1938 in ’n artikel in Die Klerewerker, spreekbuis van die Klerewerkersunie. Haar woorde is tekenend van die kommer van baie denkende Afrikaners oor die lot van hul volksgenote.

Baie was soos Van Heerden besorg oor die armoede as sodanig, terwyl ander ook gevrees het vir die verdwyning van die Afrikaners as volk, veral weens verengelsing. Allerlei ondernemings is aangepak om mense volks- en taallojaal te hou. Een daarvan was Afrikaanse vakbonde soos die Spoorbond en die Afrikanerbond van Mynwerkers.

Die opskrifte by twee hoofberigte van Die Burger laat blyk iets van die kommer wat die stigters van die Afrikaanse vakbonde laat optree het: “Afrikaners wat vir volk verlore raak” (22 Augustus 1936) en “Verlore vir hul volk en kerk/ Ontsettende probleem van afdwaling” (26 Augustus 1936). Doktor PJ Meyer, hulpsekretaris van die FAK, het volgens een van dié berigte die belangrikheid daarvan beklemtoon om die tienduisende Afrikaners wat aan die Rand in die myne, fabrieke en ambagte werk, te organiseer deur middel van Afrikaner-werkersunies. Behalwe Meyer was doktor Albert Hertzog, seun van generaal JBM Hertzog, aktief in dié vakbondaktiwiteite.

Oor Afrikaanse vakbonde was die Afrikaanse kultuurlewe verdeeld. Mense soos die skrywers CM van den Heever en Abraham Jonker was daarteen, maar NP van Wyk Louw het die Afrikanerbond van Mynwerkers beskou as die begin van ’n groot stuk opbouwerk. Dit was volgens hom ’n poging om die mynwerkers “Afrikaans te hou in hart en daad” en ’n beweging waarteenoor die Taalbeweging klein sou lyk.

Onder die sterk teenstanders was Petronella van Heerden. Sy doen in 1938 in Die Klerewerker ’n striemende aanval op die kapitalisme en partye soos die Smelters en Gesuiwerdes, wat sy kapitalisties noem. Die redding van die werkers lê in saamstaan in vakbonde waarin alle groepe saamwerk. Daarom was sy gekant teen Afrikanervakbonde, wat die werkers se posisie verswak.

Die Afrikanerbond van Mynwerkers het ’n vroeë dood gesterf toe die Kamer van Mynwese geweier het om dit te erken.

Blankes het die hande-arbeid begin verrig wat party van hulle vroeër so verafsku het. Ongeskoolde wittes het staatsprojekte uitgevoer soos die bou van spoorlyne in die jare twintig. Wit werkers was die bouers van die Vaalharts-besproeiingskema, waarmee in 1935 begin is. Water vloei van die Vaalrivier af na die Hartsriviervallei, wat naby Warrenton 137 meter laer geleë is as die Vaal. Baie mense het op die paaie gewerk, wat DF Malherbe in “Padwerkers (1933)” laat skryf het: “Die vadere was fier/ die vadere was vry,/ ons graaf ons al vaster/ in slawerny.”