Afrikaners aanvaar die kapitalisme

Volksgevoel en kultuur
January 24, 2015
Anton Rupert vorder skouspelagtig
January 24, 2015

Een uitvloeisel van die Ossewatrek was die Ekonomiese Volkskongres van 5 tot 7 Oktober 1939 in Bloemfontein. Die FAK het die kongres op versoek van die Broederbond gereël, en 757 mense uit alle dele van die land het dit bygewoon. Die voorsitter was dominee WM Nicol en die beskermheer doktor JD Kestell. Kestell het gesê: “Ons behoort aan mekaar – ons, die kleine Boerevolk hier in Suid-Afrika, en dit dryf ons uit om toe te snel tot hulp van ons broers en susters wat in nood is, om hulle te help om hulleself te help. Ons doen dit in die vaste oortuiging dat ons as volk onsself moet red.”

Dié kongres (later bekend as die Eerste Ekonomiese Volkskongres) met die leuse: “’n Volk red homself!” was ’n keerpunt vir Afrikaners, omdat dit ’n houdingsverandering teenoor kapitalisme ingelui het, sê die historikus Hermann Giliomee. Afrikaners, ook die Nasionale Party, was teen die kapitalisme. Baie het gevoel dat sakeleiers liewer Mammon wil dien as die Afrikaner. Professor LJ du Plessis van Potchefstroom, ’n toonaangewende figuur in die Broederbond, het op die kongres gesê die groot taak is om die volk te mobiliseer om die kapitalisme te aanvaar en dit by die volksaard te laat aanpas.

Die kongres het drie instellings geskep: die Reddingsdaadbond (RDB), Federale Volksbeleggings (FVB), ’n finansieringshuis wat deur Sanlam beheer is en die Ekonomiese Instituut. Een van laasgenoemde se eerste besluite was die skepping van die Afrikaanse Handelsinstituut. Dit het gebeur op 24 Augustus 1942 in Bloemfontein. Die man wat dit in 1939 bepleit het, doktor JG (Kaalkop) van der Merwe, was die eerste voorsitter. Hy het ook die blad Volkshandel opgerig. Die doel van die AHI was om die jong ongeorganiseerde Afrikaanse sake, veral op die platteland, te verenig in een organisasie. Die AHI sou as spreekbuis vir hulle dien, voorligting gee en hul belange bevorder.

Die RDB is op 8 Desember 1939 gestig met doktor N Diederichs as hoofleier. Duisende Afrikaners het gereeld uit hul karige inkomste bygedra; kinders het soms elke maand klein bedraggies afgeknyp en gespaar. In sy eerste vyf jaar het die RDB byna 400 takke met 70 000 lede gestig, by die £140 000 ingesamel en honderde ondernemings regstreeks of onregstreeks geskep. Duisende het werk gekry. In FVB is £36 050 belê. Die RDB het saam met die FAK ook die blad Inspan opgerig. Dit het van Oktober 1941 tot in 1948 bestaan en sy lesers ingelig oor aktuele sake.

Die dryfkrag agter FVB was doktor MS Louw van Sanlam. Hy het besef dat die Afrikaner nie kapitaalkragtig genoeg was om groot ondernemings te finansier nie. Om kapitaal te mobiliseer, moes klein bydraes van ’n groot groep mense saamgevoeg word. Hy het Sanlam se polishouers kans gegee om die winste wat aan hulle toedeelbaar was, te omskep in kontantbonusse met die opsie om daarmee aandele te koop in Bonus Beleggings Korporasie (Bosnuskor). Die polishouers was so geesdriftig oor die plan dat Bonuskor ná nege maande  £250 000 opbetaalde kapitaal gehad het.