Afrikanerprotes teen apartheid

Die tuisland-beleid
January 25, 2015
’n Ekonomiese wonderwerk
January 25, 2015

Van vroeg af het party Afrikaners apartheid teengestaan, onder andere die teoloë professor Ben Marais van Pretoria en professor BB Keet van Stellenbosch. Keet, een van die vertalers van die Afrikaanse Bybel, het in 1955 in Suid-Afrika waarheen? betoog dat die beleid nie onbepaald gehandhaaf kon word nie. Gebiedskeiding is onprakties en selfs onchristelik omdat dit die ontworteling van miljoene sou meebring. Ander openlike kritici van apartheid of aspekte daarvan was die filosowe DSC Oosthuizen van Rhodes en JJ Degenaar van Stellenbosch, die Potchefstroomse akademici DW Krüger, LJ du Plessis en JH Coetzee en die skrywers Uys Krige en Jan Rabie.

Die eerste groot openbare verset, in 1960, het van twee kante gekom – taalbewuste Afrikaners wat ongelukkig was oor die beleid teenoor die bruin mense en kerkmanne. Die Burger met Piet Cillié as redakteur het op 4 April 1960 gewys op ’n opvallende verbetering in die gesindheid tussen Afrikaners en bruin mense. Baie Afrikaners het gemeen dat die plek van die bruin mense in die ekonomie en politiek nie finaal kan wees nie. Dominee DP Botha van die NG Sendingkerk het op 12 April 1960 in Die Burger geskryf dat, om toe te gee dat die bruin mense organies deel van die Afrikaner is, geen kapitulasie is nie.

Ná dié brief het Koos Human en Leon Rousseau van die nuwe Kaapse uitgewery Human & Rousseau Botha genader om ’n boek hieroor te skryf. Van Wyk Louw is gevra om ’n voorwoord te lewer. Louw het gesê dat hy Die opkoms van ons derde stand “met stygende opwinding” gelees het. “Die bruinmense is óns mense, hóórt by ons. Hoogtepunte in hierdie boek, waar die trane in ’n mens se oë kom, is die paar sober mededelings van hoe daar in die verlede waar die Afrikaner gely het, sy bruin broer by was om saam te ly.” Louw skryf dat hy ’n innige begeerte, “nee, ’n hartstogtelike wil”, het dat “my volk, blank en bruin, en die taal wat ons praat, in hierdie land bly voortbestaan. En dit is óns wat bedreig word; ons swart vriende, glo ek, is van hul eie voortbestaan deeglik versekerd.”

Van Wyk Louw was ’n man met besondere statuur. Dat hy ten gunste van integrasie met die bruin mense was, het groot invloed op intellektuele gehad. Onafhanklik van Louw het ander, veral Cillié en ander redaksielede van Die Burger, die gedagte aan groter eenheid gesteun. In November en Desember 1960 het verskeie briewe in Die Burger verskyn waarin regstreekse verteenwoordiging van bruin mense in die Parlement bepleit is.

Maar Verwoerd het die gedagte afgewys toe hy gereageer het op Botha se boek, asook ’n boek deur ’n aantal predikante van die Afrikaanse kerke, Vertraagde aksie. Dit is aangebied as ’n “Christusgetuienis” teen apartheid uit die Afrikaanse kerke “voor die eie, die anderstalige en die anderskleurige geloofsgenote in ons eie land en die hele wêreld”. Verwoerd het verklaar dat die regering en leiers “soos mure van graniet moet staan omdat die voortbestaan van die volk op die spel staan”. Hy het gemeen dat politieke integrasie van wit en bruin die weg sou open vir politieke integrasie met die swartes en dat dit tot die ondergang van die blankes sou lei.