Afrikaners in diaspora

Beeldende kunstenaars
January 23, 2015
Afrikaners in vakbonde
January 23, 2015

Van 1937 tot 1939 het groepies Afrikaners per skip in Kaapstad aangekom uit Argentinië wat 35 jaar lank hul vaderland was. Dit was een van ’n paar lande waarheen Afrikaners ná die Anglo-Boereoorlog geëmigreer het omdat hulle nie onder die Britse vlag wou bly nie. Party is na Duits-Wes (Namibië) en het die getalle van die Afrikaners versterk, wat in die 1880er- en 1890erjare daarheen is. Ander is na Duits-Oos-Afrika (vandag Tanzanië), en ’n paar honderd na Argentinië. ’n Aantal van laasgenoemdes het ná sowat drie dekades teruggekeer. Die res is langsamerhand in die bevolking opgeneem. Tog het sommige individue hul taal hardnekkig gehandhaaf. In 1973 was daar onder ’n stuk of 50 staatsamptenare uit Argentinië, Uruguay en Paraguay wat Suid-Afrika besoek het, ook doktor en mevrou Michel Eloff, afstammelinge van die emigrante. Hulle het suiwer Afrikaans gepraat, hoewel Spaans hul huistaal was.

Die Huisgenoot het op 9 Julie 1937 geskryf dat die terugkerende Argentynse Afrikaners treffende bewys lewer van volksbewussyn en volkstrots; “want hulle is na byna ’n menseleeftyd nie opgelos in die kosmopolitiese samelewing van die land waar hulle gewoon het nie, hoewel gebrek aan onderwysgeleentheid en baie ander faktore sterk daartoe meegewerk het. Hierdie standvastigheid versterk die vertroue dat die Afrikaner hom op die duur sal kan handhaaf ondanks die tekens van ruggraatloosheid wat ’n mens allerweë bespeur.”

Onder die bekendstes in Duits-Oos (Tanzanië) was ’n beroemde guerillaleier uit die Anglo-Boereoorlog, generaal Wynand Malan. Sy oorlogsherinneringe is in 1939 en 1940 in Die Huisgenoot geplaas en daarna in Ons Geskiedenis-serie as Oorlogsavonture van generaal Wynand Malan uitgegee. Malan was byna ’n jaar in Suid-Afrika vir die onderhoude met HJC Pieterse (Déki), ’n onderwyser van die Hoërskool Maitland. Pieterse het self ook in Tanganjika skoolgehou. Nog ’n pionier was PC Joubert, oud-lid van die Transvaalse Volksraad (My tweede vryheidstryd).

’n Ander skrywer met Oos-Afrikaanse verbintenisse is die Hertzogpryswenner Sangiro (AA Pienaar), wat as twaalfjarige saam met sy ouers getrek en daar die veld en diere leer liefkry het. Sy bekendste werk is Uit oerwoud en vlakte. Sy moeder, mevrou Martha Johanna Pienaar, was ’n broerskind van die Voortrekker-leier Andries Pretorius. Haar dagboek is onder die titel Baanbrekers in die maal-stroom deur HJC Pieterse uitgegee.

Van ander aard is die opsienbarende werke van Koos Prinsloo, gebore in 1957 in Eldoret, Kenia. Hy het in 1982 met Jonkmanskas gedebuteer. In sy later werke gee hy ’n robuuste uitbeelding van die lewenstyl van sommige homoseksuele. Sy Oos-Afrikaanse herkoms speel ’n rol in party verhale.

Afrikaners is in die negentiende eeu in talle trekke na die noorde. Daaronder was die Dorslandtrekke en minstens tien trekke na Rhodesië, die huidige Zimbabwe. Op plekkies soos Melsetter en Enkeldoorn (waar daar net een enkele groot doringboom op die bult gestaan het) was Afrikaners soms die meerderheid. Morgenster was die oudste en grootste NG sendingstasie in Zimbabwe.